Spreuke 31
Afrikaans PWL
1Die woorde van Mu’el, koning en profeet, waarmee sy moeder hom geleer het:

2o, my seun; o, seun van my baarmoeder; o, seun van my geloftes!

3Gee nie jou krag aan vroue of jou lewenswyse aan die uitspattigheid van konings nie.

4Vir konings, o Mu’el, wees versigtig vir konings wat wyn drink en vir prinse wat sterk drank drink

5sodat jy nie drink en die wet vergeet en die regverdige oordeel van die geteisterdes nalaat, nie.

6Gee sterk drank aan hulle wat besig is om te vergaan en wyn aan hulle wat ’n bitter lewe het

7sodat hulle mag drink en hul smarte vergeet en hulle swaarkry nie meer onthou nie.

8Maak jou mond oop met woorde van waarheid en oordeel al die seuns van die bose.

9Maak jou mond oop, oordeel regverdig en bepleit die saak van die arme en die behoeftige.

10Wie sal ’n ywerige vrou vind, want haar waarde is ver bo robyne?

11Die verstand, wil en emosie van haar man vertrou in veiligheid in haar en haar kosvoorraad word nooit minder nie.

12Sy doen goed aan hom en nie boos nie, al die dae van haar lewe.

13Sy soek na wol en linne en werk gewilliglik met haar hande.

14Sy is soos die handelaar se skip; sy bring haar handelsware van ver af in.

15Sy staan ook op terwyl dit nog nag is en gee aan haar huisgesin kos en aan haar diensmeisies werk.

16Sy ondersoek ’n stuk grond en koop dit; van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd.

17Sy bind haar middel vas met krag en versterk haar arms.

18Sy sien dat haar handelsware goed is, haar lamp gaan reg deur die nag nie uit nie.

19Sy steek haar hande gretiglik uit en sit haar hande op die spinwiel.

20Sy steek haar hande uit na die armes, ja, sy steek haar hande uit na die behoeftiges.

21Die lede van haar huishouding is nie bang vir sneeu nie, want almal van hulle is in skarlaken stof aangetrek.

22Sy maak vir haarself ’n bedekking van tapisserie, haar klere is van sy en purper.

23Haar man is bekend in die stede, wanneer hy saam met die oudstes van die land sit.

24Sy maak fyn linne en verkoop dit; sy voorsien gordels aan die handelaars.

25Sterkte en eer is haar klere en sy sal haar verheug in die tyd wat kom.

26Sy maak haar mond oop met wysheid en op haar tong is die wet van liefdevolle goedheid.

27Die lewenswyse van haar huishouding is bo teregwysing en sy eet nie die brood van luiheid nie.

28Haar seuns staan op en noem haar geseënd, ook haar man prys haar:

29baie dogters het ryk geword, maar jy het hulle almal oortref.

30Gevormde uiterlike is bedrieglik en skoonheid is nietigheid, maar ’n vrou wat יהוה respekvol vrees, sal helder en duidelik geprys word.

31Gee haar van die vrug van haar hande en laat haar eie werke haar helder en duidelik prys in die poorte.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 30
Top of Page
Top of Page