Rigters 14
Afrikaans PWL
1Toe Shimshon afgegaan het na Timnah, sien hy ’n vrou in Timnah uit die dogters van die F’lishtyne. 2Hy het teruggegaan en sy vader en moeder vertel: “Ek het ’n vrou uit die dogters van die F’lishtyne in Timnah gesien; daarom dan, kry haar vir my as vrou.” 3Toe sê sy vader en moeder vir hom: “Is daar onder die dogters van jou familie, of onder ons hele volk, nie ’n vrou dat jy gaan om ’n vrou uit die onbesnede F’lishtyne te vat nie?” Shimshon sê egter vir sy vader: “Kry haar vir my, want sy lyk goed vir my.” 4Sy vader en moeder het egter nie geweet dat dit van יהוה kom nie, want Hy het ’n geleentheid gesoek teen die F’lishtyne. In daardie tyd het die F’lishtyne oor Yisra’el geheers.

5Toe het Shimshon saam met sy vader en moeder afgegaan na Timnah en tot by die wingerde van Timnah gekom en let op, ’n jong leeu het brullend op hom afgestorm. 6Die Gees van יהוה het magtig oor hom gekom sodat hy dit verskeur het soos ’n mens ’n jong bokkie verskeur alhoewel hy niks in sy hand gehad het nie, maar hy het nie vir sy vader en moeder vertel wat hy gedoen het nie. 7Hy het afgegaan en met die vrou gepraat en sy het vir Shimshon goed gelyk.

8Toe hy later teruggegaan het om haar te gaan haal, het hy uitgedraai om na die karkas van die leeu te kyk en let op, daar was ’n swerm bye en heuning in die karkas van die leeu. 9Hy het die heuning in sy hande afgeskraap en al etende aangeloop. Toe hy by sy vader en moeder kom, het hy vir hulle gegee en hulle het geëet, maar hy het hulle nie vertel dat hy die heuning uit die liggaam van die leeu uitgeskraap het nie.

10Toe het sy vader na die vrou toe afgegaan en Shimshon het ’n feesmaal daar gehou, want die jongmanne het die gebruik gehad om dit te doen. 11Toe hulle hom sien, het hulle dertig vriende gebring om by hom te wees.

12Toe sê Shimshon vir hulle: “Laat my nou vir julle ’n raaisel voorlê; as julle dit uitvind en vir my vertel gedurende die sewe dae van die feesmaal, dan sal ek vir julle dertig linne klede en dertig stelle klere gee. 13As julle my egter nie kan vertel nie, dan moet júlle my dertig linne klede en dertig stelle klere gee.” Hulle sê vir hom: “Lê maar jou raaisel voor sodat ons dit kan hoor.”

14Hy sê vir hulle: “Vanuit die eter kom iets om te eet en uit die sterke kom iets soets.” Vir drie dae lank kon hulle nie die raaisel antwoord nie.

15Toe het dit gebeur op die vierde dag dat hulle vir Shimshon se vrou gesê het: “Verlei jou man sodat hy die raaisel vir ons vertel, anders verbrand ons jou en die huis van jou vader met vuur. Het julle ons genooi om ons te verarm, of nie?” 16Shimshon se vrou het voor hom gehuil en gesê: “Jy haat my net en het my nie lief nie; jy het ’n raaisel voor die seuns van my volk gelê en my nie vertel nie. Hy antwoord haar: “Let op, ek het dit nie vir my vader en moeder vertel nie, moes ek jou vertel?” 17Sy het egter vir die sewe dae wat die feesmaal geduur het, by hom gehuil en op die sewende dag het hy haar vertel, want sy het hard druk op hom geplaas. Sy het toe die raaisel vir die seuns van haar volk vertel.

18Op die sewende dag, voor sonsondergang, sê die manne van die stad vir hom: “Wat is soeter as heuning en wat is sterker as ’n leeu?” Hy antwoord hulle: “As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle my raaisel nie uitgevind het nie.”

19Toe het die Gees van יהוה magtiglik oor hom gekom en hy het afgegaan na Ashkelon en dertig van hulle doodgemaak en hulle uitrustings gevat en die stelle klere aan hulle wat die raaisel vertel het gegee. Sy woede het gebrand en hy het opgegaan na die huis van sy vader. 20Shimshon se vrou is egter vir sy metgesel gegee, wat sy vriend was.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 13
Top of Page
Top of Page