Hebreërs 7
Afrikaans PWL
1Hierdie Malki-Tzedek was koning van Shalem, nie-Levitiese priester van God Ha’Elyon (die Allerhoogste), wat vir Avraham ontmoet het by sy terugkoms na die slagting van die konings en hom geseën het. 2Aan hom het Avraham ’n tiende deel van alles uitgedeel. Sy naam word vertaal as: koning van onpartydige opregtheid en ook koning van Shalem, dit is, koning van vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed. 3Sonder dat sy vader of sy moeder in die geslagsregister opgeteken is, ook nie sy begin van dae of sy lewenseinde nie, maar net soos dié van die Seun van God, bly sy priesterskap vir ewig.

4Hoeveel groter is hierdie man as Avraham, hoof van die vaders wat ’n tiende van die beste, vir hom gegee het. 5Hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, het ’n opdrag om, volgens die geskrewe wet, van die mense tiendes te neem, van hulle broers, alhoewel hulle ook die nageslag van Avraham is, 6maar hy wat nie in húlle geslagsregister opgeskryf is nie, het van Avraham tiendes ontvang en die een, wat die belofte ontvang het, geseën. 7Sonder enige teëspraak is dit die mindere wat deur die meerdere geseën word. 8Hier ontvang sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie die Skrifte getuig dat hy lewe. 9Om dit so te stel: Levi, wat tiendes ontvang, het deur Avraham tiendes gegee, 10want hy was nog in die liggaam van sy vader toe hy Malki-Tzedek ontmoet het.

11As daar dus volledige afhandeling deur die Levitiese priesterskap was, waardeur die geskrewe wet vir die mense vasgestel is, waarom was dit nog nodig dat ’n ander nie-Levitiese priester moes opstaan, volgens die beeld van Malki-Tzedek? Sê dit dat Hy volgens die beeld van Aharon sal wees? 12Net soos daar ’n verandering in die priesterskap gekom het, net so was daar ’n verandering in die reëls, 13want Hy van Wie hierdie dinge gesê word, behoort aan ’n ander stam, waaruit niemand nog ooit by die altaar bedien het nie, 14want dit is bekend dat ons Meester vanuit Y’hudah opgegroei het; ’n stam waarvan Moshe niks aangaande die priesterskap gesê het nie. 15Nog baie duideliker is dit: dat hy sê dat ’n ander nie-Levitiese Priester volgens die beeld van Malki-Tzedek opstaan. 16Hy wat dit nie was volgens die wet van opdragte, na die liggaamlike, nie, maar deur die krag van lewe wat nie vernietig word nie,

17want Hy getuig aangaande Hom: “U is nie-Levitiese Priester vir ewig volgens die beeld van Malki-Tzedek,”

18want daar was eers ’n verandering aan die orde weens die onvermoë daarvan en dat daar geen voordeel in was nie, 19want die geskrewe wet het niks tot sy einddoel gebring nie, maar ’n versekerde verwagting het in sy plek ingekom, waarin ons tot God nader, wat beter is as dit. 20Hy het dit aan ons bevestig deur ’n eed,

21want húlle was priesters sonder ’n eed, maar Hy met ’n eed, soos wat Hy, deur Dawid, van Hom gesê het: “יהוה het ’n eed gesweer en Hy sal nie lieg nie: U is nie-Levitiese Priester vir ewig volgens die beeld van Malki-Tzedek,”

22waarvolgens Yeshua van ’n baie beter verbond die waarborg is.

23Hulle het priesters geword in groot getalle omdat hulle deur die dood verhinder is om voort te gaan, 24maar omdat Hy ewig is, gaan Sy nie-Levitiese Priesterskap nie verby nie 25en kan Hy ewige lewe gee aan hulle wat deur Hom naderkom na God toe, want Hy leef vir altyd en offer gebede in ons plek,

26want so ’n nie-Levitiese Hoofpriester is ook reg vir ons, rein, sonder boosheid, sonder ontering, wat afgesonderd is van sonde en wat hoër as die hemele opgelig is; 27wat nie nodig het, soos die vorige hoofpriesters, om elke dag vir Sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die mense nie, want Hy het dit eenmalig gedoen deur Sy lewe te offer, 28want die wet stel mense met swakhede as hoofpriesters aan, maar die boodskap van die eed, wat ná die wet is, stel die Seun aan, wat vir ewig die doel bereik.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hebrews 6
Top of Page
Top of Page