Numeri 20
Afrikaans PWL
1Die seuns van Yisra’el, die hele vergadering, het in die wildernis van Tzin gekom, in die eerste maand en die volk het in Kadesh gebly. Miryam het daar gesterf en is daar begrawe.

2Daar was geen water vir die vergadering nie, hulle het dus teen Moshe en Aharon bymekaargekom. 3Die volk het met Moshe argumenteer en hulle het gepraat en gesê: “As ons tog maar gesterf het toe ons broers voor die Teenwoordigheid van יהוה gesterf het! 4Hoekom het julle die vergadering van יהוה in hierdie wildernis ingebring sodat ons en ons vee hier sou sterf? 5Waarom het julle ons uit Mitzrayim laat optrek om ons in hierdie veragtelike plek te bring? Dit is geen plek om te saai nie, ook nie van vye of van wingerdstokke of van granate nie; ook is daar geen water om te drink nie.” 6Moshe en Aharon het van die vergadering af weggegaan na die ingang van die Tent van Ontmoeting en hulle het op hul gesigte geval en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוהhet aan hulle verskyn. 7יהוה het met Moshe gepraat en gesê:

8“Vat die staf en laat die vergadering bymekaarkom, jy en jou broer Aharon. Praat met die rots voor hulle oë sodat dit water kan voortbring. So moet jy vir hulle water uit die rots laat kom en die vergadering en hulle vee laat drink.”

9Moshe het die staf van voor die aangesig van יהוה gevat soos Hy hom beveel het. 10Moshe en Aharon het die vergadering voor die rots laat bymekaarkom en hy het vir hulle gesê: “Luister nou, julle rebelle! Moet ons vir julle water uit hierdie rots laat kom?” 11Moshe het sy hand opgetel en die rots twee maal met sy staf geslaan, water het in oorvloed uitgekom en die vergadering en hulle vee het gedrink. 12יהוה sê vir Moshe en Aharon: “Omdat julle My nie vertrou het om My as Afgesonderd voor die oë van die seuns van Yisra’el te behandel nie; daarom sal julle hierdie vergadering nie in die land inbring wat Ek aan hulle gegee het nie.” 13Hierdie was die waters van M’rivah, waar die seuns van Yisra’el met יהוה gestry het en Hy Hom tussen hulle as Afgesonderd bewys het.

14Moshe het boodskappers uit Kadesh na die koning van Edom gestuur: “So sê jou broer Yisra’el: Jy weet van al die moeilikheid wat ons oorgekom het, 15dat ons vaders na Mitzrayim afgegaan het en ons baie dae in Mitzrayim gebly het en die Mitzrayiete het ons en ons vaders sleg behandel 16en toe ons uitgeroep het na יהוה, het Hy ons stem gehoor. Hy het ’n boodskapper gestuur en ons uit Mitzrayim uitgelei. Let op, ons is nou in Kadesh, ’n stad op die grens van jou grondgebied. 17Laat ons asseblief deur jou land trek. Ons sal nie deur lande of wingerde trek nie en die water uit die putte nie drink nie. Ons sal op ‘Die Koning se Hoofweg’ hou, ons sal nie regs of links uitdraai nie totdat ons deur jou grondgebied getrek het.”

18Edom antwoord hom egter: “Jy sal nie deur my land trek nie, anders sal ek teen jou uitkom met die swaard.” 19Weer sê die seuns van Yisra’el vir hom: “Ons sal met die hoofpad gaan en as ek en my vee van jou water drink, dan sal ek daarvoor betaal. Laat my net te voet deurtrek, niks meer nie.” 20Hy antwoord: “Jy sal nie deurgaan nie.” Edom het uitgekom teen hom met baie mense en met ’n sterk hand. 21So het Edom geweier om Yisra’el toe te laat om deur sy grondgebied te gaan, dus het Yisra’el van hom af weggedraai.

22Die seuns van Yisra’el, die hele vergadering, het van Kadesh af weggegaan en by die berg Hor gekom.

23יהוה het met Moshe en Aharon by die berg Hor, op die grens van die land van Edom, gepraat en gesê: 24“Aharon sal by sy mense versamel word, want hy mag nie ingaan in die land wat Ek aan die seuns van Yisra’el gegee het nie omdat julle teen My opdrag gerebelleer het by die waters van M’rivah. 25Vat vir Aharon en sy seun El’azar en bring hulle op na die berg Hor; 26trek Aharon se klere uit en trek dit vir sy seun El’azar aan en Aharon sal daar by sy mense versamel word en sterf.” 27Moshe het gedoen soos יהוה beveel het: hulle het op die berg Hor opgegaan voor die oë van die hele vergadering. 28Moshe het Aharon se klere uitgetrek en dit vir sy seun El’azar aangetrek. Aharon het daar gesterf op die top van die berg en Moshe en El’azar het van die berg af afgekom. 29Toe die hele vergadering sien dat Aharon gesterf het, het die hele huis van Yisra’el dertig dae lank oor Aharon getreur.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 19
Top of Page
Top of Page