Levitikus 11
Afrikaans PWL
1יהוה het weer met Moshe en Aharon gepraat en vir hulle gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘Hierdie is die diere wat julle mag eet vanuit al die viervoetige diere wat op die aarde is. 3Vanuit die diere: alles wat gesplete hoewe het, heeltemal gesplit en herkou; dit mag julle eet. 4Nogtans mag julle die volgende nie eet van die wat herkou en van die wat gesplete hoewe het nie: die kameel is onrein vir julle, want hy herkou, maar het nie gesplete hoewe nie; 5die dassie is onrein vir julle, want hy herkou, maar het nie gesplete pote nie; 6die haas is onrein vir julle, want hy herkou, maar het nie gesplete pote nie; 7ook die vark, want hy het gesplete hoewe, heeltemal gesplit, maar hy herkou nie en is onrein vir julle. 8Van hulle vleis mag julle nie eet nie en aan hulle karkasse nie raak nie; hulle is vir julle onrein.

9Dit mag julle eet van alles wat in die waters is: alles wat vinne en skubbe het in die water, in die seë en in die riviere, dit mag julle eet, 10maar alles in die seë en in die riviere wat nie vinne en skubbe het nie, is verwerplik vir julle, van alles wat wemel in die water en van al die lewende wesens wat in die water is. 11Hulle sal verwerplik vir julle wees; van hulle vleis mag julle nie eet nie en hulle karkasse moet vir julle verwerplik wees. 12Alles in die water wat nie vinne of skubbe het nie, sal vir julle verwerplik wees.

13Hierdie moet julle as verwerplik onder die voëls beskou; hulle mag nie geëet word nie; hulle is verwerplik: die arend, die aasvoël, die visarend, 14die kuikendief en die valk volgens sy spesie; 15elke kraai volgens sy spesie; 16die volstruis, die uil, die seemeeu en die klein valk volgens sy spesie; 17die klein-uil, die visvanger en die groot-uil; 18die ibis, die pelikaan en die Mitzrayitiese aasvoël; 19die ooievaar, die reier volgens sy spesie, die hoep-hoep en die vlermuis.

20Al die vlieënde insekte in swerms, wat op pote loop, is verwerplik vir julle. 21Tog mag julle die volgende van al die vlieënde insekte in swerms, wat op pote loop, eet: wat bokant die pote, bene met ledemate het om daarmee op die grond te spring. 22Die volgende mag julle eet: die treksprinkaan volgens sy spesie, die boomsprinkaan volgens sy spesie, die kriek volgens sy spesie en die voetganger volgens sy spesie, 23maar al die ander vlieënde insekte in swerms, wat op pote loop, is verwerplik vir julle.

24Deur hierdie diere word julle onrein, elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand toe onrein wees 25en elkeen wat van hulle karkasse optel, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees, 26die karkasse van al die diere wat gesplete hoewe het, wat nie heeltemal gesplit is nie en wat nie herkou nie, hulle is vir julle onrein; elkeen wat aan hulle raak, sal onrein wees. 27Alles wat op pote loop, onder al die viervoetige diere, is onrein vir julle; elkeen wat aan hulle karkasse raak, sal tot die aand toe onrein wees. 28Elkeen wat hulle karkasse dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. Hulle is onrein vir julle.

29Die volgende is vir julle onrein onder die wemelendes wat op die aarde wemel: die mol, die muis, die groot akkedis volgens sy spesies, 30die geitjie, die krokodil, die salmander, die koggelmander en die verkleurmannetjie. 31Hulle is vir julle onrein onder al die wemelendes; elkeen wat aan hulle raak as hulle dood is, sal tot die aand toe onrein wees. 32En alles waarop een van hulle val as hulle dood is, sal onrein wees, of dit ’n houtvoorwerp, kledingstuk, vel of sak is, elke ding waarmee werk gedoen word; dit moet in water gesit word en sal tot die aand toe onrein wees; dan sal dit rein wees. 33Elke erdevoorwerp waarin een van hulle val, moet julle stukkend breek en alles wat daarin is, sal onrein wees; 34enige kos daarin, wat geëet word, waarop water kom, sal onrein wees en enige drank, van watter soort ook, wat in so ’n voorwerp gedrink kan word, sal onrein wees. 35Alles waar ’n deel van hulle karkasse op val, sal onrein wees; ’n bakoond of ’n stoof moet stukkend geslaan word; hulle is onrein en moet vir julle onrein wees. 36Nogtans sal ’n fontein of ’n put, ’n opgaarplek van water, rein wees, maar hy wat aan die karkas daarin raak, sal onrein wees. 37As enige deel van die karkas op enige saad wat gesaai word val, sal die saad rein wees, 38maar as daar water op die saad gegooi is en enige deel van die karkas val daarop, dan sal dit vir julle onrein wees.

39As enige van die diere wat vir julle kos is, doodgaan, sal hy wat aan die karkas raak, tot die aand toe onrein wees 40en hy wat van dié karkas eet, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe. Hy wat dié karkas dra, moet sy klere was en sal onrein wees tot die aand toe.

41Al die wemelendes wat op die aarde wemel, is verwerplik, dit mag nie geëet word nie. 42Alles wat op sy maag seil, alles wat op vier pote loop, alles wat baie pote het, al die wemelendes wat op die aarde wemel, mag julle nie eet nie, want hulle is verwerplik. 43Moenie julleself verwerplik maak deur enige van die wat wemel nie: julle moet jul nie daardeur onrein maak sodat julle daardeur onrein word nie, 44want Ek is יהוה, julle God. Julle moet julleself afsonder en wees afgesonderd, want Ek is Afgesonderd. Moet julleself ook nie onrein maak deur enige ding wat op die aarde wemel nie, 45want Ek is יהוה wat julle uit die land van Mitzrayim uitgebring het om julle God te wees. Julle moet daarom afgesonderd wees omdat Ek afgesonderd is.

46Dit is die wet aangaande die diere, die voëls, al die lewende wesens wat beweeg in die water en aangaande alles wat op die aarde wemel, 47om te onderskei tussen wat onrein en rein is en tussen die diere wat geëet en die diere wat nie geëet mag word nie.’ “

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 10
Top of Page
Top of Page