Romeine 12
Afrikaans PWL
1My broers, daarom smeek ek julle, deur die guns van God dat julle jul liggame beskikbaar stel as lewende, afgesonderde en aanvaarbare offers vir God; dit is julle logiese dienswerk 2en moenie hierdie wêreld navolg nie, maar word verander deur die vernuwing van julle denke en julle sal kan onderskei wat die goeie, aanvaarbare en volmaakte wil van God is.

3Deur die onverdiende guns wat aan my gegee is, sê ek vir julle almal dat julle nie van julself meer moet dink as wat ’n mens behoort te dink nie, maar dat julle aan julself dink in nederigheid volgens die maat van vertroue wat God aan elkeen uitgedeel het, 4want net soos ons in een liggaam baie lede het, maar die lede nie almal dieselfde funksie het nie, 5so is ons almal saam een liggaam in Die Gesalfde Een, maar elkeen afsonderlik lede van mekaar. 6Ons het verskillende gawes volgens die onverdiende guns wat aan ons gegee is: daar is dié van profesie, na die maat van sy vertroue; 7daar is dié van bediening, vir die een in Sy bediening; daar is dié van lering, wie in Sy lering is; 8daar is dié van ’n vertrooster, wat in Sy vertroosting is; ’n gewer in vrygewigheid; ’n leier met ywerigheid; daar is dié vir een wat omgeedade bewys met blymoedigheid.

9Laat jou liefde sonder misleiding wees, haat wat boos is en klou aan die goeie; 10wees jy aangetrokke teenoor jou broers en wees lief vir mekaar; gaan jy voor in die eerbetoning van mekaar; 11wees jy fluks en nie lui nie; wees jy entoesiasties van gees in jou werk vir die Meester; 12wees jy vreugdevol in die versekerde verwagting; hou uit in jou moeilikheid; volhard voortdurend in gebed; 13wees jy ’n deelgenoot aan die behoeftes van die afgesonderdes; wees jy gasvry teenoor vreemdelinge;

14seën dié wat jou vervolg, seën en moenie vervloek nie; 15wees bly saam met die wat bly is en huil saam met die wat huil; 16wat jy ook al van jouself dink, dink net so van jou broers; moenie jouself hoog ag nie, maar assosieer met die nederiges; moenie wys wees in jou eie opinie nie; 17moenie iemand se boosheid met boosheid terugbetaal nie, maar dit moet vir jou belangrik wees om goed te doen voor alle mense. 18As dit moontlik is, sover dit van jou afhang, maak vrede met alle mense. 19Moenie self wraak neem nie, julle vir wie ons lief is, maar gee plek vir die wraak, want daar is geskrywe: “As jy nie self oordeel sal uitspreek nie, sal Ek namens jou oordeel, sê God.” 20As jou vyand honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want deur dit te doen sal jy vurige kole ophoop op sy kop. 21Laat jou nie deur die bose oorweldig nie, maar oorkom die bose deur die goeie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Romans 11
Top of Page
Top of Page