Genesis 22
Afrikaans PWL
1Ná hierdie dinge het God Avraham getoets en vir hom gesê: “Avraham!” Hy antwoord: “Hier is ek!” 2Hy sê: “Neem nou jou seun, jou uniek enigste wat jy liefhet, Yitz’gak en gaan na die land Moriyah en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek vir jou sal uitwys.” 3Avraham het die oggend vroeg opgestaan, sy donkie opgesaal en twee van sy jong diensknegte en sy seun Yitz’gak saam met hom gevat. Hy het hout gekloof vir ’n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom uitgewys het. 4Op die derde dag slaan Avraham sy oë op en sien die plek van ver af 5en Avraham sê vir sy jong diensknegte: “Bly julle hier met die donkie; ek en die seun sal daarheen gaan om te aanbid en ons sal dan na julle toe terugkom.” 6Avraham het die hout vir die brandoffer gevat en dit op sy seun Yitz’gak gesit en die vuur en die mes in sy hand gevat en hulle twee het saam geloop. 7Toe praat Yitz’gak met sy vader Avraham en sê: “My vader!” Hy antwoord: “Hier is ek, my seun!” Hy sê: “Let op, die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ’n brandoffer?” 8Avraham antwoord: “God sal vir Homself die lam vir ’n brandoffer voorsien, my seun.” So het hulle twee saam geloop.

9Hulle het op die plek wat God vir hom uitgewys het gekom en Avraham het ’n altaar daar gebou en die hout reggesit en sy seun Yitz’gak vasgebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. 10Avraham het sy hand uitgesteek en die mes gevat om sy seun dood te maak.

11Die Engel van יהוה het van die hemele af na hom geroep en gesê: “Avraham, Avraham!” Hy antwoord: “Hier is ek!” 12Hy sê: “Moenie jou hand aan die seun slaan of enige iets aan hom doen nie, want nou weet Ek dat jy God respekvol vrees omdat jy nie jou seun, jou uniek enigste, van My teruggehou het nie.” 13Avraham het sy oë opgeslaan en ’n ram gesien wat agter hom in ’n bos aan sy horings vasgesit het. Avraham het gegaan en die ram gevat en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. 14Avraham het dié plek: יהוה-Yir’eh genoem sodat vandag nog gesê word: ‘Op die berg van יהוה sal dit voorsien word (sal Hy daarna kyk).’

15Die Engel van יהוה roep vir die tweede keer van die hemel af na Avraham 16en sê: “’Ek het by Myself gesweer,’ sê יהוה, ‘omdat jy dit gedoen het en nie jou seun, jou uniek enigste, teruggehou het nie 17sal Ek jou in seëninge seën en jou nageslag in vermeerdering vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is en jou nageslag sal die poorte van hul vyande in besit neem 18en in jou Saad sal al die nasies van die aarde geseën word omdat jy My stem gehoorsaam het.’” 19Avraham het na sy jong diensknegte toe teruggekeer en hulle het opgestaan en saam na Be’er-Sh’va gegaan en Avraham het in Be’er-Sh’va gebly.

20Ná hierdie dinge het hulle aan Avraham berig gebring en gesê: “Let op, Milkah het ook geboorte gegee aan seuns vir jou broer Nagor: 21Utz, sy eersgeborene, Buz, sy broer, K’mu’el, die vader van Aram, 22Kesed, Hazo, Pildash, Yidlaf en B’tu’el. 23B’tu’el was die vader van Rivkah. Milkah het aan hierdie agt geboorte gegee vir Nagor, die broer van Avraham. 24Sy byvrou, met die naam van Re’umah, het ook geboorte gegee aan Tevag, Gagam, Tagash en Ma’akhah.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 21
Top of Page
Top of Page