Johannes 21
Afrikaans PWL
1Na hierdie dinge het Yeshua weer aan Sy studentevolgelinge verskyn by die see van Tiberias. Só het Hy verskyn: 2Shim’on Kefa, T’oma, (wat Tweeling genoem is), Natan’el van Kanah in die Galil, die seuns van Zavdai en twee ander van Sy studentevolgelinge was saam. 3Shim’on Kefa sê vir hulle: “Ek gaan visvang.” Hulle sê vir hom: “Ons kom saam met jou.” Hulle het dadelik uitgegaan en in die boot geklim en in daardie nag het hulle niks gevang nie.

4Met dagbreek staan Yeshua op die strand, maar die studentevolgelinge het nie gesien dat dit Yeshua was nie. 5Yeshua vra vir hulle: “Seuns, het julle enige iets om te eet?” Hulle antwoord Hom: “Nee.” 6Hy sê vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot en julle sal kry.” Hulle het ingegooi en as gevolg van die hoeveelheid visse kon hulle dit nie intrek nie. 7Daarop sê die studentevolgeling, die een vir wie Yeshua liefgehad het, vir Kefa: “Dit is ons Meester!” Toe Shim’on Kefa hoor dat dit ons Meester is, trek hy sy bokleed aan en maak sy lende vas, want hy was kaal en gooi homself in die see om na Yeshua te gaan, 8maar die ander studentevolgelinge het met die boot gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land nie, omtrent ’n honderd meter.

9Toe hulle geland het, sien hulle brandende kole met vis en brood daarop uitgesit. 10Yeshua sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou-net gevang het.” 11Shim’on Kefa het in die skuit geklim en die net op die land getrek, honderd drie en vyftig groot visse en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12Yeshua sê vir hulle: “Kom eet!” Niemand van die studentevolgelinge het gewaag om Hom te vra: “Wie is U?” nie omdat hulle geweet het dat Hy ons Meester was. 13Yeshua het gekom en die brood en die vis gevat en dit vir hulle gegee. 14Dit was die derde keer dat Yeshua aan Sy studentevolgelinge verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dood.

15Nadat hulle geëet het, vra Yeshua vir Shim’on Kefa: “Shim’on, seun van Yoganan, het jy My lief, meer as hulle hier?” Hy antwoord Hom: “Ja, my Meester, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Wees ’n herder vir My lammers.” 16Hy vra hom weer die tweede keer: “Shim’on, seun van Yoganan, het jy My lief?” Hy antwoord Hom: “Ja, my Meester, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Wees ’n herder vir My skape.” 17Hy vra hom die derde maal: “Shim’on, seun van Yoganan, het jy My lief?” Kefa het hartseer geword omdat Hy hom die derde keer vra: “Het jy My lief?” Hy antwoord Hom: “Meester, U onderskei alles, U weet dat ek U liefhet.” Yeshua sê vir hom: “Wees ’n herder vir My ooie.”

18“Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir jou sê: toe jy jonger was, het jy jouself aangetrek en gegaan waar jy wou, maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek en ’n ander een sal jou aantrek en vat waarheen jy nie wil nie.” 19Dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou vereer en loof en nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hom: “Kom, volg My.”

20Shim’on Kefa het omgedraai en die studentevolgeling gesien volg vir wie Yeshua liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geleun en gevra het: “Meester, wie is die een wat U sal oorgee?” 21Toe Kefa hom sien, vra hy vir Yeshua: “My Meester, wat van hierdie een?” 22Yeshua antwoord hom: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My.” 23Hierdie boodskap het toe onder die broers uitgegaan dat daardie studentevolgeling nie sou doodgaan nie, maar Yeshua het nie vir hom gesê dat hy nie sou doodgaan nie, maar: ‘As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?’

24Dit is daardie studentevolgeling wat van hierdie dinge getuig en dit neergeskryf het en ons weet dat sy getuienis waar is.

25Daar is ook nog baie ander dinge wat Yeshua gedoen het, maar as hulle almal neergeskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, nie die geskrewe boeke kon bevat nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 20
Top of Page
Top of Page