Job 22
Afrikaans PWL
1Toe het Elifaz, die Temaniet, geantwoord en gesê:

2“O mens, kan jy met God gesels? Is jy gelyk aan Hom in wysheid?

3Wat baat jy deur te probeer om dit te laat lyk asof jou lewenswyse volmaak is omdat jy bang is?

4Hy sal jou bestraf en jou oordeel.

5Let op, jou boosheid is groot en daar is nie einde aan jou sonde nie,

6want jy het sonder rede ’n pand gevat by jou broers en die naaktes gestroop van hulle klere.

7Jy het nie water aan die vermoeides gegee om te drink nie en jy het brood teruggehou van die hongeres.

8Daar is ’n man wat vir homself ’n land saai en die magtige vat dit by hom met geweld!

9Jy het weduwees met leë hande weggestuur en die arms van die vaderloses gebreek;

10daarom is daar strikke rondom jou en skielike vrees laat jou bewe.

11Waar is die duisternis sodat jy nie kan sien nie en die vloed van water wat jou bedek?

12Let op, God is in die hoogste van die hemel en sien die hoogste van die sterre, wat baie hoog is

13en tog vra jy: ‘Hoe weet God? Kan Hy deur die dik donkerheid oordeel?’

14Dik wolke is ’n bedekking vir Hom sodat die mens Hom nie kan sien nie en Hy loop op die sirkel van die hemel.

15Het jy die ou pad, wat bose manne lank terug op geloop het,

16hulle wat voor hul tyd gegryp is, wat gestop is by die oorgangsplek van die rivier van die lewe en toe nie onthou het wie hulle lewenspatroon uitgelê het nie,

17wat vir God gesê het: ‘Gaan weg van ons af, wat kan God vir ons doen’, goed afgemerk?

18Tog het Hy hulle huise gevul met wat goed is en die raad van die bose het ver van hom af weggebly.

19Die regverdiges sal dit sien en bly wees en die onskuldige sal spottend vir hulle lag.

20As hulle nie plat gegooi is as gevolg van hulle hardkoppigheid nie, dan sal die van hulle wat oorbly, met vuur verteer word.

21Maak nou ’n ooreenkoms met God en offer aan Hom van jou goeie opbrengs.

22Ontvang die wet uit sy mond en lê Sy woorde vas in jou verstand, wil en emosie.

23As jy sal erken en omdraai voor God, sal jy opgebou word, as jy boosheid uit jou tent sal verwyder,

24dan sal jy silwer opgaar soos stof en die goud van Ofir soos die sand van die vallei.

25Ja, God sal jou verdediging wees en jy sal ’n oorvloed silwer hê,

26want dan sal jy jou gesig oplig na God toe,

27jy sal tot Hom bid, Hy sal jou hoor en jy sal jou geloftes nakom.

28Jy sal ook iets verklaar en dit sal vir jou vasgestel word en die lig sal skyn oor jou lewenswyse,

29want dit word gesê: ‘Hy wat homself verneder, sal opgelig word en hy wat saggeaard is, sal gered word.

30Die onskuldige man sal gespaar word, waar hy ook al is en hy sal ontsnap deur die reinheid van sy hande.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 21
Top of Page
Top of Page