Psalms 38
Afrikaans PWL
1’n Gedig van Dawid, met instrumentale musiek, as ’n herdenking. 2 O יהוה, bestraf my nie in U toorn en kasty my nie in U vurige woede nie,

2want U pyle het in my ingedring en U hand het swaar op my gedruk.

3Daar is geen heel plek in my vlees vanweë U toorn nie; daar is geen rus in my gebeente vanweë my sonde nie,

4want my oortredinge van die wet het oor my kop gegaan; soos ’n swaar las het hulle vir my te swaar geword.

5My wonde stink en sig vanweë my dwaasheid.

6Ek is krom gebuig en baie gepla; ek loop die hele dag en treur,

7want my lendene is vol ontsteking en daar is niks gesond in my vlees nie.

8Ek is verswak en ellendig; ek kreun van die wanhoop in my binneste.

9יהוה, al my begeertes is voor U en my gekreun is nie vir U verborge nie.

10My hart klop vinnig, my krag het my verlaat; die lig van my oë, ook dit is weg van my af.

11My vriende en dié wat my liefhet staan opsy vanweë my smart en my familie staan ver weg.

12Die wat my lewe soek, span strikke en die wat boosheid beplan, praat van vernietiging en hulle beplan die hele dag lank bedrog,

13maar ek, soos ’n dowe hoor ek nie en soos ’n stomme maak ek nie my mond oop nie.

14Ja, ek is soos ’n man wat nie hoor nie en in wie se mond geen argument is nie,

15want op U, יהוה, is my versekerde verwagting; U sal my antwoord, יהוה my God!

16Ek het gesê: “Laat hulle nie bly wees oor my nie! Hulle wat met my spot wanneer my voet struikel,”

17want ek is gereed om te val en my smart is voortdurend voor my.

18Ek sal my wetsoortredinge tot U bely, ek sal my reinig van my sonde,

19maar my vyande is lewenslustig en sterk en daar is baie wat my verkeerdelik haat.

20Dié wat kwaad vir goed vergeld, staan my teë omdat ek die goeie najaag.

21Verlaat my nie, o יהוה! My God, wees nie ver van my af nie!

22Maak gou om my te help, יהוה, my Redder!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 37
Top of Page
Top of Page