Esra 8
Afrikaans PWL
1Hierdie is die name van die hoofde van die families en die geslagsregister van hulle wat saam met my opgegaan het vanaf Bavel onder die regering van Artag’shashta, die koning: 2van die seuns van Pingas: Gershom; van die seuns van Itamar: Dani’el; van die seuns van Dawid: Hattush, 3van die seuns van Sh’khanyah en die seuns van Par’osh: Z’kharyah en saam met hom is honderd en vyftig mans volgens nageslag gereken; 4van die seuns van Pagat-Mo’av: Ely’ho`einai, die seun van Z’ragyah en twee honderd mans saam met hom; 5van die seuns van Sh’khanyah: die seun van Yagazi’el en drie honderd mans saam met hom; 6van die seuns van `Adin: `Eved, die seun van Yonatan en vyftig mans saam met hom; 7van die seuns van `Eilam: Yesha’yahu, die seun van `Atalyah en sewentig mans saam met hom; 8van die seuns van Sh’fatyah: Z’vadyah, die seun van Mikha’el en tagtig mans saam met hom; 9van die seuns van Yo’av: `Ovadyah, die seun van Yegi’el en twee honderd en agttien mans saam met hom; 10van die seuns van Shlomit: die seun van Yosifyah en een honderd en sestig mans saam met hom; 11van die seuns van B’vai: Z’kharyah, die seun van B’vai en agt en twintig mans saam met hom; 12van die seuns van `Azgad: Yoganan, die seun van HaKatan en een honderd en tien mans saam met hom; 13van die laaste seuns van Adonikam wie se name is: Elifelet, Ye’i’el en Sh’ma’yah en sestig mans saam met hulle; 14van die seuns van Bigwai: `Utai en Zakur en sewentig mans saam met hulle.

15Ek het hulle bymekaar laat kom by die rivier wat na Ahawa loop en ons het drie dae daar gekamp en ek het gekyk na die volk en die priesters, maar geen van die seuns van Levi gekry nie; 16daarom het ek vir Eli’ezer, Ari’el, Sh’ma’yah, Elnatan, Yariv, Eliatan, Natan, Z’kharyah en Meshullam, die leiers en vir Yoyariv en Eliatan, manne met insig, geroep 17en hulle bevel gegee om na `Iddo, die hoof van die plek Kasifya, te gaan en ek het vir hulle gesê wat om vir `Iddo en vir sy broers, wat by Kasifya kamp, te sê, dat hulle vir ons bedienaars vir die huis van ons God moes bring. 18Omdat die goeie guns van ons God oor ons was, het hulle vir ons ’n man van insig gebring vanuit die nageslag van Magli, die seun van Levi, die seun van Yisra’el, Sherevyah met sy seuns en sy broers, twaalf 19en Hashavyah en saam met hom Yesha’yah, van die seuns van M’rari, sy broers en hulle seuns, twintig 20en ook van die manne wat Dawid aangestel het vir die diens van die Leviete (wat afgesonderd was), twee honderd en twintig en almal is by hulle name uitgeken.

21Toe het ek hulle geroep en ’n vastyd uitgeroep by die rivier Ahawa, om ons te verneder voor ons God, om ’n regte pad vir ons te vind en vir ons families en al ons goed, 22want ek was skaam om van die koning ’n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad omdat ons met die koning gepraat en gesê het: “Die hand van ons God is met almal wat Hom ten goede soek, maar Sy krag en Sy woede is oor almal wat Hom verlaat.” 23Ons het gevas en dit van ons God gevra en Hy het na ons geluister.

24Toe het ek twaalf van die oudstes van die priesters gekies: Sherevyah, Hashavyah en tien van hulle broers saam met hulle 25en vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, selfs die geskenke aan die huis van ons God, wat die koning, sy edeles, sy prinse en die hele Yisra’el daar teenwoordig, geskenk het. 26Ek het in hulle hand afgetel: een honderd en vyftig talente silwer en silwer voorwerpe van ’n honderd talente en voorwerpe van goud, een honderd talente, 27twintig goue bekers van duisend darieke (10kg) en mooi voorwerpe van Korinthe koper, kosbaar soos goud. 28Ek het vir hulle gesê: “Julle is afgesonder tot יהוה en ook die voorwerpe is afgesonder en die silwer en die goud is ’n vrywillige geskenk aan יהוה, die God van julle vaders. 29Wees versigtig en bewaak hulle totdat julle dit oorhandig in die teenwoordigheid van die leiers van die priesters, die Leviete en die leiers van die families van Yisra’el in Yerushalayim, in die kamers van die huis van יהוה.” 30Die priesters en die Leviete het dit op hulleself geneem om die silwer, die goud en die voorwerpe per gewig af te lewer en hulle na Yerushalayim, na die huis van ons God, te bring.

31Daarna het ons weggegaan van die rivier Ahawa af op die twaalfde dag van die eerste maand, om na Yerushalayim te gaan en die hand van ons God was op ons en Hy het ons bevry uit die hand van ons vyande en van hulle wat langs die pad lê en wag 32en ons het in Yerushalayim aangekom en drie dae daar gebly.

33Op die vierde dag het ons die silwer, die goud en die voorwerpe in die huis van ons God afgeweeg en dit oorhandig aan M’remot, die seun van Uriyah, die priester en saam met hom was El’azar, die seun van Pingas en by hulle Yozavad, die seun van Yeshua en No’adyah, die seun van Binui, die Leviete, 34volgens getal en gewig van alles en die gewig van alles is op daardie tyd opgeskryf.

35Dit is die nageslag van hulle wat gevange weggevoer is en van die gevangeskap teruggekeer het, wat brandoffers gebring het aan die God van Yisra’el: twaalf bulle vir die hele Yisra’el, ses en negentig ramme, sewe en sewentig lammers, twaalf bokramme as ’n sondoffer; dit alles was ’n brandoffer aan יהוה 36en hulle het die verordeninge van die koning aan die koning se prinse oorhandig en aan die goewerneurs wes van die Eufraat en hulle het respek betoon aan die volk en aan die huis van God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezra 7
Top of Page
Top of Page