Jeremia 10
Afrikaans PWL
1Luister na die boodskap wat יהוה met julle gepraat het, o huis van Yisra’el!

2So sê יהוה: “Moenie die maniere van die nasies leer nie en moenie vrees vir die tekens van die hemel nie, alhoewel die nasies daarvoor vrees,

3want die tradisies van die volke is misleiding, want dit is ‘n boom uit ’n woud gekap, die handewerk van ’n ambagsman met snygereedskap.

4Hulle versier dit met silwer en goud; hulle maak dit vas met spykers en hamers dat dit nie waggel nie.

5Soos ’n voëlverskrikker in ’n komkommerland is hulle en hulle kan nie praat nie; hulle moet gedra word, want hulle kan nie loop nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan geen skade doen nie en ook geen goed doen nie.”

6Daar is niemand soos U nie, יהוה! U is groot en U Naam (Karakter en Outoriteit) is groot in krag.

7Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Inderdaad kom dit U toe, want onder al die wyse manne van die nasies en in al hulle koninkryke is daar niemand soos U nie.

8Hulle is egter almal saam in hul beoefening van misleiding dom en dwaas; hulle afgod is hout!

9Geslaande silwer word uit Tarshish gebring en goud uit Ufaz, die werk van ’n ambagsman en van die hande van ’n goudsmid; blou en pers is hulle klere; alles die werk van bekwame manne,

10maar יהוה is die Ware God; Hy is die Lewende God en die Ewige Koning; vir Sy toorn bewe die aarde en die nasies kan nie Sy verontwaardiging verdra nie.

11So moet julle vir hulle sê: “Die gode wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en van onder die hemele uit.”

12Hy het die aarde gemaak deur Sy krag, die wêreld gevestig deur Sy wysheid en die hemel uitgestrek deur Sy insig.

13As Hy Sy stem laat hoor, is daar ’n geruis van waters in die hemel en Hy laat die wolke opstyg van die einde van die aarde af; Hy maak weerlig vir die reën en bring die wind vanuit sy voorraadskure.

14Elke mens is dom, sonder kennis; elke goudsmid staan beskaamd deur sy afgode, want sy gegote beeld is misleidend en daar is geen asem in hulle nie.

15Hulle is waardeloos, ’n werk van spottery; in die tyd van hulle straf sal hulle vergaan.

16Ya’akov se deel is nie soos hierdie nie, want Hy is die Maker van alles en Yisra’el is die stam van Sy erfenis; יהוה-Tzva’ot is Sy Naam (Karakter en Outoriteit).

17Tel jou bondel van die grond af op, jy wat onder die beleëring vertoef,

18want so sê יהוה: “Let op, Ek slinger die inwoners van die land in hierdie tyd uit en sal vir hulle benoudheid veroorsaak sodat hulle gevind kan word.”

19Wee my vanweë my besering! My wond is ongeneeslik, maar ék het gesê: “Waarlik, dit is ’n siekte en ek moet dit dra.”

20My tent is vernietig en al my toue is gebreek; my seuns het van my af weggegaan en is nie meer nie. Daar is niemand om weer my tent uit te span en my gordyne op te sit nie,

21want die herders het dom geword en יהוה nie gesoek nie; daarom was hulle nie voorspoedig nie en hulle hele kudde is verstrooi.

22Let op, die klank van die verslag het gekom en ’n groot geraas uit die land van die Noorde, om die stede van Y’hudah ’n verlatenheid te maak, ’n lêplek van jakkalse.

23Ek weet, o יהוה, dat ’n mens se pad nie in homself is nie en dit is ook nie in ’n man wat loop om sy eie tree te rig nie.

24Dissiplineer my, יהוה, maar met regverdige oordeel; nie in U toorn nie, of U sal my tot niks maak nie.

25Stort U toorn uit oor die nasies wat U nie ken nie en oor die families wat U Naam (Karakter en Outoriteit) nie aanroep nie, want hulle het Ya’akov verteer en hom opgeëet en sy blyplek verwoes.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 9
Top of Page
Top of Page