Sagaria 1
Afrikaans PWL
1In die agtste maand van die tweede jaar van Daryavesh, het die boodskap van יהוה gekom tot Z’kharyah, die profeet, die seun van Berekhyah, die seun van `Iddo en gesê: 2יהוה was baie kwaad vir julle vaders. 3Sê daarom vir hulle: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “Keer terug na My,” verklaar יהוה-Tzva’ot, “dat Ek na julle toe kan terugkeer,” sê יהוה-Tzva’ot. 4“Moenie soos julle vaders wees nie, vir wie die vroeëre profete verklaar en gesê het: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “Draai nou terug van julle bose lewenswyse en julle bose dade,”’ maar hulle het nie geluister of My gehoorsaam nie,” verklaar יהוה. 5Julle vaders, waar is hulle? Die profete, leef hulle vir ewig? 6Het My boodskap en My instellings, wat Ek My knegte, die profete, beveel het, egter nie julle vaders ingehaal nie? Toe het hulle erken en bely en gesê: “Soos יהוה-Tzva’ot Hom voorgeneem het om aan ons te doen volgens ons lewenswyses en ons dade, so het Hy met ons gedoen?”’”

7Op die vier en twintigste dag van die elfde maand, wat die maand Sh’vat is, in die tweede jaar van Daryavesh, het die boodskap van יהוה tot Z’kharyah, die profeet, die seun van Berekhyah, die seun van `Iddo, as volg gekom: 8In die nag het ek gesien en let op, ’n man het op ’n rooi perd gery en hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die kloof was, met rooi, bont en wit perde agter hom. 9Toe sê ek: “My meester, wat is hierdie?” Die boodskapper wat met my gepraat het, antwoord my: “Ek sal jou wys wat hierdie is.” 10Die man wat tussen die mirtebome gestaan het, het geantwoord en gesê: “Hierdie is hulle wat יהוה gestuur het om die aarde te patrolleer.” 11Hulle het die boodskapper van יהוה, wat tussen die mirtebome gestaan het, geantwoord en gesê: “Ons het die aarde gepatrolleer en let op, die hele aarde is vredevol en rustig.”

12Toe het die boodskapper van יהוה gesê: “O יהוה-Tzva’ot, hoe lank sal U geen liefdevolle omgee hê vir Yerushalayim en vir die stede van Y’hudah, waarmee U hierdie sewentig jaar verontwaardig was nie?” 13יהוה het die boodskapper wat met my gepraat het, met gunstige, vertroostende woorde geantwoord. 14Die boodskapper wat met my gepraat het, het vir my gesê: “Verkondig en sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “Ek is uitermate jaloers oor Yerushalayim en oor Tziyon, 15maar Ek is baie kwaad vir die gemaklike nasies, want terwyl Ek net ’n bietjie kwaad was, het hulle die ramp aangehelp;” 16daarom, so sê יהוה: “Ek sal terugkom na Yerushalayim met liefdevolle omgee; My huis sal daarin gebou word,” verklaar יהוה-Tzva’ot, “en ’n maatband sal oor Yerushalayim uitgestrek word.”’ 17“Verkondig weer en sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: “My stede sal weer oorloop met voorspoed en יהוה sal Tziyon weer vertroos en Yerushalayim weer kies.”’”

18(2:1) Toe het ek my oë opgelig en gekyk en let op: vier horings. 19(2:2) Toe sê ek vir die boodskapper wat met my gepraat het: “Wat is hierdie? Hy antwoord my: “Dit is die horings wat Y’hudah, Yisra’el en Yerushalayim verstrooi het.” 20(2:3) Toe wys יהוה vir my vier vakmanne. 21(2:4) Ek het gesê: “Wat kom hulle doen?” Hy antwoord: “Hierdie is die horings wat Y’hudah só verstrooi het dat niemand sy kop oplig nie, maar hierdie manne het gekom om hulle bang te maak, om die horings van die nasies neer te gooi wat hulle horings teen die land van Y’hudah opgelig het om dit te verstrooi.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Haggai 2
Top of Page
Top of Page