Jeremia 35
Afrikaans PWL
1Die woord wat vanaf יהוה tot Yirmeyahu gekom het in die dae van Y’hoyakim, die seun van Yoshiyahu, koning van Y’hudah: 2“Gaan na die huis van die Rekhaviete en praat met hulle en bring hulle na die huis van יהוה, in een van die kamers in en gee vir hulle wyn om te drink.” 3Toe het ek vir Ya’azanyah, die seun van Yirmeyahu, die seun van Havatzinyah, gevat, sy broers, al sy seuns en die hele huis van die Rekhaviete 4en ek het hulle in die huis van יהוה ingebring, in die kamer van die seuns van Hanan, die seun van Yigdalyahu, die man van God, wat naby die kamer van die amptenare is, wat bo die kamer van Ma’aseiyah, die seun van Shallum, die deurwagter is. 5Toe het ek voor die manne van die huis van die Rekhaviete kruike vol wyn en bekers neergesit en vir hulle gesê: “Drink wyn,” 6maar hulle het geantwoord: “Ons sal nie wyn drink nie, want Yonadav, die seun van Rekhav, ons vader, het ons beveel en gesê: ‘Julle mag geen wyn drink nie, julle of julle seuns, vir ewig. 7Julle mag nie ’n huis bou of saad saai of wingerd plant of een besit nie, maar julle moet in tente woon al julle dae sodat julle baie dae mag lewe in die land waar julle besoekers is.’ 8Ons het die stem van ons vader Yonadav, die seun van Rekhav, gehoorsaam, in alles wat hy ons beveel het, om geen wyn te drink al ons dae nie, ons, ons vroue, ons seuns en ons dogters, 9of om vir ons huise te bou om in te bly nie en ons het geen wingerd of landerye of saad nie. 10Ons het net in tente gebly en was gehoorsaam en het gedoen volgens alles wat ons vader Yonadav ons beveel het, 11maar toe N’vukhadnetzar, koning van Bavel, teen die land opgekom het, het ons gesê: ‘Kom, laat ons na Yerushalayim gaan voor die leër van die Kasdeërs en voor die leër van die Arameërs.’ Ons het dus in Yerushalayim gebly.”

12Toe kom die woord van יהוה tot Yirmeyahu en sê: 13“So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Gaan sê vir die manne van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim: “Wil julle nie lering ontvang deur na My woorde te luister nie?” verklaar יהוה. 14“Die woorde van Yonadav, die seun van Rekhav, wat hy sy seuns beveel het om geen wyn te drink nie, het hulle gehou. Hulle drink dus geen wyn tot vandag toe nie, want hulle het hulle vader se bevel gehoorsaam. Ék het egter met julle gepraat, keer op keer; tog het julle nie na My geluister nie. 15Ek het ook al My diensknegte, die profete, keer op keer na julle toe gestuur om te sê: ‘Draai elkeen weg van sy verkeerde lewenswyse en verander julle dade en loop nie agter ander gode aan om hulle te aanbid nie. Dan sal julle bly in die land wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het,’ maar julle het nie julle oor gedraai of na My geluister nie. 16Inderdaad, die seuns van Yonadav, die seun van Rekhav, het die bevel van hulle vader gehou wat hy hulle beveel het, maar hierdie volk luister nie na My nie.” 17יהוה, die God van die leërmagte, die God van Yisra’el, sê daarom: “Let op, Ek bring oor Y’hudah en oor al die inwoners van Yerushalayim al die rampe wat Ek teen hulle verklaar het omdat Ek met hulle gepraat het, maar hulle nie geluister het nie en Ek hulle geroep het, maar hulle nie geantwoord het nie.’”

18Toe sê Yirmeyahu vir die huis van die Rekhaviete: “So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: ‘Omdat julle die opdrag van julle vader Yonadav gehoorsaam het; al sy opdragte gehou en gedoen het volgens alles wat hy julle beveel het; 19daarom, so sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Yonadav, die seun van Rekhav, sal nooit ’n man ontbreek om altyd voor My Teenwoordigheid te staan nie.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 34
Top of Page
Top of Page