Levitikus 23
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Die vasgestelde tye van יהוה moet julle as afgesonderde byeenkomste verklaar; hierdie is My vasgestelde tye:

3vir ses dae lank mag julle werk, maar op die sewende dag is dit ’n Shabbat van volkome rus, ’n afgesonderde byeenkoms. Jy mag géén werk doen nie, dit is ’n Shabbat van יהוה, oral waar julle bly.

4Hierdie is die vasgestelde tye van יהוה, afgesonderde byeenkomste, wat julle moet verklaar in die tye wat vir hulle bepaal is. 5Op die veertiende dag van die eerste maand, tussen die twee sonsondergange, is die Pesag tot יהוה 6en op die vyftiende dag van dieselfde maand is die Fees van Ongesuurde Brode tot יהוה; sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. 7Op die eerste dag sal julle ’n afgesonderde byeenkoms hê; julle mag géén gewone werk doen nie. 8Julle moet sewe dae lank ’n offer, deur vuur, tot יהוה bring. Op die sewende dag moet daar ’n afgesonderde byeenkoms wees; julle mag géén gewone werk doen nie.’”

9יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 10“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrengs oes, moet julle ’n gerf van die eerste vrugte van julle oes na die priester bring. 11Hy moet die gerf voor die Teenwoordigheid van יהוה waai, om vir julle aanvaar te word; op die dag ná die Shabbat moet die priester dit waai. 12Op die dag as julle die gerf waai, moet julle ’n lam in sy eerste jaar, sonder gebrek, as brandoffer tot יהוה offer. 13Sy graanoffer daarmee saam, moet twee tiendes van ’n efa fyn meel met olie gemeng wees, as ’n offer, deur vuur, gebring tot יהוה, ’n aangename geur en sy drankoffer moet ’n kwart hin wyn wees. 14Julle mag geen brood of gebraaide graan of vars graan eet tot op daardie selfde dag dat julle die offer tot julle God bring nie. Dit is ’n ewige instelling vir al julle geslagte, oral waar julle bly.

15Julle moet tel van die dag ná die Shabbat, van die dag af wanneer julle die gerf van die waaioffer bring, sewe Shabbatte moet voltooi wees; 16tot die dag ná die sewende Shabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ’n nuwe graanoffer tot יהוה bring. 17Julle moet uit jul blyplekke twee waaibrode bring; van twee tiendes van ’n efa. Dit moet van fyn meel gebak word, met suurdeeg, as eerste vrugte tot יהוה. 18Julle moet saam met die brood, sewe lammers in hulle eerste jaar, sonder gebrek, een jong bul en twee ramme bring. Hulle moet ’n brandoffer tot יהוה wees saam met hulle graanoffer en drankoffers daarby, as offer, deur vuur, gebring tot ’n aangename geur vir יהוה. 19Julle moet een bokram as ’n sondoffer offer, asook twee lammers in hulle eerste jaar, as ’n vredesoffer. 20Die priester moet hulle saam met die brood van die eerste vrugte as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai saam met die twee lammers; hulle moet tot יהוה afgesonder wees, vir die priester. 21Julle moet op daardie selfde dag ook ’n verklaring maak: dit is ’n afgesonderde byeenkoms vir julle; julle mag géén gewone werk doen nie. Dit is ’n ewige instelling oral waar julle bly, regdeur julle geslagte.

22Wanneer julle die opbrengs van julle land oes, moet jy die rand van jou land nie heeltemal af oes as jy oes nie en die are wat val, nie bymekaar maak nie. Vir die arme en die besoekers moet jy dit laat oorbly. Ek is יהוה, julle God.’ “

23יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 24“Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘In die sewende maand, op die eerste dag van die maand, moet julle rus. Dit is ’n gedenkdag deur die blaas van die ramshoring (shofar), ’n afgesonderde byeenkoms. 25Julle mag géén gewone werk doen nie en offer aan יהוה ’n offer, deur vuur.’”

26יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 27“Op presies die tiende dag van hierdie sewende maand is dit die dag van Toedekking. Dit sal vir julle ’n afgesonderde byeenkoms wees en julle moet in nederigheid vas en ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer. 28Op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is ’n Toedekkingsdag (Yom Kippur) om vir julle toedekking te doen voor die Teenwoordigheid van יהוה, julle God, 29want elkeen wat op daardie selfde dag nie nederig vas nie, moet van sy volksgenote afgesny word; 30asook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié persoon sal Ek vernietig vanuit sy volk. 31Julle mag géén werk doen nie; dit is ’n ewige instelling in al julle geslagte, oral waar julle bly. 32Dit sal vir julle ’n Shabbat van volkome rus wees en julle moet in nederigheid vas. Vanaf die negende van die maand met sonsondergang, vanaf sonsondergang tot sonsondergang, moet julle jul Shabbat hou.”

33יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 34“Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit vir sewe dae lank die Huttefees (Sukkot) tot יהוה. 35Op die eerste dag sal daar ’n afgesonderde byeenkoms wees; julle mag géén gewone werk doen nie. 36Sewe dae lank moet julle ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n afgesonderde byeenkoms wees en julle moet ’n offer, deur vuur, tot יהוה offer. Dit is ’n bymekaarkoms en julle mag geen gewone werk doen nie.

37Hierdie is die vasgestelde tye van יהוה, wat julle moet verkondig as afgesonderde byeenkomste, om offers, deur vuur, tot יהוה te offer: brandoffers, graanoffers, slagoffers en drankoffers, vir elke dag volgens voorskrifte; 38bo en behalwe die Shabbatte van יהוה en bo en behalwe julle gawes en bo en behalwe al julle geloftes en bo en behalwe al julle vrywillige offers wat julle aan יהוה gee.

39Ook op die vyftiende dag van die sewende maand, as julle die opbrengs van die land insamel, moet julle die fees van יהוה sewe dae lank vier; met ’n rus op die eerste dag en ’n rus op die agtste dag. 40Op die eerste dag moet julle vir julle die vrugte neem van mooi bome, met palmtakke en takke van digte bome en wilgers van die rivier af en julle sal julle vir sewe dae voor die Teenwoordigheid van יהוה verheug. 41Julle moet dit as ’n fees tot יהוה vier, vir sewe dae in die jaar. Dit is ’n ewige instelling in julle geslagte. Julle moet dit in die sewende maand vier. 42Sewe dae lank moet julle in hutte bly; almal wat as deel van Yisra’el gebore is, moet in hutte woon 43sodat julle geslagte kan weet dat Ek die seuns van Yisra’el in hutte laat woon het toe Ek hulle uit die land van Mitzrayim uitgebring het.Ek is יהוה, julle God.’ “ 44So het Moshe dan die feeste van יהוה aan die seuns van Yisra’el bekend gemaak.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 22
Top of Page
Top of Page