Romeine 5
Afrikaans PWL
1Omdat ons onskuldig verklaar is, sal daar daarom deur vertroue, vir ons vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid by God wees deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, 2want in Hom is ons, deur vertroue, in hierdie onverdiende guns in gebring, waarin ons staan en ons verheug ons in die versekerde verwagting van die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van God. 3Nie alleen so nie, maar ons verheug ons ook in die pyniginge omdat ons weet dat die pyniginge, uithouvermoë in ons vervolmaak, 4en die uithouvermoë vervolmaak ondervinding en die ondervinding vervolmaak versekerde verwagting 5en die versekerde verwagting beskaam nie omdat die oorlopende liefde van God reeds in ons verstand, wil en emosie uitgestort is deur die Gees van Afsondering wat aan ons gegee is.

6Waarlik, Die Gesalfde Een het ter wille van ons swakheid, op díé tyd, in die plek van bose mense gesterf. 7Iemand sal moeilik vir ’n bose sterf; vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterf. 8Hierin wys God Sy liefde vir ons: dat Die Gesalfde Een in ons plek gesterf het toe ons sekerlik nog sondaars was. 9Hoeveel te meer sal ons, nou dat ons onskuldig verklaar is in Sy bloed, deur Hom gered word van die toorn, 10want as ons verhouding met God, terwyl ons nog vyande was, deur die dood van Sy Seun, herstel is, hoeveel te meer sal ons deur Sy Lewe leef noudat ons verhouding herstel is. 11Nie alleen dit nie, maar ons roem ook in God deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, want dit is in Hom wat ons nou die herstel van ons verhouding ontvang het,

12net soos deur die hand van een mens die sonde in die heelal ingekom het en deur die sonde die dood en die dood só na alle mense toe deurgekom het omdat almal gesondig het. 13Tot by die geskrewe wet wás daar al sonde in die wêreld, maar dit is nie as sonde toegereken nie omdat daar geen geskrewe wet was nie, 14maar die dood het geheers van Adam af tot by Moshe, ook oor hulle wat nie presies gesondig het in die oortreding van ’n opdrag soos Adam, wat ’n beeld is van Hom wat sou kom, nie.

15Die onverdiende geskenk is nie dieselfde as die oortreding nie, want as deur die oortreding van die één baie dood is, hoeveel te meer het die onverdiende guns van God in oorvloed na baie gekom deur die geskenk, deur onverdiende guns, van die een Mens, Yeshua, Die Gesalfde Een. 16Die gevolg van die geskenk is nie dieselfde as die gevolg van één se sonde nie, want deur één het oordeel gekom tot verdoeming, maar die onverdiende geskenk is vir baie oortredinge tot verklaring van onskuld, 17want as die dood, as gevolg van die oortreding van die één, geheers het deur die één, veel meer sal húlle, wat die oorvloedigheid van die onverdiende guns ontvang, wat die geskenk van onpartydige opregtheid is, heers in dié lewe deur die Één, Yeshua, Die Gesalfde Een;

18daarom dan, net soos alle mense skuldig bevind is deur een se oortreding, so ook sal daar deur die onpartydige opregtheid van Een, oorwinning tot lewe wees vir alle mense, 19want net soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie sondaars geword het, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie onskuldig word. 20Die geskrewe wet is bygevoeg sodat die sonde meer sou word en waar die sonde meer geword het, het die onverdiende guns nog uitermate meer geword 21sodat, net soos die sonde geheers het deur die dood, so ook die onverdiende guns kan heers deur onpartydige opregtheid tot die ewige lewe deur ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 4
Top of Page
Top of Page