Genesis 20
Afrikaans PWL
1Avraham het daarvandaan weggetrek na die Negev en gaan bly tussen Kadesh en Shur en as besoeker in G’rar gebly. 2Avraham het van Sarah, sy vrou, gesê: “Sy is my suster.” Avimelekh, die koning van G’rar, het Sarah laat haal. 3God het egter in die nag by Avimelekh gekom in ’n droom en vir hom gesê: “Let op, jy is dood as gevolg van die vrou wat jy gevat het, want sy is ’n getroude vrou.” 4Avimelekh het egter nog nie naby haar gekom nie en hy vra: “יהוה, sal U ’n opregte en onskuldige nasie ook doodmaak? 5Het hy nie self vir my gesê: ‘Sy is my suster’ nie en het sy nie self ook gesê: ‘Hy is my broer’ nie? In die onskuld van my verstand en begrip en in die reinheid van my hande het ek hierdie ding gedoen.” 6God het vir hom in die droom gesê: “Ja, Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou verstand en begrip gedoen het en Ekself het jou daarvan weerhou om nie teen My te sondig nie; daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. 7Gee nou die man se vrou terug, want hy is ’n profeet en hy sal vir jou bid sodat jy kan lewe, maar as jy haar nie teruggee nie, weet dan dat jy die dood sal sterf, jy en alles wat aan jou behoort.”

8Avimelekh het die oggend vroeg opgestaan en al sy diensknegte geroep en al die dinge vir hulle ore gesê en die manne was baie bang. 9Avimelekh het Avraham laat roep en hom gevra: “Wat het jy aan ons gedoen? Wat het ek teen jou gesondig dat jy oor my en my koninkryk ’n groot sonde gebring het? Jy het aan my gedoen wat nie gedoen mag word nie.” 10Avimelekh sê ook vir Avraham: “Wat het jou oorreed om hierdie daad te doen?” 11Avraham antwoord: “Omdat ek gedink het dat daar geen respekvolle vrees vir God in hierdie plek is nie sodat hulle my oor my vrou sal doodmaak 12en sy is ook werklik my suster; sy is my vader se dogter, maar nie my moeder se dogter nie en sy het my vrou geword. 13Toe dit gebeur het dat God my uit die huis van my vader laat wegtrek het, het ek vir haar gesê: ‘Dit is die guns wat jy van jou kant aan my moet bewys: op elke plek waar ons kom, moet jy van my sê: “Hy is my broer”’.” 14Toe neem Avimelekh kleinvee, beeste, slawe en slavinne en gee dit vir Avraham. Hy het ook sy vrou, Sarah, aan hom teruggegee. 15Avimelekh sê: “Let op my land lê voor jou oop, bly net waar dit goed is in jou oë.” 16Vir Sarah sê hy: “Let op, ek gee vir jou broer ’n duisend stukke silwer. Let op, dit is omdat jy verneder is in die oë van my mense en vir die ander dinge waaroor ek jou tereggewys het.” 17Toe het Avraham tot God gebid en God het Avimelekh gesond gemaak, asook sy vrou en sy slavinne sodat hulle geboorte kon gee, 18want יהוה het elke baarmoeder van die huis van Avimelekh heeltemal toegesluit ter wille van Sarah, die vrou van Avraham.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Genesis 19
Top of Page
Top of Page