Spreuke 16
Afrikaans PWL
1Die redevoering van die verstand is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van יהוה.

2Al die lewenswyses van ’n man is suiwer in sy eie oë, maar יהוה toets die gees.

3Vertrou jou dade aan יהוה toe, dan sal Hy jou planne vestig.

4יהוה het alles gemaak vir die doel van hulle wat na Hom luister, maar die bose word gehou vir die dag van katastrofe.

5Elkeen wat trots is in sy verstand, wil en emosie, is verwerplik vir יהוה en alhoewel hy hand in hand met sy naaste gaan sal hy nie verskoon word nie as gevolg van hierdie boosheid.

6Deur liefdevolle goedheid en waarheid word morele boosheid gereinig en respekvolle vrees vir יהוה laat mense afwyk van boosheid.

7Wanneer ’n man se lewenswyse volgens יהוה se wil is, sal hy selfs met sy vyande regmaak.

8Eerder ’n bietjie, saam met onpartydige opregtheid, as ’n groot opbrengs, onregverdig ingebring.

9Die verstand, wil en emosie van die mens beplan sy lewenswyse, maar יהוה vestig sy voetstappe.

10Goddelike openbaring is op die lippe van die koning; sy mond oortree nie in oordeel nie.

11Die gewig van ’n regverdige weegskaal, is יהוה se oordeel; al Sy werke is regverdige gewigte.

12Konings wat moreel oortree, is verwerplik, want ’n troon word gevestig deur onpartydige opregtheid.

13Die lippe van ’n onpartydige en opregte man is ’n vreugde vir die koning en hy het die woorde van die opregte lief.

14Die woede van die koning is soos boodskappers van die dood, maar ’n wyse man sal dit tot bedaring bring.

15In die lig van die gesig van die koning is lewe en sy guns is soos ’n wolk van die vroeë reëns.

16Om wysheid te verkry, is baie beter as goud en om insig te verkry, beter as silwer.

17Die pad van die opregtes veroorsaak dat jy wegdraai van boosheid; hy wat versigtig is vir sy lewe, beskerm sy lewenswyse.

18Arrogansie kom voor verwoesting en trots kom voor die katastrofe.

19Dit is beter om nederig en sonder trots te wees as hy wat buit verdeel saam met die magtiges.

20Hy wat ’n opdrag verstaan, sal die goeie vind; gelukkig is hy wat op יהוה vertrou.

21Die wyse van verstand, wil en emosie, is ’n man van onderskeiding en hy wie se spraak soet is, vermeerder lering.

22Insig is ’n fontein van die lewe vir die wat dit het, maar die tugtiging van die dwase is leeg.

23Die verstand, wil en emosie van die wyse verstaan die woorde van sy mond en voeg lering by sy lippe.

24Die woorde van ’n wyse man is soos ’n heuningkoek: soet vir die lewe en ’n gesondheid vir die gebeente.

25Daar is ’n lewenswyse wat reg lyk in die oë van ’n mens, maar die einde daarvan is die pad van die dood.

26’n Smartlike persoon maak homself droewig; sy vernietiging kom uit sy eie mond.

27’n Waardelose mens beplan boosheid; uit sy mond kom ’n brandende vuur.

28’n Bose man bedreig wat reg is en vervolg sy naaste sonder rede.

29’n Bose man verlei sy naaste en lei hom op ’n lewenswyse wat nie goed is nie.

30Hy knip sy oë en beplan korrupte dinge; hy spreek sy doel uit en doen boosheid.

31Hoë ouderdom is ’n mooi kroon wat oor die pad van onpartydige opregtheid verhoog word.

32Hy wat stadig is om kwaad te word, is beter as die magtiges en hy wat sy gees beheer, as hy wat ’n stad inneem.

33Die boosheid van die wrede val in sy eie skoot en sy oordeel kom vanaf die Teenwoordigheid van יהוה.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 15
Top of Page
Top of Page