Josua 13
Afrikaans PWL
1Y’hoshua was oud en gevorderd in jare toe יהוה vir hom gesê het: “Jy is oud en gevorderd in jare en ’n baie groot deel van die land bly oor om in besit te neem. 2Dit is die land wat oorgebly het: al die landstreke van die F’lishtyne en van die G’shuriete, 3vanaf Shigor, oos van Mitzrayim, tot by die grens van `Ekron na die noorde, wat as Kena’aniete gereken word; die vyf heersers van die F’lishtyne: dié van `Azah, van Ashdod, van Ashkelon, van Gat en van `Ekron; asook die `Aviete 4na die suide; die hele land van die Kena’aniete en Me’arah wat aan die Tzidoniete behoort, so ver as Afek, tot by die grens van die Emoriete 5en die land van die Givliete en die hele L’vanon aan die oostekant, van Ba’al-Gad af, onder die berg Hermon, so ver as die ingang na Hamat, 6al die bewoners van die Bergland, van die L’vanon af so ver as Misrefot-Mayim, al die Tzidoniete: Ek self sal hulle voor die seuns van Yisra’el uit verdryf; verdeel dit net as erfdeel onder Yisra’el soos Ek jou beveel het. 7Verdeel daarom dan hierdie land as erfdeel onder die nege stamme en die halwe stam van M’nasheh.”

8Saam met die ander halwe stam het die Re’uveniete en die Gadiete hulle erfdeel ontvang wat Moshe oorkant die Yarden, na die ooste, aan hulle gegee het, net soos Moshe, die kneg van יהוה, aan hulle gegee het: 9vanaf `Aro’er, wat aan die kant van die Arnonvallei lê, met die stad wat in die middel van die vallei is en die hele vlakte van Meidva tot by Divon; 10al die stede van Sigon, koning van die Emoriete wat in Heshbon regeer het, tot by die grens van die seuns van `Amon; 11Gil’ad en die grondgebied van die G’shuriete en Ma’akhatiete en die hele Berg Hermon en die hele Bashan tot by Salkhah; 12die hele koninkryk van `Og in Bashan, wat geheers het in `Ashtarot en in Edre’i (hy alleen het oorgebly van die Refa’iete), want Moshe het hulle verslaan en onteien. 13Die seuns van Yisra’el het egter nie die G’shuriete en Ma’akhatiete onteien nie, want G’shur en Ma’akhat bly tussen Yisra’el tot vandag toe. 14Net aan die stam van Levi het hy geen erfenis gegee nie: die vuuroffers aan יהוה, die God van Yisra’el, is hulle erfenis, soos Hy hom beloof het.

15Moshe het aan die stam van die seuns van Re’uven gegee volgens hulle families. 16Hulle grondgebied was van `Aro’er af wat aan die kant van die Arnonvallei lê, met die stad wat in die middel van die vallei is en die hele vlakte by Meidva; 17Heshbon en al sy stede wat in die vlakte lê, Divon, Bamot-Ba’al en Beit-Ba’alM’on; 18Yahatz, K’demot en Mefa’at; 19Kiryatayim, Sivmah en Tzeret-Shagar, op die heuwel van die vallei; 20Beit-P’or, die hange van Pisgah en Beit-Yeshimot; 21selfs al die stede van die Vlakte en die hele koninkryk van Sigon, koning van die Emoriete wat in Heshbon regeer het, wat Moshe verslaan het saam met die vorste van Midyan: Evi, Rekem, Tsur, Hur en Reva, die prinse van Sigon, wat in die land gebly het.

22Saam met hulle dooies het die seuns van Yisra’el ook vir Bil’am, die seun van B’or, die waarsêer, met die swaard doodgemaak. 23Die grens van die seuns van Re’uven was die Yarden. Hierdie was die erfenis van die seuns van Re’uven volgens hulle families, die stede met hulle dorpe.

24Moshe het ook vir die stam van Gad ’n erfenis gegee volgens hulle families. 25Hulle grondgebied was: Ya’zer, al die stede van Gil’ad en die helfte van die land van die seuns van `Amon, so ver as `Aro’er wat voor Rabbah lê, 26van Heshbon af so ver as Ramot-Mitzpeh en B’tonim en van Maganayim af tot by die grens van Lidvir 27en in die vallei: Beit-Haram, Beit-Nimrah, Sukkot en Tzafon, die res van die koninkryk van Sigon, koning van Heshbon, met die Yarden as ’n grens, so ver as tot by die lae end van die see van Kinn’rot, oorkant die Yarden na die ooste. 28Hierdie is die erfenis van die seuns van Gad volgens hulle families, die stede met hulle dorpe.

29Moshe het ook ’n erfenis aan die halwe stam van M’nasheh gegee; hierdie was die besitting van die halwe stam van die seuns van M’nasheh, volgens hulle families. 30Hulle grondgebied was: vanaf Maganayim, die hele Bashan, die hele koninkryk van `Og, koning van Bashan en al die dorpe van Ya’ir in Bashan, sestig stede; 31die helfte van Gil’ad met `Ashtarot en Edre’i, die stede van die koninkryk van `Og in Bashan, vir die seuns van Makhir, die seun van M’nasheh; vir die helfte van die seuns van Makhir volgens hulle families.

32Dit is wat Moshe as erfenis verdeel het in die vlaktes van Mo’av, oorkant die Yarden by Yerigo na die ooste. 33Aan die stam van Levi het Moshe egter geen erfenis gegee nie; יהוה, die God van Yisra’el, is hulle erfenis, soos Hy hulle beloof het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 12
Top of Page
Top of Page