Job 38
Afrikaans PWL
1Toe het יהוה Iyov uit ’n warrelwind geantwoord en gesê:

2“Wie is hierdie wat raad gee deur woorde sonder kennis?

3Gord vas jou heupe soos ’n dapper man, want Ek sal jou ondervra en jy sal My antwoord.

4Waar was jy toe Ek die aarde se fondasies gelê het? Verklaar of jy insig het.

5Wie het sy afmetinge neergelê, as jy weet, of wie het die maatlyn daaroor gespan?

6Waarop rus sy kante, of wie het sy hoeksteen gelê?

7Wanneer het Ek die oggend-sterre geskep en het al die engele van vreugde gejubel?

8Wie het die see afgesluit met hekke toe dit uitgebreek het asof dit uit die baarmoeder uitkom?

9Toe Ek die wolk as kleding vir die aarde gemaak het en dik donkerte as ’n toedraaidoek daarvoor

10en grense daarvoor gestel het en grendels en deure gemaak

11en gesê het: ‘Sover mag jy kom, maar niks verder nie en hier sal jou trotse golwe bly,’ was jy daar?

12Het jy, sedert jou dae begin het, die sonsopkoms ontbied, of ken jy die plek van die oggend

13dat dit die eindes van die aarde kan aangryp en die bose uit dit uitgegooi mag word

14sodat hulle liggame in klei verander sal word en op ’n hoop gegooi word?

15Die lig van sondaars sal teruggehou word en die arm van die arrogante sal gebreek word.

16Het jy afgegaan na die diepte van die see, of het jy geloop in die fondasies van die onderaardse waters?

17Is die poorte van die dood aan jou openbaar, of het jy die poorte van die skaduwee van die dood gesien?

18Het jy die hele breedte van die aarde gesien? Verklaar aan My, as jy dit alles weet:

19waar is die blyplek van die lig en waar is die duisternis?

20Ken jy sy grense en die pad na sy huis?

21Kan jy jou geboorte onthou en weet jy of jy baie dae sal leef?

22Het jy die kamers van die sneeu binnegegaan? Het jy die stoorkamers met hael gesien,

23wat gespaar word vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?

24Op watter manier word lig versprei en vanwaar kom die wind oor die aarde?

25Wie veroorsaak ’n weerligstraal en die slag van die donder?

26Wie laat dit reën op ’n land waar geen mens is nie, in die wildernis waar niemand woon nie;

27om elke bos te deurdrenk en die sagte grasspruit te laat opspring?

28Het die reën ’n vader, of wie het die doudruppels voortgebring?

29Uit wie se baarmoeder het die ys en dou gekom en wie gee geboorte aan die ryp van die hemel?

30Die waters word hard soos ’n klip en die oppervlakte van die ondergrondse water is gevries.

31Kan jy die beweging van die Sewe-ster stop, of ken jy die pad van die Orion?

32Kan jy die sterretekens uitbring op hulle tyd, of in die pad van die Beer staan?

33Ken jy die wette van die hemele, of maak jy reëls vir die aarde?

34Kan jy jou stem na die wolke oplig, of hulle bedek met ’n oorvloed van water?

35Kan jy die weerligstrale uitstuur sodat hulle kan gaan en vir jou sê: ‘Hier is ons’?

36Wie het wysheid in die binneste geplaas, of wie het visie gegee aan insig?

37Wie het die wolke in Sy wysheid getel en wie het die pilare van die hemel opgetel?

38Wie het grond uitgegooi op die aarde en wie het die styl rotse gemaak?

39Wie het prooi vir die leeu gegee, of die honger van die jong leeus stilgemaak?

40Wie het die wildediere van die veld vermenigvuldig, of wie het kos vir die kraai voorsien,

41want sy kleintjies roep uit tot God en word flou sonder kos?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 37
Top of Page
Top of Page