Jeremia 44
Afrikaans PWL
1Die woord wat tot Yirmeyahu gekom het, vir al die Y’hudahiete wat in die land van Mitzrayim gebly het; die wat in Migdol, in Tagpanges, in Nof (Memfis) en in die land van Patros gebly het en hy het gesê: 2“So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Julle het self al die katastrofes gesien wat Ek oor Yerushalayim en oor al die stede van Y’hudah gebring het en let op, vandag is hulle in puin en niemand bly in hulle nie; 3weens hulle boosheid wat hulle gedoen het, om My te tart tot woede deur aan te hou om offers te brand en ander gode te dien wat hulle nie geken het nie; nie hulle, julle of julle vaders nie. 4Tog het Ek al My diensknegte, die profete, weer en weer na julle toe gestuur om te sê: “ O, moenie hierdie verwerplike ding doen wat Ek haat nie.” 5Hulle het egter nie geluister of hulle oor gedraai om weg te draai van hul boosheid, om nie tot ander gode te offer nie; 6daarom is My toorn en My woede uitgestort en het dit gebrand in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim sodat hulle ’n puinhoop en ’n verlatenheid geword het soos dit vandag is. 7Nou dan, so sê יהוה, God van die leërmagte, die God van Yisra’el: “Waarom berokken julle skade vir julself, om man en vrou, kind en suigeling uit Y’hudah af te sny en vir julle niemand te laat oorbly nie, 8deurdat julle My tart met die werke van julle hande, om vir ander gode offers te brand in die land van Mitzrayim waar julle ingaan om te bly sodat julle afgesny mag word en ’n vervloeking en smaad onder al die nasies van die aarde word? 9Het julle die booshede van julle vaders, die booshede van die konings van Y’hudah, die booshede van hulle vroue, julle eie booshede en die booshede van julle vroue vergeet wat hulle gepleeg het in die land van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim? 10Hulle het egter tot vandag toe nie berouvol geword nie en ook nie gevrees nie, of in My wet en in My instellings geloop, wat Ek voor julle en jul vaders gestel het nie;’”

11daarom, so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Let op, Ek gaan My gesig teen julle stel tot smart, selfs om die hele Y’hudah af te sny 12en Ek sal die wat oorgebly het van Y’hudah wegvat, die wat hulle gedagtes daarop gestel het om Mitzrayim binne te gaan om daar te bly en hulle sal almal hulle einde sien in Mitzrayim; hulle sal deur die swaard val en deur hongersnood hulle einde sien. Beide groot en klein sal deur die swaard en die hongersnood sterf en hulle sal ’n vloek, ’n voorwerp van afgryse, van verwensing en van verwyt word. 13Ek sal die wat in die land van Mitzrayim bly, straf, soos wat Ek Yerushalayim gestraf het, deur die swaard, die hongersnood en die pes. 14Daar sal geen oorlewendes of vlugtelinge wees vir die wat oorbly van Y’hudah wat in die land van Mitzrayim gekom het om daar te bly en dan terug te gaan na die land van Y’hudah waarheen hulle verlang om na terug te gaan en te bly nie, want niemand sal teruggaan behalwe ’n paar vlugtelinge nie.’”

15Toe het al die manne wat geweet het dat hulle vroue vir ander gode offers brand, saam met al die vroue wat daar staan, ’n groot menigte, insluitend al die mense wat in Patros, in die land van Mitzrayim, gebly het, Yirmeyahu geantwoord en gesê: 16“Wat die boodskap betref wat u vir ons in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה verkondig het: ons gaan nie na u luister nie, 17maar ons sal sekerlik elke woord doen wat uit ons mond uitgegaan het, deur offers te brand aan die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet net soos ons self, ons voorvaders, ons konings en ons prinse in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim gedoen het, want toe het ons baie brood gehad en was goed daaraan toe en ons het geen teëspoed gesien nie, 18maar vandat ons opgehou het om vir die koningin van die hemel offers te brand en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek gehad en het ons ons einde teë gekom deur die swaard en die hongersnood. 19Toe ons vir die koningin van die hemel offers gebrand en drankoffers uitgegiet het, was dit sonder ons mans dat ons vir haar koeke gemaak het na haar beeld en drankoffers vir haar uitgegiet het?”

20Toe het Yirmeyahu met al die mense gepraat, met die manne en die vroue, met die hele volk wat hom so ’n antwoord gegee het en gesê: 21“Wat die rokende offers betref wat julle in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim gebrand het, julle en julle voorvaders, julle konings en julle prinse en die volk van die land, het יהוה hulle nie onthou en het dit nie alles in Sy gedagtes opgekom nie? 22יהוה was nie langer in staat om dit uit te hou nie, weens die boosheid van julle dade, weens die verwerplikhede wat julle gedoen het; dus het julle land ’n puinhoop geword en ’n voorwerp van verskrikking en ’n vervloeking, sonder inwoners, soos dit vandag is. 23Omdat julle offers gebrand het en teen יהוה gesondig het en nie die stem van יהוה gehoorsaam het of in Sy wet, Sy instellings en Sy getuienisse geleef het nie; daarom het hierdie katastrofe oor julle gekom, soos dit vandag is.”

24Toe het Yirmeyahu vir die hele volk, insluitend die vroue, gesê: “Hoor en doen die woord van יהוה, die hele Y’hudah wat in die land van Mitzrayim is! 25So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el, as volg: ‘Julle en julle vroue het met julle monde gepraat en dit met julle hande uitgevoer en gesê: “Ons sal ons geloftes wat ons gedoen het, sekerlik uitvoer, om offers te brand vir die koningin van die hemel en vir haar drankoffers uit te giet.” Gaan voort en bevestig julle geloftes; sekerlik, hou julle geloftes!’ 26Nogtans, hoor en doen die woord van יהוה, die hele Y’hudah wat in die land van Mitzrayim bly: ‘Let op, Ek het by My groot Naam (Karakter en Outoriteit) gesweer,’ sê יהוה: ‘Nooit sal My Naam (Karakter en Outoriteit) weer aangeroep word deur die mond van enige man van Y’hudah in die hele land van Mitzrayim nie, met die woorde: “So waar as יהוה-God leef!” 27Let op, Ek hou wag oor hulle ten kwade en nie ten goede nie en al die manne van Y’hudah wat in die land van Mitzrayim is, sal hulle einde vind deur die swaard en die hongersnood totdat hulle volkome vernietig is. 28Die wat die swaard ontsnap, sal uit Mitzrayim terugkom na die land van Y’hudah, min in getal. Dan sal almal wat oorgebly het van Y’hudah wat na Mitzrayim gegaan het om daar te bly, weet wie se woord staande sal bly, Myne of hulle s’n. 29Dit sal vir julle die teken wees,’ verklaar יהוה, ‘dat Ek julle in hierdie plek gaan straf sodat julle kan weet dat My woorde sekerlik teen julle sal staan ten kwade.’ 30So sê יהוה: ‘Let op, Ek gaan vir Farao Hofra (N’khoh II), koning van Mitzrayim, in die hand van sy vyande en in die hand van die wat sy lewe soek, oorgee soos wat Ek vir Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, oorgegee het in die hand van N’vukhadnetzar, koning van Bavel, sy vyand, wat sy lewe gesoek het.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 43
Top of Page
Top of Page