Hosea 10
Afrikaans PWL
1Yisra’el is ’n weelderige wynstok; hy produseer vrugte vir homself. Hoe meer vrug hy gedra het, hoe meer altare het hy gebou; hoe ryker sy lande, hoe beter het hy die pilare gemaak.

2Hulle verstand wil en emosie is vertroueloos; nou moet hulle hul skuld dra; יהוה sal hulle altare afbreek en hulle pilare vernietig.

3Nou sal hulle sekerlik sê: “Ons het geen koning nie, want ons het nie respekvolle vrees vir יהוה nie. Die koning, wat kan hy vir ons doen?”

4Hulle praat woorde wat aan vals altare behoort; hulle het die verbond verbreek en die prys betaal. Hulle is soos vore in ’n droë land.

5Die inwoners van Shomron sal vrees oor die kalf van Beit-Aven; inderdaad sal sy mense oor hom treur en sy afgodspriesters oor hom in die rondte swaai, oor sy eer, lof en aanbidding omdat dit hom verlaat het.

6Die ding sal self ook na Ashur weggedra word as ’n geskenk aan koning Yarev; Efrayim sal met skaamte gegryp word en Yisra’el sal beskaamd staan oor sy eie raad.

7Shomron sal afgesny word met sy koning soos ’n stok op die oppervlak van die water.

8Ook die hoë plekke van die afgod van Aven, Yisra’el se sonde, sal vernietig word; dorings en distels sal op hulle altare groei; dan sal hulle vir die berge sê: “Bedek ons!” en vir die heuwels: “Val op ons!”

9Sedert die dae van Giv’ah het jy gesondig, o Yisra’el! Daar staan hulle! Sal die geveg teen die seuns van onregverdigheid hulle nie oorval in Giv’ah nie?

10Wanneer dit My begeerte is, sal Ek hulle tugtig en die volke sal teen hulle versamel word, wanneer hulle gebind word vir hulle dubbele skuld.

11Efrayim is ’n geleerde jong koei wat lief is om te dors, maar Ek sal oor haar mooi nek gaan met ’n juk; Ek sal Efrayim inspan, Y’hudah sal ploeg, Ya’akov sal vir homself eg.

12Saai met die oog op onpartydige opregtheid, maai volgens sagte omgee; breek julle braakland op, want dit is tyd om יהוה te soek totdat Hy kom om onpartydige opregtheid oor julle te laat reën.

13Julle het boosheid ingeploeg, julle het onregverdige oordeel gemaai. Julle het die vrug van leuens geëet. Omdat jy op jou metode vertrou het, op jou menigte soldate,

14sal daar daarom ’n opstand onder jou mense ontstaan en al jou vestings sal vernietig word net soos Shalman’eser vir Beit-Arbel verwoes het op die dag van die geveg; toe moeders met hulle kinders verpletter is.

15Net so sal dit met julle gedoen word by Beit-El as gevolg van julle groot boosheid. Met sonsopkoms sal die koning van Yisra’el volkome afgesny wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hosea 9
Top of Page
Top of Page