Psalms 9
Afrikaans PWL
1Vir die musiekleier; op Muth-labben (By die dood van die seun): ’n gedig van Dawid, met instrumentale musiek.

2Ek wil יהוה met my hele verstand, wil en emosie, met uitgestrekte hande, loof en dank; ek sal van al U wonders vertel.

3In U wil ek bly wees en spring van vreugde; ek wil musiek maak en sing tot eer van U Naam (Karakter en Outoriteit), o Allerhoogste.

4Wanneer my vyande teruggedryf word, struikel en sterf hulle voor U Teenwoordigheid,

5want U het my regverdige saak en my doel bevestig; U het gaan sit op die troon, o regverdige Regter!

6U het die nasies bestraf, die wetsoortreders vernietig; U het hulle naam vir ewig en ewig uitgevee.

7Die vyande het omgekom in ewige puinhope en U het die stede ontwortel; selfs hulle nagedagtenis is vernietig,

8maar יהוה bestaan vir ewig voort; Hy het Sy troon vir oordeel voorberei

9en Hyself sal die wêreld oordeel in onpartydige opregtheid en die volke vonnis met gelykheid.

10יהוה sal ook ’n vesting wees vir die onderdrukte, ’n vesting in tye van moeilikheid

11en hulle wat U Naam (Karakter en Outoriteit) ken, sal hulle vertroue in U plaas omdat U, o יהוה, dié wat U soek, nie in die steek laat nie!

12Sing en maak musiek tot eer van יהוה wat in Tziyon bly; verkondig Sy dade onder die volke,

13want Hy het onthou om hulle bloed te vergeld; Hy vergeet nie die geroep van die geteisterdes nie.

14Betoon onverdiende guns aan my, יהוה, sien my pyniging deur hulle wat my haat, U wat my oplig uit die poorte van die dood

15sodat ek kan vertel van al U lofprysinge in die poorte van die dogter van Tziyon; kan juig oor U verlossing.

16Die nasies het gesink in die put wat hulle gemaak het; hulle eie voete is gevang in die net wat hulle gespan het.

17יהוה maak die oordeel bekend wat Hy uitvoer. Die wetsoortreder is verstrik in die werk van sy eie hande. Higgajon (Oordink dit).

18Die wetsoortreder en al die volke wat God vergeet, sal na Sh’ol gedraai word,

19want die behoeftige sal nie vir altyd vergeet word, die versekerde verwagting van die geteisterdes nie vir ewig verlore gaan nie.

20Staan op, יהוה, laat die mens nie seëvier nie; laat die nasies in U Teenwoordigheid geoordeel word! 21 Stel vir hulle ’n wetgewer aan, יהוה sodat die nasies kan weet dat hulle maar net mense is!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 8
Top of Page
Top of Page