Genesis 49
Afrikaans PWL
1Ya’akov het sy seuns geroep en gesê: “Staan rondom dat ek julle kan vertel wat oor julle sal kom in die laaste dae.

2Kom bymekaar en hoor, seuns van Ya’akov en luister na Yisra’el, julle vader!

3Re’uven, jy is my eersgeborene, my krag en die begin van my sterkte; die uitstaande in verhewenheid en die uitstaande in sterkte!

4Soos opbruisende waters sal jy nie vooruitgaan nie, want jy het opgegaan na jou vader se bed; waarlik, jy het my bed onteer deur op te gaan daarin.

5Shim’on en Levi is broers. Hulle wapens is implemente van geweld.

6My wil, emosie, verstand en gees het nie saamgestem met hulle raad nie; ek het my ook nie verlaag om in hulle vergadering te sit nie, want in hulle kwaadwees slaan hulle mans dood en in hulle woede vernietig hulle ’n stadsmuur.

7Vervloek is hulle woede, want dit is heftig en hulle wraak, want dit is wreed. Ek sal hulle verdeel in Ya’akov en hulle verstrooi in Yisra’el.

8Y’hudah, jy is die een; jou broers sal jou loof en dank met uitgestrekte hande. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig.

9Y’hudah is ’n jong leeu; Open 5:5 van die prooi af het jy opgegaan, my seun. Hy buig af, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin; wie sal hom opjaag?

10Die staf sal van Y’hudah nie weggaan nie, nóg die wetgewer van tussen sy voete uit totdat die Een kom aan Wie die septer behoort; aan Hom sal die nasies gehoorsaam wees.

11Hy maak sy donkie vas aan die wingerdstok en die vul van sy donkie aan die edelste wynstok; Hy bleik sy klere in wyn en sy kledingstukke in die sap van druiwe.

12Sy oë skitter van wyn en sy tande is wit van melk.

13Z’vulun sal woon by die seestrand en hy sal ’n hawe word vir die skepe, langs Tzidon.

14Yissakhar is ’n sterk donkie wat lê tussen twee laste.

15Hy het gesien dat die rusplek goed en die land lieflik is. Hy het sy skouer gebuig om ’n las te dra en hy het ’n slaaf geword van eerbewys.

16Dan sal sy mense oordeel as ‘n stam van Yisra’el.

17Dan sal ’n slang daar langs die pad wees, ’n adder op die pad, wat die perd aan die hakskene byt sodat sy ruiter agteroorval.

18Op U verlossing wag ek, יהוה!

19Gad sal uitgaan om te plunder en hy sal sy vyande se hakskene agtervolg.

20Brood van Asher sal ryk wees en hy sal koninklike lekkernye voortbring.

21Naftali is soos ’n wildsbok wat vrygelaat is, hy laat mooi woorde hoor.

22Yosef is ’n gedissiplineerde seun, ’n geleerde seun, ’n vrugbare tak by ’n fontein; sy takke het oor die muur geklim.

23Die boogskutters het met hom baklei en baie in getal was jaloers op hom,

24maar hy het sy boog in krag gebuig en sy arms is versterk deur die hande van die Magtige Een van Ya’akov; deur die Herder, die Mag van Yisra’el:

25‘Mag die Magtige God van jou vader, jou help en die Almagtige jou seën met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die diepte wat daaronder lê, met seëninge van borste en baarmoeder.

26Die seëninge van jou vader het tot die uiterste grense van die ewige heuwels bly staan, bo die seëninge van my voorgeslag. Dit sal wees op die kop van Yosef; op die kroon van die kop van hom wat die prins is van sy broers.’

27Binyamin is ’n verskeurende wolf; in die oggend eet hy sy prooi en in die aand deel hy buit uit.

28Hierdie is al twaalf die stamme van Yisra’el en dit is wat hulle vader vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën en hy het hulle elkeen volgens sy eie seën geseën.

29Hy het hulle beveel en vir hulle gesê: “Ek word byeengebring by my mense. Begrawe my by my vaders in die grot wat in die veld van `Efron, die Hettiet, is; 30in die grot wat in die veld van Makhpelah is, wat voor Mamre lê, in die land Kena’an; die veld wat Avraham van `Efron, die Hettiet, as eiendom vir ’n graf gekoop het. 31Daar het hulle Avraham en Sarah, sy vrou, begrawe; daar het hulle Yitz’gak en Rivkah, sy vrou begrawe en daar het ek Le’ah begrawe; 32die veld en die grot wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.” 33Toe Ya’akov klaar bevele aan sy seuns gegee het, het hy sy voete teruggetrek op die bed en sy asem uitgeblaas en hy is by sy volksgenote byeengebring.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 48
Top of Page
Top of Page