Job 2
Afrikaans PWL
1Daar was weer ’n dag waarop die seuns van God hulleself voor יהוה kom aanbied het en die teëstander het ook saam met hulle gekom om homself voor יהוה aan te bied. 2יהוה vra vir die teëstander: “Waar kom jy vandaan?” Toe antwoord die teëstander יהוה en sê: “Van heen en weer gaan en loop op die aarde.” 3Toe vra יהוה vir die teëstander: “Het jy van naby gekyk na My dienskneg Iyov, dat daar niemand op die aarde is soos hy nie: ’n onskuldige en opregte man, een wat God respekvol vrees en wegdraai van die bose? Hy volhard onveranderlik in sy integriteit, alhoewel jy My teen hom aangehits het om hom te vernietig sonder rede.” 4Die teëstander antwoord יהוה en sê: “Vel vir vel, ja, alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe, om dit te red, 5maar steek nou U hand uit en tas sy gebeente en sy vlees aan en hy sal U in U gesig vloek!” 6יהוה sê vir die teëstander: “Let op, hy is in jou mag; spaar net sy lewe.”

7die teëstander het weggegaan uit die Teenwoordigheid van יהוה en hy het Iyov met bose swere getref, vanaf sy voetsool tot die kroon van sy kop. 8Hy het ’n potskerf gevat om homself daarmee te krap en het op as gaan sit.

9Toe sê sy vrou vir hom: “Volhard jy nog in jou integriteit? Vloek God en sterf!” 10Hy antwoord haar egter: “Jy praat soos ’n dwase vrou praat! Ons het inderdaad God se seëninge ontvang, sal ons nie ook van Hom die slegte ontvang nie?” Deur al hierdie probleme het Iyov nie gesondig nie en ook nie kwaad teen God gepraat met sy lippe nie.

11Toe die drie vriende van Iyov van al die slegte dinge wat oor hom gekom het, gehoor het, het hulle ’n tyd bereken en elkeen gekom vanaf sy blyplek: Elifaz vanaf Teman, Bildad vanaf Shuag en Tzofar vanaf Na’amah, want hulle het saam afgespreek om hom te versterk en te vertroos. 12Toe hulle van ver af hul oë opslaan en hom nie herken nie, het hulle hul stem opgelig na die hemel toe en gehuil en elkeen het sy bokleed geskeur en hulle het stof op hul koppe gegooi. 13Hulle het saam met hom op die grond gaan sit, sewe dae en sewe nagte lank en niemand het ’n woord met hom gepraat nie, want hulle het gesien dat sy moeilikheid baie groot was.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 1
Top of Page
Top of Page