Levitikus 15
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘As enige man ’n uitskeiding uit sy liggaam het, dan is dié uitskeiding onrein 3en dit sal sy onreinheid deur die vloeiing wees: as sy vlees die uitskeiding laat loop of sy vlees raak verstop van die uitskeiding is dit ’n onreinheid in hom. 4Elke bed waarop hy wat die uitskeiding het, lê, sal onrein wees en alles waarop hy sit, sal onrein wees. 5Elkeen wat aan sy bed raak, moet sy klere was en bad in water en hy is onrein tot die aand toe. 6Hy wat gaan sit op enige iets waarop hy gesit het wat die uitskeiding het, moet sy klere was en in water bad en hy is onrein tot die aand toe. 7Hy wat aan die liggaam raak van hom wat die vloeiing het, moet sy klere was en in water bad en hy is onrein tot die aand toe. 8As hy wat die uitskeiding het, op ’n reine spoeg, moet hy sy klere was en in water bad en hy is onrein tot die aand toe. 9Elke saal waarop hy wat die uitskeiding het, ry, sal onrein wees. 10Elkeen wat aan iets raak wat onder hóm was, sal onrein wees tot die aand toe. Die een wat enige hiervan dra, moet sy klere was en in water bad en hy is onrein tot die aand toe. 11Elkeen aan wie hy, wat die uitskeiding het, raak sonder dat hy eers sy hande in water gewas het, dié een moet sy klere was en in water bad en hy is onrein tot die aand toe. 12Die erdegoed waar hy, wat die uitskeiding het, aan raak, moet stukkend gebreek word en al die voorwerpe van hout moet in water afgespoel word.

13As hy, wat die uitskeiding het, van sy uitskeiding gereinig word, moet hy sewe dae tel ná sy reiniging, sy klere was en sy liggaam in lopende water was; dan sal hy rein wees. 14Op die agtste dag moet hy vir hom twee tortelduiwe of twee jong duiwe vat en voor יהוה kom, by die ingang van die Tent van Ontmoeting en dit vir die priester gee. 15Die priester moet hulle offer, die een as ’n sondoffer en die ander as ’n brandoffer; so moet die priester dan vir hom vanweë sy uitskeiding toedekking doen voor יהוה.

16As daar saad van ’n man af uitgaan, moet hy sy hele liggaam in water was en hy sal onrein wees tot die aand toe. 17Elke kledingstuk en elke veldeel waar die saad op kom, moet in water gewas word en dit bly onrein tot die aand toe. 18As ’n man met ’n vrou gemeenskap het sodat daar saad afkom, moet albei in water was en hulle sal onrein wees tot die aand toe.

19As ’n vrou ’n uitskeiding het en die uitskeiding uit haar liggaam bloed is, is sy sewe dae lank onrein en elkeen wat aan haar raak, sal onrein wees tot die aand toe. 20Alles waarop sy tydens haar onreinheid lê, sal onrein wees en alles waarop sy sit, sal onrein wees. 21Elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en in water bad en sal tot die aand toe onrein wees. 22Elkeen wat raak aan enige voorwerp waarop sy sit, moet sy klere was en in water was en sal tot die aand toe onrein wees 23en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waarop sy sit, as hy aan dit raak, sal hy tot die aand toe onrein wees. 24As ’n man met haar gemeenskap het sodat haar onreinheid op hom kom, sal hy sewe dae lank onrein wees en elke bed waarop hy lê, sal onrein wees.

25As ’n vrou vir baie dae ’n uitskeiding van bloed het, buiten die tyd van haar menstruasie, of as sy vloei verby die tyd van haar menstruasie, moet sy gedurende al die dae van haar vloeiing wees soos in die dae van haar menstruasie; sy is onrein. 26Elke bed waarop sy gedurende al die dae van haar vloeiing lê, sal vir haar soos die bed van haar menstruasie wees en alles waarop sy sit, sal net so onrein wees soos die onreinheid van haar menstruasie. 27Elkeen wat aan hierdie dinge raak, sal onrein wees: dié een moet sy klere was en in water was en sal tot die aand toe onrein wees,

28maar as sy van haar uitskeiding rein geword het, moet sy sewe dae tel en daarna sal sy rein wees. 29Op die agtste dag moet sy vir haar twee tortelduiwe of twee jong duiwe vat en dié by die ingang van die Tent van Ontmoeting na die priester bring. 30Die priester moet die een as sondoffer en die ander as brandoffer offer en die priester moet vanweë haar onrein uitskeiding vir haar toedekking doen voor יהוה.

31So moet julle dan die seuns van Yisra’el van hulle onreinheid afskei sodat hulle nie deur hulle onreinheid sterf deurdat hulle My tabernakel wat tussen hulle is, onrein maak nie. 32Hierdie is die wet vir hom wat ’n uitskeiding het en vir hom wat ’n saaduitskeiding het sodat hy daardeur onrein word 33en vir die vrou wat deur haar menstruasie onwel is en vir die een wat aan ’n uitskeiding ly, man of vrou en vir ’n man wat met ’n onrein vrou gemeenskap het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 14
Top of Page
Top of Page