Openbaring 2
Afrikaans PWL
1Skryf vir die boodskapper van die gemeente in Efesos: ‘Dít sê Hy wat sewe sterre in Sy hand hou, wat loop tussen die goue kandelare:

2“Ek ken jou dade, jou harde werk en jou geduld, dat jy bose mense nie kan verdra nie en dat jy dié getoets het wat sê dat hulle afgevaardigdes is en dit nie is nie en gevind het dat hulle vals is 3en dat jy volhard en uithou ter wille van My Outoriteit en Karakter (Naam) en nie moeg geword het nie, 4maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. 5Onthou van waaruit jy gekom het en doen die dade van vroeër, anders kom Ek teen jou en Ek sal jou kandelaar wegvat as jy nie wegdraai van jou sonde na God toe nie, 6maar dit het jy, dat jy die dade van Nikolaita haat, wat Ek ook haat.” 7Hy wat ore het, luister wat die Gees vir die gemeentes sê: “Aan die wat die oorwinning behaal, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe, wat in God se paradys is”.’

8Skryf vir die boodskapper van die gemeente in Smurna: ‘Dít sê die Eerste en die Finale, wat dood was en lewe:

9“Ek ken jou lyding en jou armoede, maar jy is ryk; Ek ken ook die kwaadpraat van dié wat sê dat hulle Jode van Y’hudah is terwyl hulle dit nie is nie, maar deelgenote van die teëstander. 10Moenie bang wees vir enige iets wat jy gaan ly nie. Let op, die teëstander gaan sommige van julle in die tronk gooi om getoets te word en julle sal tien dae lank lyding hê. Wees vol vertroue tot die dood toe en Ek sal vir jou ’n kroon van lewe gee”.’ 11Hy wat ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees vir die gemeentes sê: “Die wat volhard totdat die oorwinning behaal is, sal nie deur die tweede dood seergemaak word nie”.’

12Skryf vir die boodskapper wat in die gemeente in Pergamos is: ‘Dít sê Hy wat die skerp swaard met twee snykante het:

13“Ek ken die plek waar jy bly, waar die troon van die teëstander is, dat jy steeds vashou aan My Outoriteit en Karakter en My vertroue nie verwerp het nie; in die tyd toe jy en My getroue getuie gestry het namens al My getroue getuies, is hy vermoor tussen julle, 14maar Ek het sekere dinge teen jou: dat jy mense daar het wat vashou aan die leer van Bil’am, wat vir Balak geleer het om ’n struikelblok voor die kinders van Yisra’el te gooi, om offers aan afgode te eet en om seksueel immoreel te wees. 15Jy het ook, net so, mense wat vashou aan die leer van Nikolaita. 16Draai daarom terug, anders kom Ek dadelik op jou af en sal met die swaard van My mond teen julle oorlog maak.” 17Hy wat ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees vir die gemeentes sê: “Aan hom wat die oorwinning behaal, sal Ek gee om te eet van die versteekte ‘man hu’ en Ek sal vir hom ’n wit klippie gee en op dié klippie is ’n nuwe naam (karakter en outoriteit) geskryf wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit kry”.’

18Skryf vir die boodskapper wat in die gemeente in Thuateira is: ‘Dít sê die Seun van God; Hy wat oë het soos vlamme van vuur en voete soos brons van die L’vanon:

19“Ek ken jou dade, jou liefde, jou vertroue, jou dienswerk, jou volharding en dat jou dade nou meer is as aan die begin, 20maar Ek het baie teen jou, want jy laat jou vrou, Izevel, wat van haarself sê dat sy ’n profetes is, toe om My diensknegte te leer en hulle te mislei om seksueel immoreel te wees en om offers aan afgode te eet 21en Ek het haar tyd gegee om te erken en weg te draai na God toe en sy het gekies om nie van haar seksuele immoraliteit af weg te draai nie. 22Let op, Ek gooi haar en dié wat met haar hoereer, in ’n kis, in groot lyding, as hulle nie hulle dade erken en wegdraai na God toe nie 23en haar kinders sal Ek doodmaak in die dood en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat die niere, verstand, wil en emosie deursoek en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy dade. 24Ek sê vir julle ander wat in Thuateira is, almal wat nie hierdie leer vashou en nie ‘die dieptes van die teëstander ken,’ soos hulle dit noem, nie: Ek sal geen ander las op julle lê nie. 25Hou daarom net vas totdat Ek kom. 26Aan hom wat volhard totdat die oorwinning behaal is en My dade doen, sal Ek outoriteit gee oor die nasies, 27om vir hulle ’n herder te wees met ’n ysterstaf. Soos erdegoed sal jy hulle stukkend slaan, want net so het Ek ook van My Vader ontvang 28en Ek sal vir hom die môrester gee. 29Hy wat ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees vir die gemeentes sê.’

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 1
Top of Page
Top of Page