Markus 11
Afrikaans PWL
1Toe hulle naby Yerushalayim kom, by Beit-Pagei en Beit-Anyah, langs die Olyfberg, stuur Hy twee van Sy studentevolgelinge 2en sê vir hulle: “Gaan na die dorp reg oorkant ons en dadelik as julle inkom, sal julle ’n vul, waar geen mens op gesit het nie, vind wat vasgemaak is. Maak hom los en bring hom 3en as iemand vir julle vra: ‘Waarom doen julle dit?’ moet julle antwoord: ‘Hy is nodig vir ons Meester’ en dadelik sal hy hom hierheen stuur.” 4Hulle het gegaan en die vul vasgemaak gekry aan die hek, buitekant in die straat en hom losgemaak. 5Van die mense wat daar staan sê vir hulle: “Wat doen julle om die vul los te maak?” 6Hulle antwoord hul net soos Yeshua beveel het en hulle het die studentevolgelinge toegelaat. 7Hulle het die vul na Yeshua gebring en hulle klere daarop gegooi en Yeshua het op hom gery, 8maar baie het hulle klere op die pad uitgesprei en ander het takke afgekap van die bome af en op die pad uitgesprei.

9Die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeskreeu en gesê: “Red ons nou, Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Outoriteit en Karakter van יהוה.

10Geseënd is die Koninkryk wat kom vanaf ons vader Dawid. U in die hoogste, red ons nou!”

11Yeshua het Yerushalayim binnegegaan en in die tempel gekom en Hy het na alles gekyk. Toe dit aand was, het Hy saam met die twaalf uitgegaan na Beit-Anyah.

12Die volgende dag, toe hulle uit Beit-Anyah uitgaan, was Hy honger 13en Hy sien van ver af ’n vyeboom met blare aan en Hy het daarheen gegaan in die verwagting om iets daaraan te kry om te eet en toe Hy by dit kom, kry Hy niks behalwe blare nie, want dit was nie die seisoen vir vye nie. 14Hy sê vir dit: “Van nou af tot in ewigheid sal niemand van jou ’n vrug eet nie!” Sy studentevolgelinge het dit gehoor en hulle het in Yerushalayim gekom.

15Yeshua het in die tempel ingegaan en Hy het begin om die wat in die tempel verkoop en koop uit te jaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers om te gooi. 16Hy het niemand toegelaat om enige handelsvoorwerp in die tempel in te dra nie 17en Hy het geleer en vir hulle gesê: “Is daar nie geskrywe: ‘My huis moet ’n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie,’ maar julle het dit ’n grot vir plunderaars gemaak.” 18Die leraars van die wet en die leierpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon vernietig, want hulle was bang vir Hom omdat al die mense verstom was oor Sy leringe.

19Toe dit aand word, het hulle uitgegaan, buitekant die stad

20en in die oggend toe hulle verbygaan, sien hulle die vyeboom: verdroog van die wortels af 21en Shim’on het onthou en vir Hom gesê: “Leermeester, let op, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.” 22Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Julle moet vertroue, wat van God is, in julle hê, 23want, dit is waar, Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jouself op en werp jou in die see’ en nie in sy gedagtes twyfel nie, maar vertrou dat wat hy sê, sal gebeur, dit sal vir hom gedoen word; net wat hy sê. 24Ek sê daarom vir julle: ‘Alles wat julle in gebed vra, vertrou dat julle besig is om dit te ontvang en dit sal so wees vir jou 25en wanneer julle staan en bid, vergewe as julle iets teen iemand het sodat julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge kan vergewe, 26maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemel is, ook nie julle oortredinge vergewe nie’.”

27Hulle het weer in Yerushalayim gekom en terwyl Hy in die tempel loop, kom die leierpriesters en die leraars van die wet en die oudstes na Hom toe 28en sê vir Hom: “In watter outoriteit doen U hierdie dinge en wie het vir U hierdie outoriteit gegee om hierdie dinge te doen?” 29Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ek sal julle ook een vraag vra en antwoord julle My, dan sal Ek julle sê in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen: 30‘Die doop van Yoganan, van waar was dit, vanaf die hemel of vanaf mense? Vertel My.’” 31Hulle het by hulleself geredeneer en gesê: “As ons sê: ‘Vanaf die hemel,’ sal Hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ 32As ons sê: ‘Van mense,’ is ons bang vir die mense, want almal beskou Yoganan as ’n ware profeet.” 33Hulle antwoord en sê vir Yeshua: “Ons weet nie” en Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle in watter outoriteit Ek hierdie dinge doen nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 10
Top of Page
Top of Page