Afrikaans PWL 1Toe het יהוה vir my gesê: “Vat vir jou ’n groot tablet en skryf daarop met gewone letters: ‘Vinnig kom die buit, gou is die prooi. (Maher-Shalal-Hash-Baz.)’”
2Ek het vir myself betroubare getuies geneem as getuies: Uriyah, die priester, en Z’kharyah, die seun van Y’verekyah.
3Ek het na die profetes gekom en sy het swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun. Toe het יהוה vir my gesê: “ Noem hom: ‘Maher-Shalal-Hash-Baz,’
4want voordat die seun sal weet hoe om uit te roep: ‘My vader!’ of: ‘My moeder,’ sal die rykdom van Dammesek en die buit van Shomron voor die koning van Ashur weggedra word.” 5Weer het יהוה verder met my gepraat en gesê: 6“In soverre hierdie volk die rustig vloeiende waters van Shiloah verwerp het en hulle verheug in Retzin en die seun van Remalyah; 7daarom, let op, יהוה is op die punt om die sterk en oorvloedige waters van die Eufraat oor hulle te laat kom; die koning van Ashur en al sy lof en eer en dit sal bo-oor al sy kanale opstyg en oor al sy walle gaan. 8Dan sal dit voortstroom in Y’hudah in, dit sal oorstroom en deur gaan; dit sal selfs tot by die nek kom en die uitsprei van sy vlerke sal die breedte van U land vul, o, God wat by ons is! (`Immanu’el) 9Bewe, o volke en word stukkend geslaan; luister, julle vanaf die ver plekke van die aarde: omgord julleself en word verslaan. 10Maak ’n plan en dit sal verydel word; maak ’n voorstel, maar dit sal nie staan nie, want God is by ons (`Immanu’el)!” 11Want so het יהוה met my gepraat; met magtige krag vir my instruksie gegee om nie te loop op die pad van hierdie volk nie en gesê: 12“Julle moenie sê: ‘’n Sameswering’ vir alles wat hierdie volk ’n sameswering noem nie en julle moenie bang wees waarvoor hulle bang is, of daarvoor vrees nie. 13יהוה-Tzva’ot, Hom moet julle as Afgesonderd beskou; Hy is julle God en Hy is julle Helper! 14Dan sal Hy ’n Toevlugsoord wees; asook ’n Klip om mee te slaan en ’n Rots om oor te struikel vir beide die huise van Yisra’el en ’n Vangnet en ’n Strik vir die inwoners van Yerushalayim. 15Baie sal oor dit struikel, dan sal hulle val en stukkend wees; hulle sal selfs verstrik en gevang word. 16Bind die getuienis toe, seël die wet tussen My studentevolgelinge.” 17Ek sal wag op יהוה, wat Sy gesig verberg vir die huis van Ya’akov; ek sal selfs gretiglik na Hom soek. 18Let op, ek en die seuns wat יהוה my gegee het, is as tekens en wonders in Yisra’el, vanaf יהוה-Tzva’ot wat op die berg Tziyon bly. 19Wanneer hulle vir julle sê: “Raadpleeg die mediums en die spiritiste wat fluister en mompel;” sulke mense is nie God se volk nie, hulle wat die dooies namens die lewendes raadpleeg. 20Wat die wet en die getuienis betref, as hulle nie praat volgens hierdie woord nie, is dit omdat hulle geen omkoopgeskenk daarvoor ontvang het nie. 21Hulle sal deur die land trek, beswaard en honger en dit sal wees dat wanneer hulle honger het, hulle woedend sal wees en hulle koning en hulle God sal vloek en hoogmoedig sal wees. 22Dan sal hulle na die aarde kyk en let op, nood, duisternis en die onheil van benoudheid sal hulle verstrooi, maar Hy sal hom wat in verdrukking is nie teister soos vroeër nie. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |