Esra 4
Afrikaans PWL
1Toe die teëstanders van Y’hudah en Binyamin hoor dat die ballinge ’n tempel bou vir יהוה, die God van Yisra’el, 2het hulle na Z’rubavel en die hoofde van die vaders gekom en vir hulle gesê: “Laat ons ook saam met julle bou, want ons soek julle God net soos julle en ons het aan Hom geoffer vanaf die dae van Esar-Haddon, koning van Ashur, wat ons hierheen gebring het.” 3Z’rubavel, Yeshua en die ander hoofde van die vaders van Yisra’el het egter vir hulle gesê: “Julle het niks met ons te doen om vir ons God ’n huis te bou nie, want ons saam sal self vir יהוה, die God van Yisra’el ’n huis bou soos wat Koresh, koning van Perse, ons beveel het.”

4Toe het die ander nasies van die land die hande van die volk van Y’hudah verswak en hulle vreesbevange gemaak dat hulle nie kon bou nie 5en raadgewers teen hulle gehuur om hulle doel te frustreer al die dae van Koresh, koning van Perse, selfs tot by die regering van Daryavesh, koning van Perse.

6Aan die begin van die regering van Agashverosh, het hulle ’n aanklag geskryf teen die inwoners van Y’hudah en Yerushalayim

7en in die dae van Artag’shashtra het Bishlam, Mitr’dat, Tav’el en hulle bondgenote, aan Artag’shashtra, koning van Perse geskryf. Die brief is in Aramese skrif geskryf en in die Aramese taal vertaal.

8Regum, die kanselier en Shimshai, die skrywer, het ’n brief geskryf teen Yerushalayim aan Artag’shashtra, die koning, volgens die gewoonte. 9Toe skryf Regum, die kanselier en Shimshai, die skrywer en hulle bondgenote, die Dinaïete, die Afarsat’khiete, die Tarp’liete, die Afarsiete, die Ark’wiete, die Baveloniërs, die Shushan’khiete, die Dehayiete, die `Eilamiete 10en die ander nasies wat die groot en beroemde Osnappar weggevoer en in die stede van Shomron gevestig het en die ander wat aan hierdie kant van die Eufraat is, in daardie tyd. 11Hierdie is ’n afskrif van die brief wat hulle aan hom gestuur het, aan koning Artag’shashtra: “U diensknegte, die manne wes van die Eufraat, as volg: 12laat dit aan die koning bekend wees dat die Y’hudahiete wat van u af na ons opgetrek het, in Yerushalayim aangekom het en dat hulle die rebelse en bose stad bou. Die mure is voltooi en die fondasies gegrawe. 13Laat dit nou aan die koning bekend wees dat, as hierdie stad gebou en die mure voltooi is, u geen belasting, opbrengs of tol sal ontvang nie en u die inkomste van die konings in gevaar sal stel. 14Aangesien ons nou die sout van die paleis geëet het en dit ons nie pas om die oneer van die koning te aanskou nie, stuur ons en laat die koning weet 15dat die boek van die kronieke van u vaders gelees mag word en u sal vind in die boek van kronieke dat dié stad ’n rebelse stad is en skadelik vir konings en provinsies en dat van ouds af daarin groot stryd plaasgevind het; daarom is dié stad verwoes. 16Ons maak dit aan die koning bekend dat, as dié stad gebou en die mure voltooi word, u daardeur geen outoriteit sal hê wes van die Eufraat nie.”

17Toe het die koning ’n antwoord gestuur: “Aan Regum, die kanselier en Shimshai, die skrywer en hulle bondgenote wat in Shomron en in die ander gebied wes van die Eufraat bly: vrede, vreugde, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed. 18Toe die brief wat julle aan ons gestuur het, aangekom het, is dit duidelik voor my gelees. 19Ek het beveel en hulle het gesoek en gevind dat dié stad van ouds af hom teen konings verset en dat rebellie en oproer daarin verwek is. 20Daar was ook magtige konings oor Yerushalayim wat geheers het oor al die lande wes van die Eufraat en hulle het niks vir die antieke konings omgegee nie; 21daarom, maak nou ’n verordening wat die manne laat ophou sodat hierdie stad nie gebou mag word totdat ek ’n bevel gegee het nie. 22Gee aandag dat jy nie faal om dit te doen nie sodat die skade nie groter sal word tot skade van die konings nie.”

23Toe die afskrif van die brief vanaf Artag’shashtra, die koning, aan Regum, die kanselier, Shimshai, die skrywer en hulle bondgenote voorgelees is, het hulle haastig na Yerushalayim, teen die Y’hudahiete opgegaan en hulle met ’n sterk weermag laat ophou bou.

24Toe het die werk aan die huis van God, wat in Yerushalayim is, opgehou en dit is gestaak tot in die tweede jaar van die regering van Daryavesh, koning van Perse.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezra 3
Top of Page
Top of Page