Mattheus 8
Afrikaans PWL
1Toe Hy van die berg afkom, het ’n groot skare mense Hom gevolg 2en let op, ’n sekere melaatse man het gekom en voor Hom neergeval en gesê: “My Meester, as U wil, is U in staat om my te reinig.” 3Yeshua het Sy hand uitgesteek, aan hom geraak en gesê: “Ek wil, wees rein.” In daardie oomblik is sy melaatsheid gereinig. 4Yeshua sê vir hom: “Wees versigtig wat jy aan iemand sê, maar gaan wys jouself aan die priester en offer die offer wat Moshe beveel het, tot ’n getuienis vir hulle.”

5Toe Yeshua K’far-Nagum binnegaan, kom daar ’n kaptein oor honderd na Hom toe en vra ernstig van Hom 6en sê: “My Meester, my seun lê tuis verlam en word ernstig gepynig.” 7Daarop sê Yeshua vir hom: “Ek sal gaan en hom gesond maak.” 8Die kaptein oor honderd antwoord en sê: “My Meester, ek is nie waardig dat U onder my dak inkom nie, maar sê slegs ’n woord en my seun sal gesond wees, 9want ek self is ook ’n man onder outoriteit en ek het soldate onder my en vir hierdie een sê ek: ‘Gaan!’ en hy gaan en vir ’n ander een: ‘Kom!’ en hy kom en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” 10Toe Yeshua dit hoor, was Hy beïndruk en het aan die wat saam met Hom gekom het gesê: “Sowaar Ek sê vir julle, selfs in Yisra’el het Ek so ’n vertroue nie gevind nie, 11want Ek sê vir julle dat baie vanaf die ooste en vanaf die weste sal kom en saam met Avraham, Yitz’gak en Ya’akov sal skuinslê in die Koninkryk van die hemel, 12maar die kinders van die koninkryk sal uitgegooi word in die duisternis daar buite. Daar sal ’n gehuil wees en ’n gekners van tande.” 13Toe sê Yeshua vir die kaptein oor ’n honderd: “Gaan, dit sal vir jou wees soos jy vertrou het” en sy seun het op daardie oomblik gesond geword.

14Yeshua het in Kefa se huis gekom en gesien dat Kefa se skoonmoeder deur koors platgetrek is. 15Hy het haar hand aangeraak, die koors het haar verlaat en sy het opgestaan en Hom bedien. 16Toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom toe gebring wat van demone besete was en Hy het hulle demone met ’n woord uitgedryf en almal wat siek was, het Hy gesond gemaak. 17So is vervul wat gesê is deur Yesha’yahu, die profeet, wat gesê het: “Hy sal ons pyne wegvat en ons siektes dra.”

18Toe Yeshua die groot klomp mense rondom Hom sien, het Hy opdrag gegee dat hulle na die strand toe gaan. 19’n Sekere leraar van die wet het nadergekom en vir Hom gesê: “Leermeester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan.” 20Yeshua sê vir hom: “Vir die jakkalse is daar gate en vir die voëls in die lug skuilings, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy Sy kop kan neerlê nie.” 21’n Ander een van Sy studentevolgelinge het vir Hom gesê: “My Meester, gee my toestemming om eers te gaan en my vader te begrawe,” 22maar Yeshua sê vir hom: “Volg My en laat die dooies hulle dooies begrawe.”

23Toe klim Hy in die skuit en Sy studentevolgelinge saam met Hom 24en let op, daar was ’n groot aardbewing sodat die golwe op die see bo-oor die boot geslaan het, maar Hy het geslaap. 25Toe kom Sy studentevolgelinge nader en maak Hom wakker en sê: “Ons Meester, red ons, ons word vernietig!” 26Yeshua sê vir hulle: “Waarom is julle bang, vertroueloses?” Toe staan Hy op, bestraf die wind en die see en daar was ’n groot kalmte. 27Die manne was geskok en het gesê: “Wie is Hy dat die wind en die see Hom gehoorsaam?”

28Toe Hy aan die oorkant kom, in die gebied van Gergesenos, het twee demoonbesetenes, wat so boos was dat niemand met daardie pad kon verbygaan nie, vanuit die grafte gekom en Hom ontmoet 29en hulle het uitgeroep en gesê: “Wat het ons met U te doen, Yeshua, Seun van God? Het U voor die bepaalde tyd hierheen gekom om ons te pynig?” 30Daar was ’n groot trop varke wat ’n ent van hulle af gewei het. 31Daardie demone het Hom gesmeek en gesê: “As U ons uitdryf, gee vir ons toestemming om in die trop varke te vaar.” 32Yeshua sê vir hulle: “Gaan!” Toe gaan hulle uit en gaan in die trop varke in en toe storm die hele trop varke van die krans af in die meer in en vrek in die water. 33Díe wat hulle opgepas het, het ook weggehardloop en in die stad gekom en hulle het alles vertel, ook wat met die besetenes gebeur het. 34Die hele stad het uitgekom om Yeshua te ontmoet en toe hulle Hom sien, smeek hulle Hom dat Hy uit hulle gebied uit moet weggaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 7
Top of Page
Top of Page