Jesaja 47
Afrikaans PWL
1“Kom af en sit in die stof, maagdelike dogter van Bavel! Sit op die grond sonder ’n troon, dogter van die Kasdeërs, want jy sal nie langer sag en delikaat genoem word nie.

2Vat die maalsteen en maal meel; verwyder jou sluier, trek uit die romp, ontbloot die been, trek deur die riviere!

3Jou naaktheid sal ontbloot word, jou skande sal ook ontbloot word! Ek sal wraak neem en geen mens spaar nie.”

4Ons Verlosser, Sy Naam (Karakter en Outoriteit) is יהוה-Tzva’ot, is die Afgesonderde Een van Yisra’el.

5“Sit stil en gaan in duisternis in, dogter van die Kasdeërs, want jy sal nie langer die koningin van die koninkryke genoem word nie.

6Ek was kwaad vir My volk, Ek het My erfenis onteer en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen omgee bewys nie, op die oues het jy jou juk baie swaar gemaak.

7Tog het jy gesê: ‘Ek sal ’n koningin wees vir altyd;’ jy het hierdie dinge nie in ag geneem of aan die einde daarvan gedink nie.

8Hoor nou dit, sensuele een, wat so veilig bly, wat in jou hart sê: ‘Ek is en daar is niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of verlies van kinders ken nie.’

9Hierdie twee dinge sal egter skielik, op een dag, oor jou kom: verlies van kinders en weduweeskap; in volle maat sal hulle oor jou kom, ondanks jou baie towerye, ondanks die groot krag van jou besweringe.

10Jy het veilig gevoel in jou boosheid en gesê: ‘Niemand sien my nie!’ Jou wysheid en jou kennis het jou mislei, want jy het in jou gedagtes gesê: ‘Ek is en daar is niemand anders nie!’

11Boosheid sal egter oor jou kom wat jy nie sal weet hoe om weg te toor nie en onheil sal op jou val wat jy nie kan toedek nie en vernietiging waarvan jy nie geweet het nie, sal skielik oor jou kom.

12Staan vas in jou besweringe en in jou baie toorderye waarmee jy jou van jou jeug af mee besig hou; miskien kan jy voordeel trek, miskien kan jy bewing veroorsaak!

13Jy word moeg gemaak deur jou baie planne; laat nou die astroloë, hulle wat deur die sterre profeteer, wat voorspel deur die Nuwemane, opstaan en jou red van wat oor jou sal kom.

14Let op, hulle het geword soos stoppels, vuur verbrand hulle; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie; daar sal geen kool wees om by warm te word of geen vuur om voor te sit nie!

15So het hulle geword waarmee jy gewerk en handel gedryf het van jou jeug af; elkeen het in sy eie rigting gedwaal; daar is niemand om jou te red nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 46
Top of Page
Top of Page