Spreuke 7
Afrikaans PWL
1My seun, onderhou my boodskappe en bewaar my opdragte in jou;

2onderhou my opdragte en my wet soos die pupil van jou oog en lewe.

3Bind hulle om jou nek, skryf hulle op die tafel van jou verstand, wil en emosie.

4Sê aan die wysheid: “Jy is my suster” en aan insig: “Jy is my raadgewer”

5sodat hulle jou kan bewaar teen die vreemde vrou, van die vreemdeling, wat vlei met haar woorde,

6want sy het deur die venster van haar huis en vanaf die balkon uitgekyk

7en sy het vir jongmanne gekyk, sy het onder die jeug verken en ’n verstandelose jongman opgemerk,

8wat op die straat verbygaan naby die hoek van haar huis,

9in die skemer, in die aand, in die swart en donker nag.

10Let op, daar kom ’n vrou uit, soos ’n hoer aangetrek om een van hulle te ontmoet, ’n vrou wat die binneste van jong manne laat fladder.

11Sy is rebels en vraatsugtig, haar voete bly nie in haar huis nie,

12maar sy loop buitekant rond, nou buite in die strate, nou staan sy en wag op die hoeke.

13Sy het hom gegryp, hom gesoen en met ’n onbeskaamde gesig vir hom gesê:

14“Vandag het ek my geloftes betaal. Ek het vredesoffers by my;

15daarom het ek uitgekom om jou te ontmoet, want ek het gewag om jou te sien en nou het ek jou gekry.

16Ek het my bed op ’n mat opgemaak, dit met fyn linne uit Mitzrayim bedek;

17ek het my bed geparfumeer met mirre, aalwyn en kaneel;

18kom, laat ons versadig word van liefde tot die oggend toe, laat ons mekaar omarm met passie,

19want my man is nie tuis nie, hy het op ’n lang reis gegaan,

20hy het ’n geldsak saam met hom gevat en dit sal lank wees voordat hy huis toe kom.”

21Sy het hom verlei deur baie mooipraatjies, deur die vleiery van haar lippe het sy hom forseer.

22Hy loop agter haar aan soos ’n klein kindjie, soos ’n bees wat na die slagpaal gaan en soos ’n hond wat gemuilband word,

23soos ’n bok as sy lewer deur die pyl gekloof word; soos ’n voël hom haas na die vangnet en hy nie weet dat hy na sy dood toe gaan nie;

24daarom nou, my seuns, luister na my en doen dit en gee aandag aan die woorde van my mond.

25Laat jou verstand, wil en emosie nie afwyk agter haar lewenswyse aan nie, dwaal nie af op haar paaie nie,

26want sy het baie gewondes neergegooi, ja, baie magtige manne is deur haar vermoor.

27Die pad na haar huis is die pad na Sh’ol, wat afgaan na die kamers van die dood.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 6
Top of Page
Top of Page