Habakuk 1
Afrikaans PWL
1Die profetiese visioen wat Havakkuk, die profeet, gesien het:

2Hoe lank, o יהוה, sal ek om hulp roep en U hoor nie? Ek roep uit tot U: “Geweld!” Tog red U nie.

3Waarom laat U my onregverdigheid sien en laat my kyk na boosheid? Ja, verwoesting en geweld is voor my; daar is stryd en twis styg op;

4daarom word die wet geïgnoreer en die regverdige oordeel word nooit toegepas nie, want die bose omsingel die regverdige; daarom kom die reg verdraaid uit.

5“Kyk na die nasies! Neem waar! Wees verstom, verbaas, want Ek doen iets in julle dae wat julle nie sou glo as dit vertel word nie,

6want let op, Ek hef die Kasdeërs op, daardie woeste en voortvarende volk wat oral oor die aarde marsjeer om blyplekke te vat wat nie hulle s’n is nie.

7Hulle is verskriklik en gevreesd; hulle oordeel en outoriteit kom uit hulleself.

8Hulle perde is vinniger as luiperds en yweriger as wolwe in die aand. Hulle ruiters kom op ’n galop, hulle kom van ver; hulle vlieg soos ’n arend wat afduik om te verslind.

9Hulle kom almal vir geweld. Hulle hordes van gesigte kom vorentoe, hulle versamel gevangenes soos sand.

10Hulle dryf die spot met konings; heersers is vir hom ’n lagwekkendheid. Hulle lag vir elke vesting en hoop grond op om dit in te neem,

11dan gly hulle deur soos die wind en gaan verder, maar hulle sal skuldig bevind word, hulle wie se krag hulle god is.”

12Is U dan nie van ewig af nie, o יהוה, my God, my Afgesonderde Een? Ons sal nie sterf nie. U, יהוה, het hulle aangestel om te oordeel en U, o Rots, het hulle daar gestel om te korrigeer.

13U oë is te rein om boosheid goed te keur en U kan nie met aanvaarding kyk na boosheid nie. Waarom kyk U met aanvaarding na hulle wat verraderlik optree? Hoekom is U stil wanneer die bose dié verslind wat regverdiger is as hulle?

14Hoekom maak U mense soos die visse van die see, soos kruipende gediertes sonder ’n heerser oor hulle?

15Hulle trek hulle almal op met ’n hoek, sleep hulle weg in hul net en maak hulle bymekaar in hul visnet; daarom swaai hulle in die rondte van vreugde en is bly;

16daarom offer hulle ’n offer aan hul net en brand wierook vir hul visnet omdat hulle vangs groot is deur hierdie dinge en hulle kos oorvloedig.

17Sal hulle daarom hul net uitskud en voortdurend nasies doodmaak sonder om te spaar?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Nahum 3
Top of Page
Top of Page