Hosea 7
Afrikaans PWL
1Wanneer Ek Yisra’el sou genees, word die onregverdigheid van Efrayim openbaar en die bose dade van Shomron, want hulle tree vals op en die dief breek in en rowers plunder buitekant

2en hulle oorweeg dit nie in hulle verstand dat Ek al hulle boosheid onthou nie. Nou is hulle dade reg rondom hulle; dit is voor My Teenwoordigheid.

3Met hulle boosheid verbly hulle die koning en met hulle leuens die vorste.

4Hulle pleeg almal owerspel; soos ’n oond wat opgewarm is deur die bakker, wat ophou om die vuur te stook vandat die deeg geknie word totdat dit deursuur is.

5Op die dag toe hulle begin raad gee het, het die prinse besoedeld geraak met die hitte van die wyn; hulle steek hul hande uit saam met die spotters.

6Hulle verstand, wil en emosie is warm, soos ’n oond, met hul sameswerings; hulle woede word die hele nag lank onderdruk, in die oggend brand dit soos ’n vlammende vuur.

7Hulle almal is so warm soos ’n oond en hulle verteer hul regeerders; al hulle konings het geval; nie een van hulle roep na My toe uit nie.

8Efrayim vermeng homself met die nasies; Efrayim het ’n koek geword wat nie omgekeer is nie.

9Vreemdelinge verteer sy krag, tog weet hy dit nie; grys hare word oor hom uitgestrooi, tog weet hy dit nie.

10Alhoewel die trotsheid van Yisra’el teen hom getuig, tog het hulle nie teruggedraai tot יהוה, hulle God, nie en hulle het Hom ook nie gesoek te midde van dit alles nie.

11So het Efrayim geword soos ’n eenvoudige duif sonder verstand; hulle roep na Mitzrayim, hulle gaan na Ashur.

12Wanneer hulle gaan, sal Ek My net oor hulle uitsprei; soos die voëls van die hemel bring Ek hulle af; Ek sal hulle tugtig volgens die getuienis wat teen hulle gehoor word.

13Wee hulle omdat hulle van My af weggedwaal het! Verwoesting behoort aan hulle omdat hulle teen My rebelleer het! Ek wou hulle loskoop, maar hulle praat leuens teen My.

14Hulle roep ook nie uit na My vanuit hulle binneste wanneer hulle op hul beddens huil nie; ter wille van koring en nuwe wyn kom hulle bymekaar; hulle draai weg van My af.

15Alhoewel Ek hulle arms geoefen en versterk het, het hulle boosheid teen My beraam.

16Hulle draai, maar nie na bo nie; hulle is soos ’n bedrieglike boog; hulle prinse sal deur die swaard val weens die astrantheid van hulle tong. Dit sal hulle bespotting wees in die land van Mitzrayim.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hosea 6
Top of Page
Top of Page