Openbaring 4
Afrikaans PWL
1Let op, ná hierdie dinge het ek ook ’n oop deur in die hemel gesien en die eerste Stem, wat ek soos ’n ramshoring met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen en Ek sal jou wys wat bepaal is om ná hierdie dinge te gebeur.” 2Dadelik was ek in die Gees en, let op, daar staan ’n troon in die hemel en op die troon sit Hy! 3Hy wat daarop sit het soos die stene rooi-kwarts-jaspis en rooi en wit sardius (robyne) gelyk en rondom die troon, wat gelyk het soos ’n smarag, was ’n reënboog. 4Rondom die troon was daar vier en twintig trone en op die trone het die vier en twintig oudstes gesit, aangetrek in wit klere en met goue krone op hulle koppe

5en daar het weerligte, donderslae en stemme vanuit die troon uitgegaan en sewe brandende lampe was voor dit, wat die sewe Geeste van God is. 6Voor die troon was daar ’n see van glas wat soos kristal gelyk het en in die middel, rondom die troon, was daar vier wesens vol oë van voor en van agter. 7Die eerste wese was soos ’n leeu, die tweede wese het gelyk soos ’n kalf, die derde wese het ’n gesig gehad soos van ’n mens en die vierde wese het gelyk soos ’n arend wat vlieg. 8Die vier wesens het gestaan en elkeen het ses vlerke aangeheg gehad, wat rondom en van binne vol oë was en hulle het dag en nag nie stilgebly nie en gesê: “Afgesonderd, Afgesonderd, Afgesonderd is יהוה-God wat alles vashou; Hy wat is en wat was en wat kom!” 9Wanneer die wesens eer, lof, aanbidding, waarde en aanvaarding van onverdiende guns gee aan Hom wat op die troon sit, wat vir tydlose ewigheid lewe, dit is waar, 10val die vier en twintig oudstes neer voor Hom wat op die troon sit en aanbid die Lewende Een tot in tydlose ewigheid, dit is waar. Hulle gooi hulle krone voor die troon terwyl hulle sê: 11“U is waardig, ons Meester en ons God, om die eer, lof, aanbidding en die krag te ontvang, want U het alles geskep en vir U plesier bestaan hulle en is hulle geskep.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 3
Top of Page
Top of Page