Hebreërs 10
Afrikaans PWL
1want die geskrewe wet was ’n skaduwee van die goeie dinge wat sou kom, nie die kern van die dinge nie omdat die offers wat elke jaar gebring word, dié wat hulle offer, nooit volmaak kan maak nie, 2want as dit volmaak gemaak het, sou hulle sonder twyfel opgehou het om te offer omdat hulle geen gewete meer oor sondes sou hê nadat hulle een maal gereinig is nie, 3maar deur die offers onthou hulle elke jaar hul sondes, 4want dit is nie moontlik vir die bloed van bulle en jaaroud bokke om die sonde weg te was nie.

5Toe Hy in die wêreld inkom, het Hy daarom gesê: “Offers en brandoffers wou U nie gehad het nie, maar U het My met ’n liggaam aangetrek.

6Brandoffers van vrede vir sonde het U nie gevra nie.

7Toe het Ek gesê: “Let op, Ek kom,” want aan die begin van die Geskrifte is dit van My geskryf, “om U wil te doen, o God.”

8Hierbo sê Hy: “Offers, graanoffers, brandoffers en sondoffers wil U nie hê nie,” dit wat volgens die geskrewe wet geoffer word, 9daarna het Hy gesê: “Let op, Ek kom om U wil te doen, o God.” Hierin skaf Hy die eerste af om die tweede te vestig, 10want in Sy wil word ons net een maal afgesonder deur die offer van die liggaam van Yeshua, Die Gesalfde Een.

11Elke hoofpriester staan elke dag om te bedien en dieselfde offers te bring wat van die ou tyd af nooit die sondes kon verwyder nie, 12maar Hy het een offer ter wille van sonde gebring en gaan sit aan die regterkant van God vir altyd, 13wagtend verder totdat Sy vyande ’n voetbank onder Sy voete gemaak is, 14want deur een offer het Hy vir altyd die wat daardeur afgesonder is, tot die doel gebring. 15Die Gees van Afsondering getuig ook vir ons en sê:

16“Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae,” sê יהוה; “Ek sal My wet gee in hulle begrip en in hulle verstand, wil en emosie sal Ek dit inskryf

17en hulle sondes en hulle oortredinge van die wet sal Ek nie onthou nie,”

18maar waar daar vergifnis van sonde is, is daar nie ’n offer vir die sonde nodig nie.

19Daar is dus vir ons vrymoedigheid broers, om in die Afgesonderde Plek in te gaan deur die bloed van Yeshua 20en deur die metode van Lewe, wat ons vernuwe het binne die skeidingsgordyn, wat Sy liggaam is 21en ons het ’n Groot nie-Levitiese Priester oor die huis van God. 22Laat ons nader gaan met ’n opregte verstand, wil en emosie in sekerheid van vertroue terwyl ons verstand, wil en emosie besprinkel is en gereinig is van ’n bose gewete en ons liggaam gewas is met skoon water. 23Laat ons vashou aan die belydenis van ons versekerde verwagting en nie wankel nie, want Hy wat dit beloof het, is vertrouenswaardig. 24Neem mekaar in ag deur mekaar aan te moedig deur liefde en goeie werke. 25Ons moenie ons byeenkomste, soos die gewoonte vir elke persoon is, staak nie, maar kyk uit vir mekaar, al hoe meer namate julle daardie dag sien nader kom,

26want as iemand opsetlik sondig nadat hy die kennis van die waarheid ontvang het, is daar nie ’n offer wat agterna geoffer kan word vir sondes nie, 27maar die verskriklike oordeel van die verterende vuur, wat die teëstanders sal verteer. 28As iemand teen die wet van Moshe oortree het, sterf hy op die getuienis van twee of drie sonder oorsien. 29Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy ontvang wat die Seun van God vertrap het en die bloed van Sy verbond gewoon geag het, wat daardeur afgesonder is en die Gees van onverdiende guns verag het? 30Ons ken Hom wat gesê het: “My kom die wraak toe, Ek sal terugbetaal,” sê יהוה; en weer: “יהוה sal Sy volk oordeel.” 31Dit is verskriklik erg om in die hande van die lewende God te val.

32Onthou daarom die eerste dae waarin julle die doop ontvang het en julle ’n groot stryd van lyding deurstaan het met skande en droefheid 33en julle ’n bespotting gemaak is omdat julle deelgenote geword het van die wat hierdie dinge deurgemaak het 34en dit ook vir julle pynlik was, saam met die wat gevange geneem is en julle die berowing van julle goed met blydskap aanvaar het omdat julle geweet het dat julle ’n beter besitting het in die hemel, wat nie verbygaan nie. 35Moet daarom nie julle vrymoedigheid weggooi nie, want daar kom ’n groot beloning daarvoor, 36want julle het geduld nodig om die wil van God te doen en die belofte te ontvang,

37want daar is baie min tyd voordat Hy wat kom, sál arriveer en nie talm nie,

38maar die onskuldiges sal vanuit My vertroue lewe en as hy dit opgee, is Ekself nie met hom tevrede nie,

39maar ons is nie wanhopig, wat lei tot vernietiging, nie, maar in vertroue, wat aan ons lewe gee.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hebrews 9
Top of Page
Top of Page