Spreuke 25
Afrikaans PWL
1Hierdie is nog spreuke van Shlomo, wat die vriende van Hizkiyahu, koning van Y’hudah, neergeskryf het.

2Dit is tot lof en eer van God om ’n saak geheim te hou, maar die eer en lof van die koning is om die saak te ondersoek.

3Die hoogte van die hemele, die diepte van die aarde en die verstand, wil en emosie van die koning is onverstaanbaar.

4Suiwer die vuil skuim uit die silwer dat ’n suiwer voorwerp verskyn.

5Laat die bose vanuit die koning se teenwoordigheid weggedryf word en sy troon sal in onpartydige opregtheid gevestig word.

6Moenie jouself in die teenwoordigheid van die koning verhoog nie en moenie op die plek van groot manne staan nie,

7want dit is beter dat vir jou gesê word: “Kom op hoër,” as dat jy verneder sou word. Rapporteer aan ’n heerser wat jou oë gesien het.

8Moenie haastig uitgaan om iemand aan te kla nie; anders, wanneer jy jou saak stel, sal jou naaste jou aan die einde verag.

9Bespreek jou saak met jou naaste, met homself en moenie die geheim aan ’n ander openbaar nie

10sodat hy wat dit hoor, jou nie verag en baie mense met jou spot nie.

11’n Woord wat toepaslik gesê word, is soos appels van goud op silwer versierings.

12Die berisping deur ’n wyse, aan ’n oor wat luister, is soos ’n goue oorring en ’n kosbare edelsteen.

13Soos die koue van sneeu in die oestyd, wat die lug afkoel, so is ’n betroubare boodskapper vir hulle wat hom stuur, want hy verfris die lewe van sy meesters.

14’n Man wat hom roem op valse geskenke, is soos wolke en wind sonder reën.

15Deur lank aan te hou word ’n heerser oortuig en ’n sagte tong verbreek die gebeente.

16Wanneer jy heuning vind, eet soveel as wat vir jou genoeg is sodat jy nie daarvan vol sal word en naar word nie.

17Moenie jou naaste se huis te gereeld besoek nie sodat hy nie moeg kan word van jou en jou haat nie.

18’n Man wat vals getuienis teen sy naaste gee, is soos ’n knopkierie, ’n swaard en ’n skerp pyl.

19Soos ’n slegte tand en ’n geswikte voet, so is vertroue op ’n onbetroubare man in die tyd van moeilikheid.

20Soos een wat ’n kledingstuk wegvat by sy naaste in koue weer, soos een wat sand gooi op die snare van ’n musiekinstrument, soos een wat ’n gebroke gees teister, soos ’n vismot op ’n kledingstuk en ’n boorwurm op ’n boom, so is die effek van smart op die verstand, wil en emosie van ’n man.

21As jou vyand honger is, gee hom brood om te eet en as hy dors is, gee hom water om te drink,

22want deur dit te doen hoop jy gloeiende kole op sy kop en יהוה sal jou beloon.

23Soos die noordewind wat reën bring, so is ’n boosaardige gesig en ’n tong wat agteraf praat.

24Dit is beter om op die hoek van ’n dak te bly, as by ’n twisgierige vrou en ’n huis verdeeld in homself.

25Soos koue water vir ’n dors persoon, so is goeie nuus vanuit ’n ver land.

26Soos ’n troebel fontein of besoedelde bron, so is die regverdige wat neerval voor die bose.

27Dit is nie goed om baie heuning te eet nie en ook nie om hoë lofprysing vir jouself te soek nie.

28Soos ’n afgebreekte stad wat geen muur het nie, so is ’n man wat ongeduldig is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 24
Top of Page
Top of Page