Psalms 119
Afrikaans PWL
1Gelukkig is hulle met integriteit en waarheid in hul lewenswandel, wat leef in die wet van יהוה.

2Gelukkig is hulle wat Sy getuienisse hou en Hom met hulle hele verstand, wil en emosie soek.

3Hulle doen ook geen boosheid nie; hulle leef in Sy lewenswyse.

4U het hulle beveel om U instruksies getrou uit te voer.

5Ag, as my lewenswyse maar gerig was om U instellings te hou,

6dan sal ek nie beskaamd staan, as ek al U opdragte uitgevoer het nie.

7Ek sal U loof met uitgestrekte hande in opregtheid van verstand, wil en emosie, wanneer ek U regverdige oordele geleer het.

8Ek sal U instellings hou; o, verlaat my nie heeltemal nie.

9Met wat sal die jongman sy lewenswyse onskuldig maak sodat Hy U opdragte kan uitvoer?

10Ek het U gesoek met my hele verstand, wil en emosie; laat my nie afdwaal van U opdragte nie.

11U woorde het ek beskerm in my verstand sodat ek nie teen U sal sondig nie.

12Geseënd is U, o יהוה! Leer my U instellings!

13Met my lippe het ek al U regverdige oordele oorvertel.

14Ek was verheug in die lewenswyse van U getuienisse; meer as in alle rykdom.

15Ek het U instruksies oordink en is bekend met U lewenswyses.

16Ek het U wet oordink sodat ek nie U boodskappe sal vergeet nie.

17Antwoord U dienskneg sodat ek kan lewe en U boodskappe gehoorsaam.

18Maak U my oë oop sodat ek wonderlike dinge vanuit U wet kan raaksien.

19Ek is ’n besoeker by U; steek nie U opdragte vir my weg nie.

20My lewe is stukkend van verlange na U oordele ten alle tye.

21U het die ander nasies bestraf en vervloek is hulle wat van U opdragte afdwaal.

22Verwyder veragting en disrespek van my af, want ek het U getuienisse gehou.

23Die leiers het gesit en beplan teen my, maar ek het U instellings oordink.

24Ek het ook U getuienisse en U goeie raad oordink.

25My lewe klou aan die stof; wek my op volgens U boodskap.

26Ek het my lewenswyses verklaar en U het my gehoor; leer my U instruksies!

27Laat my die werking van U wette verstaan en so U wonderdade oordink.

28My lewe smelt weg van depressie; versterk my volgens U boodskap.

29Verwyder van my die gebruike van die bose en leer my U wet.

30Ek het die pad van U waarheid gekies; U oordele het my verheug.

31Ek het vasgehou aan U getuienisse, o יהוה, maak my nie beskaamd nie!

32Ek het geleef in die metodes van U opdragte, want U het my verstand, wil en emosie oopgemaak.

33יהוה, leer my die werkinge van U opdragte en ek sal hulle tot die einde toe hou.

34Gee vir my insig en ek sal U wet hou, ja, ek sal dit nakom met my hele verstand, wil en emosie.

35Laat my loop op die pad van U opdragte, want daarin is ek bly.

36Draai my verstand, wil en emosie na U getuienisse en nie na begeerlikhede nie.

37Draai my oë weg dat hulle nie valsheid sal sien nie en wek my op in U lewenswyses.

38Maak U boodskap vas aan U dienskneg, wat U respekvol vrees.

39Draai my oneer weg, want U oordele is goed.

40Let op, ek het my verheug in U instruksies, wek my op in U onpartydige opregtheid.

41Laat U goedheid, U verlossing volgens U boodskap, ook na my toe kom, o יהוה

42sodat ek iets sal hê waarmee ek die een kan antwoord wat my beswadder, want ek vertrou in U boodskap.

43Laat die boodskap van waarheid nie van my mond weggaan nie, want ek het versekerde verwagting in U oordele.

44So sal ek U wet voortdurend hou, vir ewig en ewig

45en ek sal in vryheid lewe, want ek is verheug in U opdragte.

46Ek sal ook van U getuienisse voor konings bring en nie beskaam word nie

47en ek sal U opdragte, wat ek liefhet, oordink.

48Ek sal my hande oplig na U opdragte wat ek liefhet en U instellings oordink.

49Onthou die woord aan U dienskneg, waarop U my versekerde verwagting gegee het.

50Daarin is ek vertroos in my depressie, want U boodskap het my opgewek.

51Die arrogante het my baie onderdruk; tog het ek nie van U wet afgewyk nie.

52Ek het U oordele van ouds onthou, o יהוה en is vertroos.

53Afgryse het my aangegryp vanweë die bose wat U wet verlaat.

54U instellings is my liedere in die huis van my tydelike verblyf.

55Ek het U Karakter en Outoriteit in die nag onthou, o יהוה en het U wet gehou.

56Ek is vertroos omdat ek U opdragte gehou het.

57Ek het die dinge van יהוה oordink sodat ek U opdragte kan doen.

58Ek het U guns met my hele verstand, wil en emosie afgesmeek; red my volgens U boodskap.

59Ek het my lewenswyse oordink en my voete na U pad toe gedraai.

60Ek het myself voorberei en nie uitgestel om U opdragte te doen nie.

61Die strikke van die bose het my omring, maar ek het nie afgewyk van U wet nie.

62Om middernag staan ek op om U te loof met uitgestrekte hande as gevolg van U regverdige oordele.

63Ek is ’n vriend van almal wat U respekvol vrees en van hulle wat U instruksies bewaar.

64יהוה, die aarde is vol van U goedheid; leer my U instellings.

65U, יהוה, het goed gedoen aan U dienskneg, volgens U boodskap.

66Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek het U opdragte vertrou.

67Selfs voordat ek onderdruk was, het ek afgedwaal, maar ek het U boodskap gehou.

68U is goed en doen goed; leer my U instellings.

69Die onregverdigheid van die trotses het vermeerder, maar ek bewaar U instruksies met my hele verstand, wil en emosie.

70Hulle verstand, wil en emosie is dikvellig, maar ek verheug my in U wet.

71Dit is goed vir my dat ek nederig gemaak is sodat ek U instellings kon leer.

72Die wet van U mond is vir my beter as duisende dinge van goud en silwer.

73U hande het my gemaak en my gevestig; gee vir my onderskeiding sodat ek U opdragte kan leer

74sodat dié wat U repekvol vrees, mag sien en hul verheug, want ek het ’n versekerde verwagting in U boodskap.

75O יהוה, ek weet dat U oordele onpartydig opreg is en dat U my in U getrouheid nederig gemaak het.

76Laat U liefdevolle goedheid vir my tot troos wees volgens U boodskap aan U dienskneg.

77Laat U liefdevolle omgee na my toe kom sodat ek kan lewe, want U wet is vir my geleer.

78Laat die bose beskaamd staan, want hulle het my onregverdig verneder, maar ek het U instruksies oordink.

79Laat hulle wat U respekvol vrees, na my toe draai, saam met hulle wat U getuienisse ken.

80Laat my verstand, wil en emosie opreg wees in U instellings sodat ek nie beskaamd sal word nie.

81My lewe het verlang na U verlossing en my versekerde verwagting is in U boodskap.

82My oë wag op U boodskap, wanneer U my sal vertroos,

83want ek het alle ontering gely, tog het ek nie U instellings vergeet nie.

84Hoeveel is die dae van U dienskneg? Wanneer sal U oordeel uitoefen op hulle wat my vervolg?

85Die bose het ’n put vir my gegrawe, wat nie volgens U wet is nie.

86Al U opdragte is vertrouenswaardig; tog vervolg die bose my!

87Hulle het my amper vernietig op die aarde, maar ek het nie U instruksies verlaat nie.

88Wek my op volgens U liefdevolle goedheid; so sal ek die getuienis van U mond hou.

89U is vir ewig, o יהוה, U boodskap is gevestig in die hemele.

90U getrouheid is vir alle geslagte; U het die aarde gevestig en dit bly staan.

91Hulle hou vandag steeds aan volgens U oordele, want almal is U diensknegte.

92As u wet nie my oordenking was nie, dan sou ek gesterf het in my depressie.

93Ek sal U instruksies nooit vergeet nie, want hulle is my lewe.

94Ek behoort aan U, red my, want ek het U instruksies gehou.

95Die bose het op my gewag, om my te vernietig, maar ek verstaan U getuienisse.

96Ek het die einde van alle volmaaktheid gesien, maar U opdrag is baie wyd.

97Hoe lief het ek U wet, dit is die hele dag lank my oordenking.

98Maak my wyser as my vyande, want ek het U opdragte gehoorsaam.

99Gee my meer begrip as al my leermeesters, want U getuienisse is my oordenking.

100Ek verstaan meer as die oudstes, want ek hou U instruksies.

101Ek het my voete weerhou van elke bose pad sodat ek U opdragte mag doen.

102Ek het nie van U oordele afgewyk nie, want U het my geleer.

103Hoe soet is U boodskappe om te proe, soeter as heuning in my mond.

104Deur U instruksies kry ek verstand; daarom haat ek die lewenswyse van die bose.

105U boodskap is ’n lamp vir my voet en ’n lig op my pad.

106Ek het gesweer en ek sal dit doen, om U regverdige oordele te hou.

107Ek is baie verdruk; wek my op, o יהוה, volgens U boodskap!

108Wees bly oor die woorde van my mond, o יהוה en leer my U uitsprake.

109My lewe is voortdurend in U hande; ek vergeet nie U wet nie.

110Sondaars het ’n strik vir my gespan; tog het ek nie afgewyk van U opdragte nie.

111Ek het U getuienisse vir ewig as ’n erfenis geneem, want hulle is die vreugde van my verstand, wil en emosie.

112Ek het my verstand, wil en emosie daarop gerig om U instellings waarlik te doen, selfs tot die einde toe.

113Ek haat die bose, maar U wet het ek lief.

114U is my Skuilplek en my Skild; my versekerde verwagting is in U boodskap.

115Gaan weg van my, julle boosdoeners, sodat ek die opdragte van my God kan uitvoer!

116Versterk my volgens U boodskap en ek sal lewe en laat my nie beskaamd wees as gevolg van my versekerde verwagting nie.

117Help my en ek sal veilig wees en ek sal voortdurend let op U instellings.

118U het almal verwerp wat van U instellings afdwaal, want hulle gedagtes is bedrieëry.

119Onderhou U my en ek sal veilig wees en altyd U opdragte oordink.

120My vlees krimp ineen uit vrees vir U en ek is bang vir U oordele.

121U wat regverdige oordeel en regverdigheid toepas, los my nie in die hand van my onderdrukkers nie.

122Vertroos U dienskneg met goedheid; laat die arrogante nie sleg praat van my nie.

123My oë verlang na U verlossing en na die boodskap van U onpartydige opregtheid.

124Handel met U dienskneg volgens U goedheid en leer my U instellings.

125Ek is U dienskneg, gee my U begrip sodat ek U getuienisse kan ken.

126Dit is tyd om יהוה te dien, want hulle het U wet tot niks gemaak;

127daarom het ek U opdragte meer lief as goud, ja, meer as kosbare stene;

128daarom het ek al U instruksies lief en ek haat al die metodes van die bose.

129U getuienisse is wonderlik; daarom onderhou my lewe hulle.

130Maak U boodskap eenvoudig, gee lig en gee begrip aan die eenvoudiges.

131Ek het my mond oopgemaak en gehyg, want ek het verlang na U opdragte.

132Kyk af op my met onverdiende guns, want ek het U Naam (Karakter en Outoriteit) lief.

133Rig my voetstappe op U pad, laat die bose nie oor my heers nie.

134Bevry my van die onderdrukking van mense sodat ek U instruksies kan hou.

135Laat U gesig skyn oor U dienskneg en leer my U instellings.

136Riviere van water hardloop by my oë af, want mense onderhou nie U wet nie.

137U is regverdig, oיהוהen U oordele is reguit.

138U het U getuienisse in onpartydige opregtheid en betroubaarheid beveel.

139Ywer het my verteer omdat U vyande U boodskap vergeet het.

140U boodskap is baie suiwer; daarom het U dienskneg dit lief.

141Ek is klein en word verag, tog vergeet ek nie U instruksies nie.

142U onpartydige opregtheid is vir ewig en U wet is waarheid.

143Moeilikheid en angs het my beetgepak, tog het ek U opdragte oordink.

144Die onpartydige opregtheid van U getuienisse is vir ewig; gee vir my begrip en ek sal lewe.

145Ek het uitgeroep met my hele verstand, wil en emosie; hoor my, o יהוה! Ek sal U instellings bewaar.

146Ek het uitgeroep na U; red my en ek sal U getuienisse onderhou.

147Ek het opgestaan by die breek van die oggend en uitgeroep; ek het ’n versekerde verwagting in U boodskap.

148My oë is oop voor die nagwake sodat ek U boodskap kan oordink.

149Hoor my stem volgens U liefdevolle goedheid; o יהוה, wek my op volgens U oordele.

150Hulle kom nader wat bose planne najaag, hulle is ver van U wet af.

151U, o יהוה, is naby en al U opdragte is waarheid.

152Aangaande U getuienisse: ek het van ouds af geweet dat U hulle vir ewig gevestig het.

153Oorweeg my verdrukking en bevry my, want ek vergeet nie U wet nie.

154Oordeel my saak en bevry my; wek my op volgens U boodskap.

155Verlossing is ver van die bose, want hulle soek nie U instellings nie.

156Groot is U liefdevolle omgee, oיהוה, wek my op volgens U oordele.

157My vervolgers en my vyande is baie, nogtans wyk ek nie af van U getuienisse nie.

158Ek het die oortreders gesien en ek het geweet dat hulle nie U boodskap hou nie.

159Oorweeg hoe ek U instruksies liefhet; wek my op, o יהוה, volgens U liefdevolle goedheid.

160Die fondasie van U boodskap is waarheid en elkeen van U regverdige oordele duur vir ewig.

161Prinse het my sonder rede vervolg, maar my verstand, wil en emosie staan in ontsag vir U boodskap.

162Ek verheug my oor U boodskap, soos iemand wat baie buit vind.

163Ek haat en verafsku onwaarheid, maar U wet het ek lief.

164Sewe keer per dag loof ek U helder en duidelik as gevolg van U regverdige oordele.

165Hulle wat U wet liefhet, het groot vrede, voorspoed, vergenoegdheid en gesondheid en hulle sal geen swakheid hê nie.

166O יהוה, ek het ’n versekerde verwagting vir U verlossing en het U opdragte uitgevoer.

167My lewe het U getuienisse gehou en ek het hulle uitermate lief.

168Ek het U opdragte en U getuienisse gehou, want al my doen en late is voor U.

169Laat my uitroep voor U kom, o יהוה, red my volgens U boodskap.

170Laat my smeking voor U Teenwoordigheid kom; bevry my volgens U boodskap.

171My lippe sal U lofprysinge uiter, wanneer U my U instellings geleer het.

172My tong sal praat van U boodskap, want al U opdragte is onpartydig opreg.

173Laat U hand my help, want ek het my verheug in U instruksies.

174Ek het verlang na U verlossing, o יהוה en ek oordink U wet.

175Laat my lewe en ek sal U helder en duidelik loof en laat U oordele my help.

176Ek het verdwaal soos ’n verlore skaap; soek na U dienskneg, want ek vergeet nie U opdragte nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 118
Top of Page
Top of Page