Hosea 1
Afrikaans PWL
1Die woord van יהוה wat gekom het tot Hoshea, die seun van Be’eri, gedurende die dae van `Uziyah, Yotam, Agaz en Hizkiyahu, konings van Y’hudah en in die dae van Yarov’am, die seun van Y’ho’ash, koning van Yisra’el.

2Die eerste keer dat יהוה deur Hoshea gepraat het, het יהוה vir Hoshea gesê: “Gaan, vat vir jouself ’n vrou vanuit hoerery en kry kinders vanuit hoerery, want die land het blatante hoerery gepleeg, deur יהוה in die steek te laat.” 3Hy het gegaan en Gomer, die dogter van Divlayim, gevat en sy het swanger geword en vir hom geboorte gegee aan ’n seun. 4יהוה het vir hom gesê: “Noem hom Yizre’el, want binne ’n kort rukkie sal Ek die huis van Yehu straf vir die bloedvergieting van Yizre’el en Ek sal ’n einde maak aan die koninkryk van die huis van Yisra’el. 5Op daardie dag sal Ek die boog van Yisra’el verbreek in die vallei van Yizre’el.”

6Toe het sy weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n dogter en יהוה het vir hom gesê: “Noem haar Lo-Rugamah, want Ek sal nie langer liefdevol omgee vir die huis van Yisra’el dat Ek hulle ooit sal vergewe nie, 7maar Ek sal liefdevol omgee vir die huis van Y’hudah en hulle bevry deur יהוה, hulle God en hulle nie bevry deur boog, swaard, oorlog, perde of ruiters nie.”

8Nadat sy Lo-Rugamah gespeen het, het sy weer swanger geword en geboorte gegee aan ’n seun. 9יהוה het gesê: “Noem hom Lo-`Ammi, want julle is nie My volk nie en Ek is nie julle God nie.”

10(2:1) Nogtans sal die getal van die seuns van Yisra’el soos die sand van die see wees, wat nie gemeet en nie getel kan word nie en in die plek waar vir hulle gesê word: “Julle is nie My volk nie,” sal dit vir hulle gesê word: “Seuns van die lewende God.”

11(2:2) Die seuns van Y’hudah en die seuns van Yisra’el sal saam bymekaar gemaak word en hulle sal vir hulleself een leier aanstel en opgaan vanuit die land, want groot sal die dag van Yizre’el wees!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Daniel 12
Top of Page
Top of Page