Genesis 32
Afrikaans PWL
1Ya’akov het op sy pad gegaan en die engele van God het hom ontmoet. 2Toe hy hulle sien, sê Ya’akov: “Dit is die kamp van God” en hy het die plek Maganayim genoem.

3Ya’akov het boodskappers voor hom uitgestuur na sy broer `Esav in die land van Se’ir, die land Edom 4en aan hulle bevel gegee en gesê: “So moet julle aan my meester, aan `Esav, sê: ‘So sê Ya’akov, u dienskneg; ek het as besoeker gebly by Lavan en daar gebly tot nou toe 5en ek het beeste, donkies, kleinvee, slawe en slavinne en ek laat weet dit vir my meester sodat ek guns mag vind in u oë.’”

6Die boodskappers het na Ya’akov teruggekom en gesê: “Ons het by u broer `Esav gekom en hy gaan u alreeds tegemoet en het vier honderd man saam met hom.” 7Ya’akov was bang en baie benoud en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee, beeste en kamele in twee groepe verdeel, 8want hy het gedink: “As `Esav by die een groep kom en dit verslaan, sal die groep wat oorbly, ontsnap.”

9Ya’akov het gebid en gesê: “O God van my vader Avraham en God van my vader Yitz’gak, יהוה, wat my beveel het: gaan terug na jou land en na jou familie en Ek sal aan jou goed doen; 10ek is nie al die guns en al die getrouheid wat U aan u dienskneg bewys het waardig nie, want ek het met my staf oor hierdie Yarden getrek en nou het ek twee groepe geword. 11Red my asseblief uit die hand van my broer, uit die hand van `Esav, want ek is bang vir hom dat hy sal kom en my doodslaan, die moeders saam met die seuns. 12U het tog self gesê: ‘Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte daarvan nie getel kan word nie.’”

13Hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy hand gekom het as ’n geskenk gevat vir sy broer `Esav: 14twee honderd bokooie en twintig bokramme, twee honderd skaapooie en twintig ramme, 15dertig melkkamele en hulle kalwers, veertig koeie en tien bulle, twintig donkiemerries en tien jong donkies 16en hy het hulle aan sy diensknegte oorhandig, elke trop afsonderlik en aan sy diensknegte gesê: “Gaan voor my uit en laat ’n ruimte oop tussen trop en trop.” 17Hy beveel die eerste een en sê: “As my broer `Esav jou ontmoet en jou vra: ‘Aan wie behoort jy, waarheen gaan jy en wie se besittings is daar voor jou?’ 18dan moet jy antwoord: ‘U dienskneg Ya’akov s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my meester `Esav stuur en let op, hy self kom ook agter ons aan’.” 19Hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het en gesê: “Net so moet julle `Esav antwoord as julle hom ontmoet; 20julle moet sê: ‘Let op, u dienskneg Ya’akov kom ook agter ons aan’,” want hy het gedink: laat ek hom tevrede stel met die geskenk wat voor my uit gaan en daarna, as ek sy gesig sien, miskien sal hy my aanvaar. 21So het die geskenk voor hom uitgegaan, maar hy self het dié nag in die kamp gebly.

22Hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue, sy twee slavinne en sy elf seuns gevat en deur die drif van die Yabbok getrek. 23Hy het hulle gevat en hulle oor die stroompie laat gaan, asook wat aan hom behoort oorgestuur,

24maar Ya’akov het alleen agtergebly en ’n Man het met hom gestoei tot dagbreek toe. 25Toe Hy sien dat Hy hom nie kon wen nie, slaan Hy hom op sy heupbeen sodat die heupbeen van Ya’akov uit lit geraak het soos hy met Hom gestoei het. 26Hy sê: “Laat My gaan, want die dag het gebreek.” Hy antwoord: “Ek sal U nie laat gaan nie, tensy U my seën.” 27Hy vra hom: “Wat is jou naam?” Hy antwoord: “Ya’akov.” 28Hy sê: “Jy sal nie meer Ya’akov genoem word nie, maar Yisra’el, want jy het krag soos ’n prins gehad teenoor God en die mense en het oorwin.” 29Ya’akov vra en sê: “Maak asseblief U Naam (Karakter en Outoriteit) bekend!” Hy antwoord: “Waarom vra jy na My Naam?” Hy het hom daar geseën. 30Ya’akov het die plek P’ni-El genoem; ek het God van gesig tot gesig gesien en tog is my lewe gered. 31Die son het vir hom opgegaan net toe hy oor P’ni-El gaan en hy was mank aan sy heup; 32daarom eet die kinders van Yisra’el tot vandag toe nie die heupsening, wat aan die heupbeen is nie omdat Hy Ya’akov op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 31
Top of Page
Top of Page