Johannes 1
Afrikaans PWL
1In begin het die Boodskap reeds bestaan en daardie Boodskap het saam met God bestaan en God self was daardie Boodskap. 2Hierdie Een het aanvanklik saam met God bestaan. 3Alles is deur Sy hande gemaak en sonder Hom het niks bestaan van wat ontstaan het nie. 4In Hom was die Lewe en die Lewe was die Lig vir die mense. 5Daardie Lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

6Daar was ’n man wat van God gestuur is, met die naam Yoganan. 7Hy het as ’n getuienis gekom om van die Lig te getuig sodat almal deur Hom sou vertrou. 8Hy was nie die Lig nie, maar hy moes van die Lig getuig,

9van die Lig van waarheid, wat elke mens wat in die wêreld inkom, verlig. 10Hy was ín die wêreld en die wêreld bestaan deur Sy hand en die wêreld het Hom nie geken nie. 11Hy het na wat Syne is, gekom en Sy eie het Hom nie ontvang nie, 12maar aan dié wat Hom ontvang het, aan hulle het Hy die outoriteit gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Outoriteit en Karakter vertrou; 13díe wat nie vanuit die bloed, of vanuit die begeerte van die vlees, of vanuit die begeerte van ’n man nie, maar vanuit God, gebore is.

14Die Boodskap het Vlees geword en het onder ons gebly en ons het Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid gesien, ’n Gemanifesteerde Teenwoordigheid soos van die Enigste Uniekgeborene wat vanaf die Vader kom; Hy wat vol van onverdiende guns en waarheid is. 15Yoganan het van Hom getuig en uitgeroep en gesê: “Dit is Hy van Wie ek gesê het dat Hy ná my kom en tog voor my was, want Hy is belangriker as ek.” 16Vanuit Sy volheid het ons almal onverdiende guns op onverdiende guns ontvang, 17want die wet is via Moshe gegee; die onverdiende guns en die waarheid het via Yeshua, Die Gesalfde Een, bestaan. 18Niemand het God nog ooit gesien nie, maar die enigste Uniekgeborene van God, wat aan die bors van die Vader is, dié het Hom bekend gemaak.

19Dit is die getuienis van Yoganan, toe die Jode priesters en Leviete uit Yerushalayim gestuur het om hom te vra: “Wie is u?” 20Hy het erken en nie ontken nie, maar erken: “Ek is nie Die Gesalfde Een nie.” 21Hulle vra hom weer: “Wie dan? Is u Eliyahu?” Hy sê: “Ek is nie.” “Is u die profeet?” Hy antwoord: “Nee.” 22Hulle vra vir hom: “Wie is u dan sodat ons ’n verklaring kan gee aan dié wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?” 23Hy sê: “Ek is die stem van een wat roep in die wildernis: ‘Berei die pad van יהוה voor,’ soos Yesha’yahu, die profeet, gesê het!”

24Die wat gestuur is, was uit die Fariseërs 25en hulle vra hom en sê vir hom: “Hoekom doop u dan as u nie Die Gesalfde Een of Eliyahu of die profeet is nie?” 26Yoganan antwoord hulle en sê: “Ek doop in water, maar Hy staan tussen julle vir Wie julle nie ken nie, 27dit is Hy wat ná my kom en Hyself was voor my, Wie se sandaalband ek nie waardig is om los te maak nie.” 28Dit het gebeur by Beit-Anyah, aan die oorkant van die Yarden, waar Yoganan besig was om te doop.

29Die volgende dag sien Yoganan vir Yeshua na hom toe kom en hy sê: “Let op, Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld verwyder! 30Dit is Hy van Wie ek gesê het: ‘Die Man wat ná my kom, Hy was voor my, want Hy is belangriker as ek.’ 31Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom en in water gedoop sodat Hy aan Yisra’el gemanifesteer sou word.” 32Yoganan het getuig en gesê: “Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien afkom en op Hom bly. 33Ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Hy op Wie jy die Gees sien afkom en bly, dit is Hy wat in die Gees van Afsondering doop’ 34en ek hét gesien en getuig dat hiérdie die Seun van God is.”

35Op ’n ander dag het Yoganan weer daar gestaan met twee van sy studentevolgelinge 36en hy sien Yeshua loop en sê: “Let op, die Lam van God!” 37Die twee studentevolgelinge het hom dit hoor sê en Yeshua gevolg. 38Yeshua het omgedraai en hulle gesien wat Hom volg en vir hulle gevra: “Wat soek julle?” Hulle antwoord Hom: “Leermeester, waar is U tuis?” 39Hy sê vir hulle: “Kom kyk.” Hulle het gegaan en gesien waar Hy bly en dié dag by Hom gebly. Dit was omtrent die tiende uur (vieruur). 40Andreas, die broer van Shim’on, was self een van hulle wat dit by Yoganan gehoor en Hom gevolg het. 41Hy het eerste vir Shim’on, sy broer, gesien en vir hom gesê: “Ons het Die Gesalfde Een gevind.” 42Hy het hom na Yeshua toe gebring en Yeshua het na hom gekyk en gesê: “Jy is Shim’on, die seun van Yoganan; jy sal Kefa genoem word.”

43Die volgende dag wou Yeshua na die Galil gaan en Hy ontmoet vir Filippos en sê vir hom: “Volg My.” 44Filippos was van Beit-Tzaidah, die stad van Andreas en Kefa. 45Filippos het vir Natan’el gekry en vir hom gesê: “Ons het Hom gevind van Wie Moshe in die wet en van Wie ook die profete geskryf het. Hy is Yeshua, die seun van Yosef van Natzeret.” 46Natan’el vra vir hom: “Kan daar uit Natzeret iets goeds wees?” Filippos antwoord hom: “Kom kyk.” 47Yeshua sien vir Natan’el toe hy na Hom toe aankom en sê van hom: “Let op, waarlik ’n seun van Yisra’el in wie daar geen misleiding is nie.” 48Natan’el vra vir Hom: “Waarvandaan ken U my?” Yeshua antwoord en sê vir hom: “Voordat Filippos jou geroep het, toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien.” 49Natan’el antwoord en sê vir Hom: “Leermeester, U is die Seun van God, U is die Koning van Yisra’el!” 50Yeshua sê vir hom: “Vertrou jy omdat Ek vir jou gesê het: ‘Ek het jou onder die vyeboom gesien?’ Jy sal groter dinge sien as dit.” 51Hy sê vir hom: “Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê dat julle van nou af sal sien hoe die hemel oopgemaak word en die engele van God wat opgaan en afgaan op die Seun van die mens.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 24
Top of Page
Top of Page