Lukas 16
Afrikaans PWL
1Hy het vir Sy studentevolgelinge ’n vergelykende storie vertel: “Daar was ’n sekere ryk man wat ’n bestuurder gehad het en hy is by hom daarvan beskuldig dat hy sy besittings vermors. 2Sy meester roep hom en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou administrasie, want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.’ 3Die bestuurder sê by homself: ‘Wat sal ek doen, want my meester het die administrasie van my af weggevat. Ek kan nie spit nie en ek skaam my om te bedel. 4Ek weet wat ek sal doen sodat wanneer die administrasie van my weggeneem word, hulle my in hulle huise sal ontvang.’ 5Hy roep almal wat sy meester geld skuld, een vir een en sê vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my meester?’ 6Hy antwoord: ‘Een honderd vate olie.’ Hy sê vir hom: ‘Neem jou nota, gaan sit en skryf gou vyftig.’ 7Daarna sê hy vir ’n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy my meester?’ Hy antwoord: ‘Een honderd koros koring.’ Toe sê hy vir hom: ‘Neem jou nota en skryf tagtig.’ 8Die meester het die onetiese bestuurder geprys omdat hy verstandig gehandel het, want die kinders van hierdie wêreld is wyser as die kinders van die Lig in hierdie geslag. 9Ek sê vir julle: ‘Maak vir julle vriende deur die rykdom wat julle verkry sodat wanneer dit uitgegee is, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.

10Hy wat vertrouenswaardig is met min, is ook met baie vertrouenswaardig en hy wat boos doen met min, doen ook boos met baie. 11As julle dan nie vertrouenswaardig was met die boosheid van rykdom nie, wie sal vertrou dat daar waarheid in julle is? 12As julle nie vertrouenswaardig was met ’n ander se besittings nie, wie sal aan julle jul eie gee? 13Geen dienskneg kan twee meesters dien nie, want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een eer en die ander een verwaarloos. Julle kan nie ’n dienskneg wees van God én van geld nie’.”

14Al hierdie dinge het die Fariseërs, wat begeer het na geld, ook gehoor en Hom openlik verkleineer. 15Yeshua sê vir hulle: “Julle regverdig julleself voor die mense, maar God ken julle gedagtes, wil en emosies, want wat by die mens hoog geag word, is verwerplik voor God.

16Die wet en die profete is tot by Yoganan; van toe af word die goeie boodskap van die Koninkryk van God aangekondig en elkeen druk om in te gaan, 17maar dit is makliker vir die hemel en die aarde om verby te gaan as dat een strepie van ’n letter van die wet sou wegval.

18Elkeen wat van sy vrou skei en ’n ander een trou, pleeg egbreuk en elkeen wat trou met die vrou wat van haar man geskei is, pleeg egbreuk.

19Daar was ’n sekere ryk man en hy het purper klere en wit linne gedra en het elke dag uitspattig fees gevier. 20Daar was ook ’n sekere arm man met die naam van El’azar, vol swere, wat voor sy poort gelê het 21en hy het begeer om sy maag te vul met die krummels wat van die ryk man se tafel afval en die honde het ook gekom en sy swere gelek. 22Toe die arm man sterf, is hy deur die engele weggedra na die arms van Avraham en die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23Terwyl hy in Sh’ol gely het, het hy sy oë opgelig en hy sien Avraham ver weg en El’azar aan sy bors. 24Hy roep uit in ’n harde stem en sê: ‘My vader Avraham, gee om vir my en stuur El’azar sodat hy die punt van sy vinger in water kan indruk en my tong afkoel, want ek word gemartel in hierdie vuur.’ 25Avraham antwoord hom: ‘My seun, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het en net so El’azar die slegte, maar nou word hy getroos, maar jy ly. 26Meer nog, daar is tussen ons en julle ’n groot gaping vasgestel sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.’ 27Hy sê vir hom: ‘Dan smeek ek van u my vader, om hom na my vader se huis te stuur, 28want ek het vyf broers, om hulle dringend te waarsku sodat hulle nie ook in hierdie plek van marteling kom nie.’ 29Avraham sê vir hom: ‘Hulle het Moshe en die Profete; laat hulle na dié luister.’ 30Hy sê vir hom: ‘Nee, my vader Avraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle omdraai van die verkeerde na God toe.’ 31Avraham sê vir hom: ‘As hulle na Moshe en die Profete nie luister nie, sal hulle ook nie na hom luister nie, al sou iemand ook uit die dood uit opstaan.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 15
Top of Page
Top of Page