Jesaja 17
Afrikaans PWL
1Die profetiese visioen aangaande Dammesek: “Let op, Dammesek is op die punt om as stad verwyder te word en sal ’n gevalle puinhoop word.

2Die stede van `Aro’er is verlate; hulle sal vir die troppe vee wees om in te lê en daar sal niemand wees om hulle bang te maak nie.

3Die versterkte stad sal verdwyn uit Efrayim en koningskap uit Dammesek; die wat oorbly van Aram sal wees soos die lof en eer van die seuns van Yisra’el,” verklaar יהוה-Tzva’ot.

4“In daardie dag sal die lof en eer van Ya’akov wegkwyn en die vettigheid van sy vlees sal maer word.

5Dit sal wees soos wanneer die maaier die ongesnyde graan bymekaarvat en sy arm die are oes; of dit sal wees soos iemand wat are optel in die vallei van Refa’im.

6Tog sal ’n na-oes daarin gelos word soos by die skud van ’n olyfboom: twee, drie olywe aan die heelboonste tak; vier, vyf aan die takke van ’n vrugbare boom,” verklaar יהוה, die God van Yisra’el.

7“In daardie dag sal die mens sy Maker in ag neem en sy oë sal kyk na die Afgesonderde Een van Yisra’el.

8Hy sal nie die altare in ag neem nie, die werk van sy hande, of kyk na wat sy vingers gemaak het nie, selfs die Asherah en die wierook staanders.

9In daardie dag sal hulle sterk stede soos verlate plekke in die woud wees, of soos takke wat hulle gelos het voor die seuns van Yisra’el en die land sal ’n verlatenheid word,

10want jy het die God van jou verlossing vergeet en nie die Rots van jou toevlug onthou nie; daarom plant jy lieflike plante en lê dit uit met vreemde wingerdstokke.

11Op die dag dat jy hulle plant, sal hul bloeisels voortbring en in die oggend sal jou saad uitspruit, maar die oes sal ’n mislukking wees in die dag van sieklikheid en desperate pyn.

12Helaas, die gedruis van baie volke, wat brul soos die gedruis van die seë en die geraas van nasies wat voortjaag soos die geraas van magtige waters!

13Die nasies druis voort soos die gedruis van baie waters, maar Hy sal hulle bestraf en hulle sal ver weg vlug en gejaag word soos kaf in die berge voor die wind of soos stof voor ’n stormwind.

14In die aand, let op, is daar verskrikking! Voor die oggend is hulle nie meer nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder en die lot van hulle wat ons beroof.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 16
Top of Page
Top of Page