Levitikus 26
Afrikaans PWL
1Julle mag vir julle geen afgode maak nie; nie ’n gekerfde beeld of ’n afgesonderde pilaar mag julle vir julle oprig nie en ’n gevormde klip beeld in julle land nie opstel om tot dit neer te buig nie, want Ek is יהוה, julle God. 2Julle moet My Shabbatte hou en My Afgesonderde Plek respekteer. Ek is יהוה. 3As julle volgens My reëls loop en My opdragte hou en dit doen, 4sal Ek julle reën gee in sy seisoen en die land sal sy opbrengs gee en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. 5Jou dorstyd sal aanhou tot die druiweoes, die druiweoes sal aanhou tot die saaityd, julle sal jul kos ten volle eet en veilig in julle land woon. 6Ek sal vrede gee in die land sodat julle sal gaan lê en niemand sal julle bang maak nie. Ek sal die wilde diere uit die land verwyder en geen swaard sal deur julle land trek nie. 7Julle sal jul vyande agtervolg en hulle sal voor julle val deur die swaard. 8Vyf van julle sal ’n honderd agtervolg en ’n honderd van julle sal tien duisend laat vlug. Julle vyande sal deur die swaard voor julle val, 9want Ek sal goedgunstig na julle kyk, julle vrugbaar maak, julle vermenigvuldig en My verbond sal Ek met julle bevestig. 10Julle sal graan eet wat opgestoor is en die ou oes uithaal ter wille van die nuwe. 11Ek sal My woonplek tussen julle oprig en My Persoon sal julle nie verwerp nie. 12Ek sal tussen julle loop en julle God wees en júlle sal My volk wees. 13Ek is יהוה, julle God, wat julle uit Mitzrayim uitgelei het sodat julle nie hulle slawe moet wees nie. Ek het die skeie van julle juk verbreek en julle laat regop loop,

14maar as julle My nie gehoorsaam en nie al hierdie opdragte doen nie 15en as julle My reëls verwerp en as julle lewens My wette verafsku sodat julle nie al My opdragte doen nie en My verbond verbreek, 16dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal julle besoek met ’n skielike paniek, tering en koors wat die oë opvreet en die lewe laat afneem. Julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet. 17Ek sal My gesig teen julle draai en julle sal voor jul vyande verslaan word. Die wat julle haat sal oor julle heers en julle sal vlug terwyl niemand julle agtervolg nie. 18Na dit alles, as julle My nie gehoorsaam nie, sal Ek julle sewe keer meer vir julle oortredinge straf. 19Ek sal die trots van julle mag verbreek en sal julle hemele maak soos yster en julle aarde soos koper. 20Julle krag sal tevergeefs gebruik word, want julle land sal sy opbrengs nie lewer nie en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.

21As julle jul teen My versit en My nie wil gehoorsaam nie, sal Ek sewe keer meer plae op julle lê, volgens julle sondes. 22Ek sal wilde diere van die veld onder julle instuur en dié sal julle kinders steel, julle vee uitroei, julle verminder en julle paaie sal verlate wees.

23As julle hierdeur jul nie deur My laat dissiplineer nie, maar julle teen My versit, 24sal Ek My ook teen julle versit en julle ook sewevoudig straf vir julle sondes. 25Ek sal ’n swaard teen julle bring, wat die wraak van die verbond sal uitvoer en wanneer julle in jul stede bymekaarkom, sal Ek pes onder julle instuur en julle sal in die hand van die vyand oorgegee word. 26Wanneer Ek julle hoeveelheid brood afsny, sal tien vroue julle brood in een oond bak en julle brood by die gewig teruggee en julle sal eet, maar nie versadig word nie.

27Na al hierdie, as julle My nie gehoorsaam nie, maar julle teen My versit, 28sal Ek My in woede teen julle versit en Ek, ja Ek, sal julle sewevoudig dissiplineer vir julle sondes. 29Julle sal die vlees van julle seuns eet en julle sal die vlees van julle dogters eet. 30Ek sal julle hoë plekke verwoes, julle wierook altare afbreek en julle lyke op die lyke van julle afgode gooi en My Persoon sal ’n afsku in julle hê. 31Ek sal julle stede puinhope maak en julle afgesonderde plekke verwoes en julle aangename geure nie ruik nie. 32Ek sal die land tot verwoesting bring en julle vyande wat daarin gaan woon, sal daaroor verstom staan. 33Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek en julle land sal ’n wildernis word en julle stede sal vernietig word.

34Dan sal die land sy Shabbatte geniet, solank as dit woes lê terwyl julle in die land van julle vyande is; dan sal die land rus en sy Shabbatte geniet. 35Al die dae van sy woestheid sal dit rus, want dit het nie gerus op julle Shabbatte, toe julle daarin gewoon het nie. 36Wat betref diegene wat onder julle oorgebly het; Ek sal in hulle hart ’n vreesagtigheid bring in die lande van hulle vyande sodat die geruis van ’n waaiende blaar hulle op die loop sal jaag en hulle sal vlug, soos ’n mens vir ’n swaard vlug en val sonder dat iemand agtervolg. 37Hulle sal struikel, die een oor die ander, soos voor ’n swaard, wanneer niemand agtervolg nie en julle sal geen krag hê om voor julle vyande te staan nie. 38Julle sal omkom onder die nasies en die land van julle vyande sal julle verteer 39en die wat onder julle oorgebly het, sal oor hulle skuld wegteer in die lande van julle vyande; ook oor die skuld van hulle vaders wat by hulle is, sal hulle wegteer.

40As hulle hul skuld bely en die skuld van hulle vaders, met hulle ontrouheid waarmee hulle ontrou teen My opgetree het en ook dat hulle hul teen My versit het 41sodat Ék My ook teen hulle versit het en hulle in die land van hulle vyande gebring het, wanneer hulle onbesnede harte verneder is en hulle hul skuld erken, 42dan sal Ek My verbond met Ya’akov onthou en My verbond met Yitz’gak en My verbond met Avraham sal Ek onthou en Ek sal die land onthou. 43Die land moet eers van hulle verlate wees en tevrede wees met sy Shabbatte terwyl dit woes lê sonder hulle; húlle sal hulle skuld erken omdat hulle My wette verwerp en hulle lewe My reëls verafsku het. 44Tog, na alles, wanneer hulle in die land van hul vyande is, sal Ek hulle nie verwerp nie en sal Ek hulle nie verafsku nie sodat Ek hulle sou vernietig en My verbond met hulle sou verbreek nie, want Ek is יהוה, hulle God. 45Ek sal egter vir hulle onthalwe die verbond met hulle voorvaders, wat Ek uit Mitzrayim voor die oë van die nasies uitgelei het, onthou, om vir hulle ’n God te wees. Ek is יהוה.’”

46Hierdie is die reëls, die opdragte en die wette wat יהוה tussen Hom en die seuns van Yisra’el, by die berg Sinai, deur die hand van Moshe, gegee het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 25
Top of Page
Top of Page