Numeri 18
Afrikaans PWL
1יהוה het vir Aharon gesê: “Jy, jou seuns en die huis van jou vader saam met jou moet die skuld aangaande die Afgesonderde plek dra en jy en jou seuns saam met jou moet die skuld aangaande julle priesterskap dra. 2Bring ook jou broers, die stam van Levi, die stam van jou vader, saam met jou dat hulle by jou kan aansluit en jou bedien terwyl jy en jou seuns saam met jou voor die Tent van die Getuienis is. 3Hulle sal verantwoordelik wees vir jou en die hele tent, maar hulle mag nie naby die voorwerpe van die Afgesonderde Plek en naby die altaar kom dat hulle nie sterf, hulle sowel as julle, nie. 4Hulle moet by jou aansluit en die diens van die Tent van Ontmoeting waarneem: al die dienswerk van die tent, maar ’n vreemdeling mag nie naby julle kom nie. 5Julle sal verantwoordelik wees vir die Afgesonderde plek en oor die diens van die altaar sodat daar verder geen woede meer oor die seuns van Yisra’el kom nie. 6Ek, let op, Ekself het julle broers, die Leviete, onder die seuns van Yisra’el uitgevat as ’n geskenk vir julle, toegewy aan יהוה, om die dienswerk van die Tent van Ontmoeting te doen; 7daarom moet jy en jou seuns saam met jou, julle priesterskap waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die verdelingsgordyn is en julle moet dienswerk doen. Ek gee vir jou die priesterskap as ’n geskenk van diens, maar die vreemdeling wat nabykom, moet gedood word.”

8יהוה het met Aharon gepraat: “Ek, let op, Ekself het jou die verantwoordelikheid gegee vir My offers, al die afgesonderde geskenke van die seuns van Yisra’el; Ek het dit vir jou en jou seuns gegee as ewige instelling, as ’n toegewysde deel. 9Dit sal joune wees, vanaf die mees afgesonderde gawes, gereserveerd vanaf die vuur: al hulle offers; elke graanoffer, elke sondoffer en elke oortredingsoffer wat hulle aan My sal bring, sal mees afgesonderd wees vir jou en jou seuns. 10In ’n mees afgesonderde plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; afgesonder moet dit vir jou wees. 11Hierdie is ook joune: die offers van hulle geskenke, al die waaioffers van die seuns van Yisra’el; Ek gee dit vir jou en jou seuns en jou dogters saam met jou, as ’n ewige instelling. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet. 12Al die beste van die olie, al die beste van die nuwe wyn en die graan, die eerste vrugte wat hulle aan יהוה gee, dit gee Ek aan jou. 13Die eerste ryp vrugte van alles wat in hulle land is, wat hulle vir יהוה bring, moet joune wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet. 14Elke toegewyde ding in Yisra’el, sal joune wees. 15Elke ding wat die baarmoeder open van enige vlees, mens of dier, wat hulle vir יהוה bring, moet joune wees, maar die eersgeborenes van mense moet jy loskoop om te bevry, asook die eersgeborenes van onrein diere moet jy loskoop. 16Die losgekoopte goed moet jy vanaf ’n maand oud loskoop, volgens jou waardasie, vir vyf sikkels volgens die sikkel van die Afgesonderde plek, wat twintig gerah is, 17maar die eersgeborene van ’n bees of die eersgeborene van ’n skaap of die eersgeborene van ’n bok moet jy nie loskoop nie; hulle is afgesonder. Hulle bloed moet jy sprinkel teen die altaar en hulle vet brand en in rook laat opgaan as ’n offer deur vuur, as ’n aangename geur tot יהוה. 18Hulle vleis moet joune wees; soos die waaioffer se bors en die regterboud, dit moet joune wees. 19Al die offerandes, van die afgesonderde geskenke wat die seuns van Yisra’el aan יהוה offer, wat opgelig word, gee Ek aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ’n ewige instelling. Dit is ’n ewige verbond van sout, voor die Teenwoordigheid van יהוה, met jou en jou nageslag saam met jou.” 20יהוה het vir Aharon gesê: “Jy sal geen erfporsie in hulle land hê nie en jy sal geen deel onder hulle hê nie. Ek is jou deel en jou erfporsie onder die seuns van Yisra’el.

21Let op, Ek gee aan die seuns van Levi al die tiendes in Yisra’el as erfporsie vir hulle dienswerk wat hulle doen, die dienswerk van die Tent van Ontmoeting. 22Die seuns van Yisra’el moet ook nie weer naderkom na die Tent van Ontmoeting nie sodat hulle nie sonde op hulle laai en sterf nie, 23maar die Leviete moet die dienswerk by die Tent van Ontmoeting doen en húlle moet hul boosheid dra. Dit is ’n ewige instelling deur julle geslagte, dat hulle geen erfporsie onder die seuns van Yisra’el het nie, 24want die tiendes van die seuns van Yisra’el, wat hulle tot יהוה as offer oplig, gee Ek vir die Leviete as erfporsie; daarom het Ek vir hulle gesê: ‘Hulle sal onder die seuns van Yisra’el geen erfporsie hê nie’.”

25יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 26“Jy moet met die Leviete praat en vir hulle sê: ‘As julle van die seuns van Yisra’el die tiendes vat wat Ek vir julle van hulle af as jul erfporsie gegee het, moet julle daarvan ’n offer tot יהוה oplig, ’n tiende van die tiende. 27Julle offer wat julle oplig sal vir julle gereken word asof dit die graan van die dorsvloer af is en soos die volle opbrengs van die parskuip. 28Só moet julle ook ’n offer oplig tot יהוה van al julle tiendes wat julle van die seuns van Yisra’el ontvang en julle moet daarvan die offer wat julle oplig tot יהוה aan Aharon, die priester, gee. 29Van al jul geskenke moet julle die hele opligoffer tot יהוה bring, van al die beste daarvan, die afgesonderde deel daarvan.’ 30Jy moet daarom vir hulle sê: ‘Wanneer julle die beste daarvan opgelig het, sal die res vir die Leviete gereken word as die opbrengs van die dorsvloer en as die opbrengs van die parskuip. 31Julle mag dit op enige plek eet, julle en jul huise, want dit is julle beloning vir jul dienswerk by die Tent van Ontmoeting. 32Julle sal geen sonde dra as gevolg daarvan, as julle die beste deel daarvan geoffer het nie en julle mag nie die afgesonderde geskenke van die seuns van Yisra’el onteer nie sodat julle nie sterf nie.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 17
Top of Page
Top of Page