Josua 4
Afrikaans PWL
1Toe die hele volk klaar deur die Yarden getrek het, het יהוה met Y’hoshua gepraat en gesê: 2“Vat vir julle twaalf manne vanuit die volk, een man uit elke stam, 3en beveel hulle en sê: ‘Vat vir julle van hier, uit die middel van die Yarden, vanaf die plek waar die voete van die priesters stewig bly staan het, twaalf klippe en dra hulle saam met julle deur en sit dit neer in die blyplek waar julle vannag gaan oorbly.’” 4Y’hoshua het die twaalf manne geroep wat hy uit die seuns van Yisra’el, een man uit elke stam, aangestel het 5en Y’hoshua het vir hulle gesê: “Gaan weer oor na die ark van יהוה, julle God, binne-in die Yarden en tel elkeen ’n klip op op sy skouer, volgens die getal van die stamme van die seuns van Yisra’el. 6Laat dit ’n teken onder julle wees sodat wanneer julle kinders later vra en sê: ‘Wat beteken hierdie klippe vir julle?’ 7dan moet julle vir hulle sê: ‘Die water van die Yarden is afgesny voor die ark van die verbond van יהוה; toe ons deur die Yarden gegaan het, is die water van die Yarden afgesny.’ Hierdie klippe is ’n herinnering vir die seuns van Yisra’el vir ewig.”

8Die seuns van Yisra’el het gedoen soos Y’hoshua beveel het en het twaalf klippe uit die middel van die Yarden opgetel soos יהוה met Y’hoshua gepraat het, volgens die getal van die stamme van die seuns van Yisra’el en hulle het dit saam met hulle oorgedra na die plek waar hulle oorgebly het en dit daar neergesit. 9Toe het Y’hoshua die twaalf klippe opgerig, wat hulle uit die middel van die Yarden gevat het, op die plek waar die voete van die priesters, wat die verbondsark gedra het, gestaan het en dit is daar tot vandag toe. 10Die priesters, wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Yarden totdat alles voltooi was wat יהוה Y’hoshua beveel het om aan die volk te sê, volgens alles wat Moshe Y’hoshua beveel het en die volk het gou gemaak en deurgetrek 11en toe die hele volk klaar deurgetrek het, het die ark van יהוה en die priesters voor die oë van die volk deurgegaan. 12Die seuns van Re’uven, die seuns van Gad en die halwe stam van M’nasheh het in volle wapenrusting voor die seuns van Yisra’el deurgetrek, net soos Moshe aan hulle gesê het. 13Omtrent veertig duisend wat vir oorlog gewapen was, het voor die aangesig van יהוה na die vlaktes van Yerigo toe deurgetrek om te veg.

14Op dié dag het יהוה Y’hoshua groot gemaak voor die oë van die hele Yisra’el sodat hulle hom respekvol gevrees het soos hulle Moshe respekvol gevrees het al die dae van sy lewe.

15Nou het יהוה vir Y’hoshua gesê: 16“Beveel die priesters wat die ark van die Getuienis dra dat hulle uit die Yarden uit opklim.” 17Y’hoshua het daarop die priesters beveel en gesê: “Klim op uit die Yarden.” 18Dit het gebeur dat, toe die priesters wat die ark van die verbond van יהוה gedra het, opklim uit die middel van die Yarden en die priesters se voetsole uitgelig is op droë grond, die water van die Yarden na hulle plek teruggekeer en soos vroeër oor albei sy walle geloop het.

19Die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Yarden uit opgetrek en kamp opgeslaan by Gilgal, aan die oostelike grens van Yerigo. 20Daardie twaalf klippe wat hulle uit die Yarden gevat het, het Y’hoshua by Gilgal opgerig. 21Hy het vir die seuns van Yisra’el gesê: “Wanneer julle kinders in die toekoms hulle vaders vra en sê: ‘Wat beteken hierdie klippe?’ 22dan moet julle julle kinders inlig en sê: ‘Op droë grond het Yisra’el deur hierdie Yarden getrek, 23want יהוה, julle God, het die water van die Yarden voor julle uit laat opdroog totdat julle deurgetrek het, net soos יהוה, julle God, gedoen het met die Sufsee wat Hy voor ons uit opgedroog het totdat ons deurgetrek het 24sodat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van יהוה magtig is sodat julle יהוה, julle God, ewig respekvol mag vrees.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 3
Top of Page
Top of Page