Esegiël 41
Afrikaans PWL
1Toe het hy my na die hoofvertrek gebring en die sypilare gemeet: die breedte van die sypilare was ses el breed aan elke kant. 2Die breedte van die ingang: tien el en die symure van die ingang: vyf el aan elke kant; hy het die lengte van die hoofvertrek gemeet: veertig el en die breedte: twintig el. 3Toe het hy ingegaan en elke sypilaar van die ingang gemeet: twee el en die ingang: ses el hoog en die breedte van die ingang: sewe el. 4Hy het sy lengte gemeet: twintig el en die breedte: twintig el, voor die hoofvertrek en hy het vir my gesê: “Hierdie is die Mees Afgesonderde Plek.”

5Toe het hy die muur van die tempel gemeet: ses el en die breedte van die sykamers: vier el, reg rondom die huis aan elke kant. 6Die sykamers was in drie verdiepings, bo-op mekaar en dertig op elke verdieping en die sykamers het gereik tot by die muur aan hulle binnekant, reg rondom, om daaraan vas te wees en nie aan die muur van die tempel vas te wees nie. 7Die sykamers rondom die tempel was breër met elke volgende verdieping; omdat die struktuur wat die tempel omring in stappe opwaarts gegaan het aan alle kante van die tempel; daarom het die breedte van die tempel vermeerder soos dit hoër geword het en so het mens opgegaan vanaf die onderste na die boonste verdieping deur die tweede verdieping. 8Ek het ook gesien dat die huis ’n opgeligte platvorm reg rondom het en die sykamers was die volle meetstok van ses el geskei van mekaar. 9Die dikte van die buitemuur van die sykamers was vyf el, maar die oop ruimte tussen die sykamers wat aan die tempel behoort het 10en die buitenste kamers was twintig el breed, reg rondom die tempel aan elke kant. 11Die deuropeninge van die sykamers na die oop ruimte was een deur in die rigting van die noorde en ’n ander een in die rigting van die suide en die breedte van die oop ruimte: vyf el reg rondom.

12Die gebou wat voor die afsonderlike ruimte na die westekant toe lê, was sewentig el breed en die muur van die gebou was vyf el dik reg rondom en sy lengte negentig el.

13Toe het hy die tempel gemeet: een honderd el lank; die afsonderlike ruimte met die gebou en sy mure was ook ’n honderd el lank. 14Die breedte van die voorkant van die tempel en van die afsonderlike ruimtes na die ooste toe was ook ’n honderd el.

15Hy het die lengte van die gebou al langs die voorkant van die afsonderlike deel, agter dit, gemeet, met ’n galery aan elke kant: een honderd el; hy het ook die binneste hoofvertrek en die stoepe van die hof gemeet. 16Die drumpels, die tralievensters en die galerye rondom hulle drie verdiepings, oorkant die drumpel was van houtpanele reg rondom en vanaf die grond tot by die vensters, maar die vensters was bedek, 17bokant die ingang, tot in die binneste huis, aan die buitekant en op al die mure reg rondom, binnekant en buitekant, met vaste mate. 18Dit was uitgekerf met gérubs en palmbome en daar was ’n palmboom tussen gerub en gerub; elke gerub het twee gesigte gehad: 19die gesig van ’n mens na die palmboom toe aan een kant en die gesig van ’n jong leeu na die palmboom aan die ander kant; hulle is op die hele huis uitgekerf, reg rondom. 20Vanaf die grond tot bokant die ingang is gérubs en palmbome uitgekerf, sowel as aan die muur van die hoofvertrek.

21Die deurposte van die hoofvertrek was vierkantig en wat die voorkant van die Afgesonderde Plek betref, was die voorkoms van een deurpos soos die van die ander. 22Die altaar was van hout, drie el hoog en sy lengte was twee el; sy hoeke, sy voetstuk en sy sykante was van hout. Hy het vir my gesê: “Dit is die tafel wat voor die Teenwoordigheid van יהוה is.” 23Die hoofvertrek en die Afgesonderde Plek het elkeen ’n dubbeldeur gehad. 24Elkeen van die deure het twee panele gehad, twee swaaiende panele; twee panele vir die een deur en twee vir die ander. 25Daar was ook op die deure van die hoofvertrek gérubs en palmbome uitgekerf soos die wat op die mure uitgekerf is en daar was ’n drumpel van hout aan die voorkant van die stoep, buitekant. 26Daar was tralievensters en palmbome aan weerskante aan die symure van die stoep; so was die sykamers van die huis en die drumpels.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ezekiel 40
Top of Page
Top of Page