Galasiërs 1
Afrikaans PWL
1Sha’ul, ’n afgevaardigde - nie vanaf mense of deur ’n mens aangestel nie, maar deur Yeshua, Die Gesalfde Een en deur God-die-Vader wat Hom uit die dood uit opgewek het 2en al die broers wat by my is; aan die gemeente wat in Galatia is:

3onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van God-die-Vader en van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, 4Hy wat Homself gegee het ter wille van ons sondes, om ons te bevry uit hierdie bose wêreld, volgens die wil van God, ons Vader, 5aan Wie die eer, lof en aanbidding toekom vir ’n tydlose ewigheid! Dit is waar.

6Ek is verstom dat julle so vinnig na ’n ander ‘goeie boodskap,’ wat nie bestaan nie, weggedraai word, weg van Die Gesalfde Een af, wat julle deur Sy onverdiende guns geroep het, 7deur sommige mense, wat julle lastig val en die goeie boodskap van Die Gesalfde Een wil verdraai. 8Selfs as ons, of ’n boodskapper uit die hemel, vir julle ’n goeie boodskap verkondig anders as die goeie boodskap wat ons aan julle verkondig het, sal hy vervloek wees! 9Net soos wat ons dit van die begin af sê, sê ek nou ook weer: enige iemand wat aan julle ’n goeie boodskap verkondig anders as die wat julle ontvang het, sal vervloek wees!

10Soek ek inderdaad nou die aanvaarding van mense, of van God? Probeer ek om mense tevrede te stel? As ek tot nou toe mense tevredegestel het, dan is ek nie ’n slaaf van Die Gesalfde Een nie,

11maar ek verklaar teenoor julle, my broers, dat die goeie boodskap wat deur my verkondig is, nie vanaf die mens is nie 12en ek het ook nie vanaf ’n mens lering gekry in die openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een, nie.

13Julle het gehoor van my vroeëre lewenswyse, wat in Judaïsme was, veral dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit vernietig het 14en dat ek in Judaïsme uitgestyg het ver bo baie volksgenote van my eie ouderdom en baie ywerig was aangaande die leringe van my voorvaders. 15Toe God, wat my afgesonder het van die baarmoeder van my moeder af en my deur Sy onverdiende guns geroep het, dit egter goed gedink het, 16om Sy Seun in my te openbaar sodat ek Hom onder die ander nasies sou verkondig, het ek dit nie dadelik aan enige mens openbaar nie 17en ook nie na Yerushalayim opgegaan na dié wat voor my afgevaardigdes was nie, maar na Arabië gegaan en toe weer na Dammesek teruggekom.

18Ná drie jaar het ek na Yerushalayim opgegaan om Kefa te ontmoet en vyftien dae by hom gebly 19en ek het geen ander van die afgevaardigdes gesien nie, behalwe Ya’akov, die broer van ons Meester. 20Hierdie dinge wat ek vir julle skryf: let op, in die Teenwoordigheid van God, ek lieg nie! 21Na hierdie dinge het ek na die streke van Sirië en Kilikia gegaan 22en my gesig was onbekend by die gemeentes van Die Gesalfde Een in Y’hudah, 23maar hulle het slegs dit gehoor: hy wat hulle vroeër vervolg het, let op, verkondig nou die vertroue wat hy vroeër omver probeer werp het 24en hulle het God geloof en geprys vir my.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 13
Top of Page
Top of Page