Filemon 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n gevangene van Yeshua, Die Gesalfde Een en die broer Timotheos: aan Filémon, ons medewerker, vir wie ons lief is, 2aan Apfia, vir wie ons lief is, aan Argippos, ons medewerker en aan die gemeente wat in jou huis is: 3onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-ons-Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een!

4Ek dank my God elke keer wanneer ek jou in my gebede onthou, 5vandat ek van jou liefde en vertroue gehoor het, wat jy teenoor ons Meester, Yeshua en teenoor al die afgesonderdes het, 6op só manier, dat die gemeenskap van jou vertroue vrug mag dra in dade en in kennis van alles wat goed is in jou, in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een. 7Ons vreugde en versterking is groot, want deur jou liefde is die verstand, wil en emosies van die afgesonderdes verkwik.

8As gevolg hiervan is my vrymoedigheid groot in Die Gesalfde Een om jou te beveel wat reg is, 9maar as gevolg van die liefde, smeek ek, Sha’ul, nou ’n ou man, asook ’n gevangene van Yeshua, Die Gesalfde Een;

10smeek ek jou, aangaande my kind, wat vir my gebore is in my kettings, Onesimos, 11hy wat vroeër vir jou waardeloos was, maar nou baie bruikbaar is vir jou en vir my. 12Ek stuur hom vir jou, ontvang hom egter soos my seun. 13Ek wou hom by my hou sodat hy my in die kettings, ter wille van die goeie boodskap, namens jou kan dien, 14maar sonder jou goedkeuring wou ek niks doen nie sodat jou goedheid nie uit verpligting sou wees nie, maar uit gewilligheid, 15want miskien was hy om hierdie rede ’n tydjie van jou af weg sodat jy hom vir altyd kan hou, 16van nou af nie as ’n slaaf nie, maar méér as ’n slaaf, as ’n broer in die vlees vir wie ons lief is, hoeveel te meer joune, beide in die vlees en in ons Meester;

17daarom, as jy in eenheid met ons is, ontvang hom as myne. 18As hy jou tekort gedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. 19Ek, Sha’ul, het dit met my eie hand geskryf: ek sal ten volle betaal, sonder om te noem dat jy jou eie persoon aan my verskuldig is! 20Ja, my broer, ek is verfris deur jou in ons Meester! Bevredig my liefde in Die Gesalfde Een.

21Omdat ek vertrou dat jy na my sal luister en dit doen, het ek vir jou geskryf en ek weet dat jy nog meer sal doen as wat ek gevra het,

22maar saam met dit, berei ook verblyf voor vir my, want ek verwag dat ek deur julle gebede aan julle gegee sal word.

23Epafras, my medegevangene in Yeshua, Die Gesalfde Een, groet jou; 24ook Markos, Aristargos, Demas en Luka, wat my help.

25Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, bly met julle gees! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Titus 3
Top of Page
Top of Page